Besoekende professoraat in Nederland vir Paul Cilliers
Prof Paul Cilliers, hoogleraar in kompleksiteit en filosofie aan die Universiteit Stellenbosch (US), is as Uitgelese Besoekende Professor in die Nagraadse Skool van die Universiteit vir Humanistiek (UvH) in Utrecht, Nederland, aangestel.

Prof Paul Cilliers.
Luidens ʼn skrywe van die UvH val dié eer hom te beurt op grond van sy “uitstaande wetenskaplike werk op die gebied van kritiese kompleksiteitsdenke” en die internasionale erkenning wat sy wetenskaplike bydraes geniet.
“Ek is trots daarop,” het Cilliers oor die nuus gesê. “Die UvH probeer lankal op kreatiewe manier bande smee tussen die natuur- en geesteswetenskappe. My werk oor komplekse stelsels het ʼn natuurlike tuiste daar gevind. Hulle gebruik dit al vir meer as ʼn dekade in veral hul nagraadse programme.”
Cilliers het al sy akademiese kwalifikasies – ʼn B Ing in Elektroniese Ingenieurswese, ʼn BA Hons in Politieke Filosofie, en ʼn MA en DPhil in Filosofie – aan die US verwerf. In 2006 was hy die ontvanger van die Harry Oppenheimer Genootskap-toekenning, in 2008 het hy ʼn A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting verwerf, en verlede jaar is hy verkies tot ʼn genoot van die Royal Society van Suid-Afrika.
Hy en prof Jannie Hofmeyr van die Departement Biochemie is mede-projekleiers van die US se Sentrum vir Studies in Kompleksiteit. Dié interdissiplinêre inisiatief maak deel uit van die Universiteit se HOOP Projek, ʼn kampuswye program waarmee die instelling vername uitdagings in die samelewing takel.
Die Sentrum gee wetenskaplikes en navorsers die geleentheid om oor dissiplinêre grense heen aan kompleksiteitskwessies te werk. Dit dien as platform vir nadenke oor die idee van kompleksiteit, en transdissiplinêre dialoogvoering oor die implikasies van kompleksiteit vir verskillende vakgebiede.
Cilliers se aanstelling geld vir vier jaar, en hy beoog om in dié tydperk ad hoc klas te gee en werkswinkels aan te bied. In 2008 het hy na aanleiding van die Oppenheimer-prys ʼn jaar lank by die UvH deurgebring.
“My Nederlands is maar swakkerig, maar ek het ʼn manier om my verstaanbaar te maak in Nederlands, en kom goed klaar. Lesings en tegniese gesprekke vind egter liefs in Engels plaas,” het hy gesê.
Sy soortgelyke vorige aanstellings sluit in navorsingsprofessor aan die Institute for Studies in Complexity and Emergence in Boston, VSA, en besoekende professor aan die Institut für Philosophie aan die Philipps Universiteit van Marburg, Duitsland.
Cilliers is die skrywer van Complexity and Postmodernism. Understanding complex systems (1998, Routledge), en saam met me Rika Preiser redakteur van Complexity, Difference, Identity. An ethical perspective (2010, Springer).

July 4, 2011 
TrackbacksPingbacks
[...] was recently appointed as Distinguished Visiting Professor in the Graduate School of UvH – bestowed on him, [...]