US bring hoëvlak wetenskap na hoërskool leerders
Die Universiteit Stellenbosch bied Donderdag 28 Julie vir die tweede keer sy jaarlikse High Science Meets High School Learners-geleentheid aan.
Dié interaktiewe sessie is daarop gemik om leerders te inspireer om ’n loopbaan in navorsing en wetenskap te oorweeg. Prof Cornie Scheffer, ’n biomediese ingenieur, sal die leerders aan die opwindende wêreld van biomediese ingenieurswese bekendstel. Die aanbieding sal onder meer ’n grafiese voorstelling van ’n persoon se bewegings wat digitaal op ’n skerm geprojekteer word, insluit – alles danksy ’n spesiale pak met klein bewegingsensors, wat die persoon by die geleentheid sal dra. Prof Scheffer sal die leerders ’n oorsig gee van die meganika betrokke by die werking van hierdie sensors en waarvoor hulle aangewend kan word. Leerders sal ook sien hoe basiese wetenskap prakties ingespan word in tegnologie wat gebruik word om nuwe produkte en prosesse te ontwikkel.
Prof Scheffer is Hoof van die Biomediese Ingenieurs Navorsingsgroep (BERG) by die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese. Hy is ook die Direkteur van die Instituut vir Termodinamika en Meganika. Sy navorsing is gefokus op biomediese ingenieurswese wat konsepte uit ingenieurswese gebruik om gesondheidsverwante probleme op te los.
“Ons hoop om nuuskierigheid by van die mees belowende leerders van plaaslike skole aan te wakker. Hopelik sal dit hierdie ontluikende jong wetenskaplikes inspireer om ’n loopbaan in die wetenskap te volg en die volgende generasie wetenskaplikes, wat ons land so dringend nodig het, word,” sê dr Jerome Slamat, Senior Direkteur: Gemeenskapsinteraksie.
Vanjaar sal daar ook ʼn DVD van die geleentheid gemaak word wat prof Scheffer en die BERG-span in hul werksomgewing sal insluit. Op dié manier sal ander leerders ook die geleentheid kry om dié wetenskap-uitstappie te ervaar en onderwysers kan dit gebruik om hul onderrig mee aan te vul.
Die geleentheid word aangebied deur die Afdelings vir Navorsingsontwikkeling en Gemeenskapsinteraksie by die Universiteit Stellenbosch en vind eerskomende Donderdag om 14:30 in die Fismersaal van die Konservatorium in Victoriastraat plaas.
- Vir meer inligting kontak Mawethu Nyakatya by 021 808 9185, nyakatya@subn.ac.za of Rolene Liebenberg by 021 808 9142, rolene@sun.ac.za.

July 27, 2011 

Geen kommentaar tot op hede nie...