US vra dat Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting onttrek word

Universiteite gaan hul akademiese vryheid inboet en akademici kan weens senstiewe navorsing vervolg word. Daarom vra die Universiteit Stellenbosch (US) dat die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, 2009 onttrek en grondiglik hersien moet word,” sê prof Arnold van Zyl, waarnemende Rektor en Viserektor: Navorsing van die US.

Die Universiteit Stellenbosch het sy hernieude kommer oor die impak van die Wetsontwerp op veral navorsing en onderrig aan Suid-Afrikaanse universiteite uitgespreek na prof Jane Duncan van Rhodes-universiteit in Grahamstad se berig in University World News (21 Junie 2011)*.

“Ons stem saam met prof Duncan dat die Wetsontwerp die grootste enkele bedreiging vir akademiese vryheid sedert 1994 inhou. Die voltooide doktorale studie waarna sy in haar artikel verwys, sal hoogs waarskynlik nie in die toekoms moontlik wees indien die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting deur die Parliament goedgekeur word nie,” sê prof Van Zyl.   

Prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die US en die Senaat het in September 2010 ook reeds hul stem gevoeg by teenstanders van dié Wetsontwerp. “Die regering stel voor dat sekere inligting van die gemeenskap weerhou word. Die dag wat ons dit weer toelaat, sal ons op die verkeerde pad wees. As universiteit wil ons kennis najaag, toepas en deel. Alle kennis moet toeganklik wees – nie soseer om die media te help nie, maar omdat dit gaan oor die gemeenskap vir wie hierdie kennis nuttig kan wees,” het prof Botman gesê

Die Senaat van die US het in die September-verklaring gesê die wetsontwerp “raak die belange en verantwoordelikhede van die Universiteit direk” en is “onaanvaar baar”, onder meer weens die “potensiële inbreuk op akademiese vryheid”. Ingevolge die voorgestelde wetgewing sou navorsers toegang geweier kon word tot “sensitiewe” inligting oor byvoorbeeld korrupsie, onbevoegdheid en wanadministrasie, en sou universiteite self sekere inligting van die publiek kon weerhou. Dít maak inbreuk op die “vrye vloei van inligting” wat “van fundamentele belang is vir enige demokratiese samelewing”.

Die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, 2009 stel ‘n statutêre raamwerk in die vooruitsig ten einde inligting in die besit van of wat gegenereer word deur staatsorgane te beskerm teen vernietiging, verlies en openbaarmaking. Met die oog hierop magtig die voorskrifte van die wetsontwerp enige hoof van ‘n staatsorgaan, of ‘n ondergeskikte aan wie hy of sy hierdie bevoegdheid delegeer, om inligting as vertroulik, geheim of hoogs geheim te klassifiseer ooreenkomstig riglyne neergelê in artikel 17 van die ontwerp. Ten gevolge hiervan sal toegang tot en die publikasie van sodanige inligting verbied word tensy die inligting ingevolge neergelegde voorskrifte gedeklassifiseer word. Nie-nakoming van die voorskrifte word met streng en rigiede strafsanksies, behelsende tronkstraf sonder die keuse van ‘n boete, bestraf.

Hierdie voorskrifte is in die algemeen onaanvaarbaar, onder meer omrede:

  • Dit ‘n beperking op die toegang tot inligting en die vrye vloei daarvan, wat eie is aan en van fundamentele belang is vir enige demokratiese samelewing, plaas;
  • Dit ‘n wesenlike risiko inhou dat regeringslui en staatsamptenare die voorgestelde statutêre meganismes misbruik ten einde die blootlegging van onbevoegdheid, ondoeltreffendheid, wanadministrasie en –besteding, korrupsie en ander onreëlmatige praktyke te voorkom;
  • Die waghondfunksie van die media, organisasies van die burgerlike samelewing en “whistleblowing” drasties aan bande gelê word;
  • Die strengheid en onbuigsaamheid van die voorgestelde strafsankies nie noodwendig proporsioneel is tot die belange wat gedien word deur die klassifikasie van inligting nie.

Dit is te meer die geval as gevolg van die vaagheid van sommige van die wetsontwerp se sleutelbegrippe (vgl die omskrywing van die “nasionale belang” in artikel 11 en van “kommersiële inligting” in artikel 12) en die mate waarna die toepassing van die klassifikasieriglyne afhanklik is van die subjektiewe oordeel van die betrokkenes (vgl art 14). Die poging om misbruik van die klassifikasieproses te voorkom deur middel van die riglyne vervat in artikel 17 is problematies vir sover die aanwending daarvan juis toegang tot die omstrede inligting veronderstel.

Omdat openbare inrigtings vir hoër onderwys ingevolge die wetsontwerp waarskynlik as staatsorgane sal deurgaan, kom die belange van universiteite direk in die gedrang. As hoof van ‘n staatsorgaan sou ‘n rektor, of sy of haar gedelegeerde, byvoorbeeld navorsingsresultate op grond van die kommersiële waarde daarvan aan bande kon lê sonder dat die beperkinge waaraan bestaande maatreëls om byvoorbeeld ‘n tesis as “sensitief” te behandel, in die spel kom. Rekening moet ook daarmee gehou word dat bronne wat noodsaaklik mag wees vir navorsingsondersoeke, byvoorbeeld aangaande korrupsie in verband met staatsverkrygingsprosesse, of aangaande die bronnemateriaal wat die grondslag gevorm het van ‘n beleidsdokument, deur middel van die klassifikasieproses van die openbare oog onttrek kan word. Daar was inderdaad reeds gevalle waar dit ‘n hofaansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, 2 van 2000, geverg het om vir navorsingsoogmerke inligting vanaf staatsorgane te verkry. Ten spyte van artikel 17(1)(j) se voorskrif dat wetenskaplike en navorsingsinligting wat nie onomwonde (“clearly”) met nasionale veiligheid en die nasionale belang verband hou nie geklassifiseer mag word nie, kan ‘n potensiële inbreuk op akademiese vryheid nie ontken word nie.

Die voorgestelde wetgewing maak in ieder geval onteenseglik en ingrypend inbreuk op verskeie van die fundamentele regte vervat in die Handves van Regte van die Grondwet, Wet 108 van 1996. Dit is by uitstek die geval met die reg op toegang tot inligting (artikel 32). Die oormatige beperking van toegang tot inligting het ook ‘n negatiewe impak op prosedures gemik op openbare deelname aan regeringsbesluite soos byvoorbeeld gewaarborg in die vereiste van prosedurele billikheid in artikel 33 van die Grondwet. Vir sover die klassifikasie van inligting ook die disseminasie daarvan verbied kom die reg tot vrye meningsuiting van art 16, veral ook vir sover dit die vryheid van die pers aangaan, in die gedrang.

Uiteraard geld fundamentele regte nie absoluut en sonder kwalifikasie nie. Ingevolge artikel 36 van die Grondwet kan fundamentele regte slegs kragtens ‘n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word. Die kwalifikasie van sodanige regte deur die uitoefening van die breë diskresionêre bevoegdhede wat die Wetsontwerp aan administratiewe funksionarisse sal verleen is derhalwe strydig met artikel 36 van die Grondwet en die regstaatsbeginsel (“rule of law”).

Alhoewel daar uiteraard ‘n plek vir die beskerming van sekere inligting is, is die vraag na die balans tussen toegang en beperking. Dit is presies in hierdie opsig dat die wetsontwerp ernstig tekort skiet vir sover dit toelaat dat die fundamentele regte beperk word met verwysing na vae en diskresionêre riglyne. Dit is dus veral oor die uiters wye omvang van die voorgestelde beperkingsregime wat kommer bestaan. Vervreemdend is ook dat baie van die kwessies wat die wetsontwerp probeer aanspreek alreeds voldoende gereguleer word deur die prosedures onder die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, 2 van 2000, wat duidelike prosedures uiteensit vir versoeke om inligting en gronde vir die afwys daarvan.

3 Reaksies op “US vra dat Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting onttrek word”

  1. Buite die konteks van die universiteitswese moet mens die vraag afvra waarom daar (buiten die onlangse kommer uitgespreek deur die ou Pick-’n Pay baas Raymond Ackerman)so ‘n dawerende stilte hieroor vanuit die sake sektor is. Dis tog die een sektor wat waarskynlik wesenlik druk kan uitoefen.

  2. Trudie Blanckenberg June 22, 2011 om 15:53

    Bostaande(laat)verklaring word verwelkom. Die universiteit se onlangse donderende stilte oor hierdie aangeleentheid was juis kommerwekkend, in ag genome die uiters negatiewe uitwerking wat die aanvaarding van die wetsontwerp in die huidige vorm sal hê.

TrackbacksPingbacks

  1. Bill on the Protection of Information: SU welcomes proposed changes | News - June 24, 2011

    [...] Article: SU: Protection of Information Bill should be withdrawn Corporate & Alumni, General, Press Releases, Staff Bill on the Protection of Information, [...]

Lewer kommentaar

*