US-personeel aangemoedig om uit te reik

Wil jy graag ‘n verskil maak?  Wel, hier is jou kans. Menslike Hulpbronne Welwees in samewerking met die Afdeling vir Gemeenskapsinteraksie daag jou uit om betrokke te raak by die nuwe Werknemer-vrywilligersprogram – en jy kan begin deur jou deel te doen op 18 Julie (Mandela Dag).

Die doel van die Werknemer-vrywilligersprogram is om personeel die geleentheid te gee om betrokke te raak by aktiwiteite wat sosiale verantwoordelikheid binne gemeenskappe bevorder.

“Ons wil graag ‘n gevoel van welsyn aanwakker waardeur individue betrokke kan raak by een van die kernfunksies van die Universiteit – naamlik gemeenskapsinteraksie – deur vaardighede, kennis en kundigheid binne gemeenskappe te deel,” sê me Maureen Kennedy, Hoof: Personeel Welwees.

“Ons streef daarna om ‘n ‘Team Stellenbosch’ op die been te bring, wat dui op ‘n personeelkorps wat voortdurend deel voel van die kernbesigheid van die Universiteit Stellenbosch (US). Deur die proses van vrywillige diens sal personeel die geleentheid gegun word om hul deel by te dra om die doel te bereik. Een van die belangrikste doelwitte vir 2011 in die konteks van vrywillige diens is dat ie departemente, fakulteite en individue deelneem aan ‘n bepaalde vrywilliger-aktiwiteit op 18 Julie (Mandela Dag),” sê sy.

Mandela Dag is ‘n dag ter ere van Nelson Mandela en sy waardes deur  vrywillige en gemeenskapsdiens te verrig. Mense regoor die wêreld word gevra om verantwoordelikheid te neem om die wêreld ‘n beter plek te maak deur net 67 minute van hulle tyd af te staan om diegene wat minderbevoorreg is te help. Sewe-en-sestig minute is ‘n simboliese getal, vir die aantal jare wat die voormalige president geveg het vir maatskaplike geregtigheid.

Volgens dr Jerome Slamat, Senior Direkteur: Gemeenskapsinteraksie, kan ons eie lewe verryk word wanneer ons tyd en hulpbronne aan ander gee. “Gemeenskappe sal baat wanneer US-personeel as vrywilligers gaan hand bysit. Maar daar is ook voordeel vir onsself in die ontmoeting met die ‘ander’ buite die universiteit. Blootstelling aan ander leefwêrelde (dikwels binne enkele kilometres van ons eie en buite ons gemaksone). Ons personeel kry ook die geleentheid om op konkrete en persoonlike wyse ‘n ambassadeur van hoop te wees en om by te dra tot nasiebou. Deur te help om hoop te bou en daardeur te help om sin te gee aan ander se lewens, kry ons eie lewens ook sin en perspektief.”

Personeellede is welkom om projekte in hul eie gemeenskappe of ander te identifiseer vir Mandela Dag. Vir die wat onseker is oor waar om hul dienste aan te bied, sal Gemeenskapsinteraksie eersdaags, in samewerking met Welwees, ‘n lys van organisasies verskaf waar hulle kan aanmeld.

  • Hou ‘n ogie op die nuusblaaie vir meer inligting.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*