SIB student ontvang prys vir werk oor malariavektore en klimaatsveranderings

Me Candice-Lee Lyons met ʼn versameling muskietlarwes in een van die laboratoriums van die Sentrum vir Indringerbiologie. Foto: Engela Duvenage
Me Candice-Lee Lyons, ʼn doktorale student in Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Indringerbiologie (SIB), het die prys vir die beste studenteaanbieding by die onlangse konferensie van die Dierkundige Vereniging van Suider-Afrika (ZSSA) op Stellenbosch gewen vir haar praatjie oor die moontlike impak van klimaatsverandering op twee muskietspesies wat bekend is daarvoor dat hulle malaria oordra.
Met haar studie beoog sy om ʼn insig te kry in die basiese omgewingsfisiologie van twee van die algemeenste Suider-Afrikaanse malariavektore, Anopheles arabiensis en Anopheles funestus, om te bepaal of hulle snelle temperatuur- en reënvalveranderinge kan oorleef. Me Lyons gebruik die data wat sy in die laboratorium en in die veld insamel om vas te stel presies wat in die toekoms van die malariavektore verwag kan word namate die klimaat verander.
Sy het die afgelope paar maande in Johannesburg by die Eenheid vir Vektorbeheerverwysing, ʼn afdeling van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, deurgebring om die nodige laboratoriumwerk te doen, en het ook na Mosambiek gereis om muskietmonsters in die natuur in te samel. Terug op Stellenbosch onderneem sy tans rekenaargegronde modellering van die huidige en geraamde toekomstige verspreiding van die twee spesies.
“Ek het byvoorbeeld gemeet by watter temperatuuruiterstes die muskiete steeds aktief was en hoe hulle op uithongering en ontwatering reageer,” verduidelik me Lyons, wat veral van die toegepaste aard van haar studie hou. Hoewel slegs muskietwyfies as malariavektore bekend is, het sy ook muskietmannetjies by haar studie ingesluit.
Sy reken dit is steeds onduidelik wat die uitkoms sal wees van wisselwerking tussen voortgesette menslike intervensies om sowel malaria as klimaatsverandering teen te werk. “Tog dui sommige voorspellings daarop dat ʼn veranderende klimaat, sonder enige intervensie, die aantal malariagevalle in Suider-Afrika sal verhoog,” sê me Lyons, wat oor ʼn agtergrond in herstel-ekologie en mariene biologie beskik.
Haar studie maak deel uit van die HOOP Projek-navorsing deur die DWT-NNS Sentrum vir Indringerbiologie (SIB) aan die US om die moontlike impak van klimaatsverandering en weerpatrone op die verspreiding van belangrike spesies te bepaal. Dié spesies sluit ook die tsetsevlieg, die draer van nagana en slaapsiekte, in. US-wetenskaplikes werk boonop aan ʼn belangrike biologiese beheermiddel vir die Kariba-watervaring (“Kariba weed”) in samewerking met die Suid-Afrikaanse Suikerrietnavorsingsinstituut.
“Die SIB het die impak van klimaatsverandering op kernspesies ʼn belangrike fokuspunt van sy werk gemaak, omdat sodanige verandering beduidende ekologiese en ekonomiese gevolge sal hê,” sê SIB-direkteur prof Steven Chown. “Verandering in die klimaat sowel as grondgebruik impliseer verandering in die toekoms van onder meer tropiese siektes soos slaapsiekte en malaria in Afrika.”
“Die impak van Afrika-klimaatsverandering op die voorkoms van malaria is ʼn beduidende en omstrede kwessie,” sê prof Chown, wat saam met prof Maureen Coetzee van MERU, die Universiteit van die Witwatersrand se navorsingseenheid vir malaria-entomologie, en dr John Terblanche van die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie as me Lyon se studieleier optree. “Onder andere is die siekte vermoedelik verantwoordelik vir sowat ʼn miljoen kindersterftes per jaar op die vasteland.”
“Hierdie vraagstukke is belangrik vir menslike gesondheid en ontwikkeling in die streek. Antwoorde daarop sal tot die HOOP Projek se doelwit bydra om mense se bestaan in die streek volhoubaar te verbeter,” sê prof Chown.
Me Candice-Lee Lyons, ʼn doktorale student in Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die prys vir die beste studenteaanbieding by die onlangse konferensie van die Dierkundige Vereniging van Suider-Afrika (ZSSA) op Stellenbosch gewen vir haar praatjie oor die moontlike impak van klimaatsverandering op twee muskietspesies wat bekend is daarvoor dat hulle malaria oordra.
Met haar studie beoog sy om ʼn insig te kry in die basiese omgewingsfisiologie van twee van die algemeenste Suider-Afrikaanse malariavektore, Anopheles arabiensis en Anopheles funestus, om te bepaal of hulle snelle temperatuur- en reënvalveranderinge kan oorleef. Me Lyons gebruik die data wat sy in die laboratorium en in die veld insamel om vas te stel presies wat in die toekoms van die malariavektore verwag kan word namate die klimaat verander.
Sy het die afgelope paar maande in Johannesburg by die Eenheid vir Vektorbeheerverwysing, ʼn afdeling van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, deurgebring om die nodige laboratoriumwerk te doen, en het ook na Mosambiek gereis om muskietmonsters in die natuur in te samel. Terug op Stellenbosch onderneem sy tans rekenaargegronde modellering van die huidige en geraamde toekomstige verspreiding van die twee spesies.
“Ek het byvoorbeeld gemeet by watter temperatuuruiterstes die muskiete steeds aktief was en hoe hulle op uithongering en ontwatering reageer,” verduidelik me Lyons, wat veral van die toegepaste aard van haar studie hou. Hoewel slegs muskietwyfies as malariavektore bekend is, het sy ook muskietmannetjies by haar studie ingesluit.
Sy reken dit is steeds onduidelik wat die uitkoms sal wees van wisselwerking tussen voortgesette menslike intervensies om sowel malaria as klimaatsverandering teen te werk. “Tog dui sommige voorspellings daarop dat ʼn veranderende klimaat, sonder enige intervensie, die aantal malariagevalle in Suider-Afrika sal verhoog,” sê me Lyons, wat oor ʼn agtergrond in herstel-ekologie en mariene biologie beskik.
Haar studie maak deel uit van die HOOP Projek-navorsing deur die DWT-NNS Sentrum vir Indringerbiologie (SIB) aan die US om die moontlike impak van klimaatsverandering en weerpatrone op die verspreiding van belangrike spesies te bepaal. Dié spesies sluit ook die tsetsevlieg, die draer van nagana en slaapsiekte, in. US-wetenskaplikes werk boonop aan ʼn belangrike biologiese beheermiddel vir die Kariba-watervaring (“Kariba weed”) in samewerking met die Suid-Afrikaanse Suikerrietnavorsingsinstituut.
“Die SIB het die impak van klimaatsverandering op kernspesies ʼn belangrike fokuspunt van sy werk gemaak, omdat sodanige verandering beduidende ekologiese en ekonomiese gevolge sal hê,” sê SIB-direkteur prof Steven Chown. “Verandering in die klimaat sowel as grondgebruik impliseer verandering in die toekoms van onder meer tropiese siektes soos slaapsiekte en malaria in Afrika.”
“Die impak van Afrika-klimaatsverandering op die voorkoms van malaria is ʼn beduidende en omstrede kwessie,” sê prof Chown, wat saam met prof Maureen Coetzee van MERU, die Universiteit van die Witwatersrand se navorsingseenheid vir malaria-entomologie, en dr John Terblanche van die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie as me Lyon se studieleier optree. “Onder andere is die siekte vermoedelik verantwoordelik vir sowat ʼn miljoen kindersterftes per jaar op die vasteland.”
“Hierdie vraagstukke is belangrik vir menslike gesondheid en ontwikkeling in die streek. Antwoorde daarop sal tot die HOOP Projek se doelwit bydra om mense se bestaan in die streek volhoubaar te verbeter,” sê prof Chown.

July 25, 2011 
Geen kommentaar tot op hede nie...