SUSPI stel nuwe handelsmerk bekend
Die belangrikheid van die Sportprestasie-instituut van die Universiteit Stellenbosch (SUSPI) in die verwesenliking tot die land se sportagenda is gisteraand (Dinsdag 31 Mei) beklemtoon tydens die bekendstelling van die instituut se nuwe handelsmerk.

Prof Paul Singh, Hoofdirekteur van Kliëntediens by Sport en Rekreasie Suid-Afrika (Foto: Anton Jordaan).
Prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, het die gaste by die formele dinee verwelkom en gesê: “SUSPI is ‘n opgaardam van sportkundigheid en bied wêreldgehalte fasiliteite aan top-atlete. SUSPI is ‘n goeie voorbeeld van die Universiteit se wetenskap-vir-die-gemeenskap-benadering. Dit bied ons die geleentheid om spesialis-kennis wat deur toonaangewende navorsing in die sportwetenskap gegenereer word, toe te pas.”
Me Gugu Ntuli, Uitvoerende Hoof van SUSPI, het in haar toespraak ‘n prentjie geskets van die sportlandskap in Suid-Afrika in die jaar 2041. In dié ideale wêreld het alle gemeenskappe en skole goed toegeruste fasiliteite, is daar genoegsame afrigters en ondersteuning asook goed ontwikkelde sportprogramme vir atlete en is Suid-Afrika op die voorpunt van gestremde sport. Vroue se deelname aan sport het ‘n hoogtepunt bereik en vroue is al meer betrokke in die bestuur van sport.
“Hierdie is nie ‘n fantasie nie. Dit mag onbereikbaar klink, maar ons is ‘n jong maatskappy en sien uit na hierdie uitdaging. Ons glo ons is nou gereed om ʼn selfs groter bydrae tot Suid-Afrikaanse sport in sy geheel te lewer. Maar ons kan dit nie alleen doen nie – ons het vennote in die regering, privaatsektor, gemeenskap en sportfederasies – enigiemand wat glo in die kragtige invloed van sport – nodig.
“Tot dusver het ons met ʼn wye verskeidenheid nasionale atlete en spanne saamgewerk, onder meer die Springbok-sewesrugbyspan, die nasionale vrouesokkerspan en van ons land se toppresteerders in sport vir gestremdes. Tog dink ons die tyd het aangebreek om hierdie invloedsfeer uit te brei om ook bykomende aspekte van nasionale belang, soos die aanmoediging van transformasie, vermoëbou en maatskaplike samehang, in te sluit,” sê sy.
ʼn Sleutelprogram waardeur van hierdie aspekte reeds aandag ontvang, is die Jeugsportinisiatief – ʼn program wat deur SUSPI bestuur word en deel uitmaak van die Universiteit Stellenbosch se oorkoepelende HOOP Projek. Die HOOP Projek skep volhoubare oplossings vir van Suid-Afrika en Afrika se grootste uitdagings. Die Jeugsportinisiatief wentel om sokker: Die projek bestaan uit ʼn pas voltooide sokkersentrum, ʼn naskoolse program sowel as ʼn voorgestelde sokkerakademie. Die hoofdoel van die projek is om die fisiese, akademiese en sielkundige welstand van jongmense in die streek, veral diegene uit benadeelde gemeenskappe, te probeer verseker.
Prof Paul Singh, Hoofdirekteur van Kliëntediens by Sport en Rekreasie Suid-Afrika, het die Universiteit geluk gewens met die Jeugsportinisiatief, die voorbereiding van nasionale sport spanne waaronder die Springbok-sewesrugbyspan, die afrigting en kundigheid op die gebied van gestremde sport en die ondersteuning aan opkomende sportsterre soos die swemmer Heerden Herman.
“Die belangrikheid van die wetenskap in sport kan nie genoeg beklemtoon word nie,” het hy voortgegaan. “Die ultra-kompeterende sport arena word gedryf deur die wetenskap en tegnologie. Vir Suid-Afrika om kompeterend te bly is dit nodig om ons prestasies deur die wetenskap te verbeter. Daarom het hierdie instituut ‘n kritiese rol om te speel in die verwesenliking van Suid-Afrika se sportdoelwitte.”
Prof Julian Smith, die US se Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, wat ook verantwoordelik is vir sport het die aand se verrigtinge afgesluit en gesê: “Sport is ʼn strategiese prioriteit aan die US, en SUSPI het ongetwyfeld ʼn groot rol te speel in die strewe na van ons belangrikste institusionele oogmerke. Ons beskou die Universiteit in die algemeen en spesifiek sport as ‘n groot bate vir die dorp wat ‘n groot bydra kan maak tot volhoubaarheid. Ons is vol vertroue dat SUSPI, met behulp van die US se sportkennis en -infrastruktuur, goed geplaas is om die nuwe visie vir sport in die land te ondersteun – nie net wat ontwikkeling betref nie, maar ook wêreldwye mededingendheid.”

June 1, 2011 
Thank you for the suggestion regarding the memberships forms. We have added PDF versions on the Gymnasium home page under the “Membership” heading. Simply visit http://www.suspi.co.za and click on “Gymnasium”
Best regards,
Gustav Venter
SUSPI Marketing Manager
I love your new website. I however would like it if you could put your gym application form on the web to download, instead of having to come into the gym to complete the form. It’s always rush hour at the gym. thank you But great job with the website, it looks more corporate