Fokus kernfunksie op die demokratiseringsproses sê Rektor by Talloires Konferensie

Deur die kern- akademiese funksies – navorsing; onderrig en leer; en gemeenskapsinteraksie – te fokus op die uitdagings geassosieer met die proses van demokratisering, kan instellings van hoëronderwys die hoop van ‘n beter lewe vir almal bied.

Visekanseliers

Suid-Arikaanse Visekanseliers. Prof Derrick Swartz (Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit), Dr Theuns Eloff (Noordwes-Universiteit), Prof Cheryl de la Rey (Universiteit van Pretoria) en Prof Russel Botman (Universiteit Stellenbosch) by die Talloires Network Leaders Conference.

Dít was die boodskap van prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), by die 2011 Tailloires Konferensie (Talloires Network Leaders Conference) wat by die Outonome Universiteit Madrid (Autonomous University of Madrid), in Madrid, Spanje plaasgevind het. Prof Botman was ’n spreker by een van die hoof subtemas waar hy gepraat het oor die rol van universiteite in tye van politieke oorgang, veral binne die konteks van demokratisering met spesifieke verwysing na die US (Prof Botman se toespraak).

Afgevaardigdes van 230 lande regoor die wêreld het die konferensie met die tema Building the Engaged University, moving beyond the Ivory Tower bygewoon (vorige berig). Visekanseliers en afdelingshoofde van gemeenskapsinteraksie aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite het die konferensie bygewoon.

Prof Botman het in sy toespraak gesê dat demokratisering “belangrike uitdagings aan die gemeenskap stel”, op beide makrovlak en op die vlak van spesifieke take wat verrig moet word. “Universiteite is goed geposisioneer om in beide gevalle ʼn bydrae te lewer. Enersyds moet die onderdrukkende sisteem van die verlede en sy nalatenskap afgebreek en met nuwe waardes vervang word, wat ook insluit die poging om die maatskaplike struktuur te herstel. Andersyds moet ʼn ernstige verbintenis tot demokrasie en menseregte gekweek word, en ontwikkelingsbehoeftes moet aandag geniet,” het hy gesê.

Prof Botman het ook gesê universiteite is in ʼn gunstige posisie om te help met die uitdagings van oorgang. “Hulle kan ʼn ernstige verbintenis tot demokrasie en menseregte kweek by hul personeel, studente, vennote en lede van die publiek met wie hulle op ʼn deurlopende basis skakel. Sodoende kan hulle mense ontwikkel wat sal opstaan vir geregtigheid en waarheid in die gemeenskap. Hierdie rol sal op makrovlak tot uiting kom. Universiteite kan ook fokus op die spesifieke ontwikkelingsbehoeftes van die gemeenskap. Hulle kan betrokke raak by aktiwiteite wat dienslewering aan die armstes van die armes in die gemeenskap sal verseker.”

Met verwysing na die US, het prof Botman gesê die instelling se Strategiese Raamwerk vir die Eeuwisseling en Daarna, ʼn belangrike beleidsdokument, het ʼn nuwe rigting aangedui waarin “die universiteit sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede erken … en hom verbind tot gepaste regstelling en ontwikkelingsinsiatiewe”.

“Met my aanstelling as rektor en visekanselier in Desember 2006, het ek my termyn verbind tot die tasbare verwesenliking van dié verbintenis. In my inhuldingingsrede het ek aangetoon dat die universiteit die uitdaging van ‘relevansie’ die hoef moet bied. Ons sal ʼn manier moet vind om van ‘sukses’ na ‘betekenisvolheid’ te beweeg. Ek het voorgestel dat ons by Stellenbosch ʼn ‘pedagogie van hoop’ volg. Dit was my oortuiging dat indien ons ons werk by die universiteit met hierdie tipe hoop vul, ons nie net op ‘betekenisvolle wyse sou breek’ met die verlede nie, maar ‘betekenisvol beter’ sou wees met betrekking tot die toekoms – in terme van ons uitnemendheid en verbintenis tot die mense van ons land en die vasteland.”

Prof Botman het vertel hoe hy en kollegas vyf temas van Verenigde Nasies se Millennium Ontwikkelingsdoelwitte uitgelig het – die bekamping  van endemiese armoede en verwante toestande; bevordering van menswaardigheid en gesondheid; verstewiging van demokrasie en menseregte; versterking van vrede en sekuriteit; en die handhawing van ʼn balans tussen ʼn volhoubare omgewing en ʼn kompeterende nywerheid.

“Die volgende stap was om akademiese -en steunpersoneel by hierdie temas te betrek. Die universiteitsgemeenskap het met entoesiasme gereageer, en voorstelle gebaseer op bestaande kundigheid en programme het ingestroom. ʼn Komitee het dit deurgegaan, en teen 2008 het ons ʼn stewige stel van 21 strategiese inisiatiewe gehad. Die lys het intussen gegroei; ons het nou omtrent 30 inisiatiewe as deel van die HOOP Projek wat amptelik op 21 Julie 2010 bekendgestel is.

Wat gemeenskapsinteraksie betref, het prof Botman gesê die proses om gemeenskapsdiens aan die US in gemeenskapsinteraksie te omskep en saam met navorsing sowel as onderrig en leer, tot ʼn kern akademiese funksie van die instelling uit te brei, het reeds in 2003 begin.

Gemeenskapsinteraksie bestaan om vennootskappe met gemeenskappe te kweek en te bestuur. Dit vergemaklik samewerking tussen gemeenskappe en die universiteit. Dit bied ook die middele vir beide partye om aktief en in vennootskap kennis te ontsluit en by mekaar te leer. Gemeenskapsinteraksie help ʼn milieu skep waarin studente verryk word en die relevansie van navorsing beklemtoon word. Dit ondersteun die US se institusionele verbintenis tot wederkerigheid, regstelling, ontwikkeling en transformasie.”

Prof Botman het gesê die US word gereken as voorloper op die gebied van samelewings-interaksie op grond van die mate waartoe gemeenskapsinteraksie geïnstitusionaliseer is. “Dit vorm ʼn integrale deel van beheerstrukture, begrotings, akademiese werk en studente inisiatiewe aan die universiteit.”

Prof Botman het ter afsluiting gesê dat wat die Universiteit Stellenbosch met sy HOOP Projek reggekry het “was om gemeenskapsinteraksie ten volle deel te maak van sy hoëronderwys-mandaat om kennis te produseer, te deel en tot voordeel van die gemeenskap aan te wend. Deur dit in samewerking met vennote uit die gemeenskap te doen, is die klem verskuif van ʼn liefdadigheidstipe gemeenskapsdiens na ʼn samewerkende soeke na antwoorde en oplossings vir die uitdagings van die lewe.”

 

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*