Vroue moet opstaan vir hul regte – dr Rhoda Kadalie

Ondanks Suid-Afrika se toonaangewende Grondwet, wat gelyke regte vir mans en vroue waarborg, word baie vroue en jong meisies steeds onderdruk, aan geweld en armoede blootgestel en leef hulle sonder voldoende gesondheidsorg en onderwys. Daarom is dit vroue, en veral dié uit die middelklas, se plig om hulle op die Grondwet te beroep en hierdie
ongelykhede uit te wis.

Dr Rhoda Kadalie aan die woord by die vrouedag geleentheid. (Foto: Anton Jordaan)

Dít was kortom die boodskap van dr Rhoda Kadalie tydens die Afdeling
Gemeenskapsinteraksie, die Beyers Naudé Sentrum vir Openbare Teologie en die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling se middageteprogram met die
tema Gendergeregtigheid en Nie-rassigheid. Die program vorm deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se Vrouedagvieringe.

Dr Kadalie is ʼn voormalige Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en is tans direkteur van die Impumelelo Innovations Award Trust – ’n organisasie wat erkenning gee aan gemeenskapsprojekte en -organisasies wat die lewens van ander verbeter. Sy het Woensdag personeel en studente van die US asook verteenwoordigers van verskeie plaaslike
organisasies toegespreek tydens ‘n middagete-gesprek in die Ouditorium van die JS Gericke Biblioteek.

Volgens Kadalie is dit veral swart vroue in die townships wat aan die kortste ent trek as dit by gelyke regte kom. “Luidens die Global Competitiveness Report van 2010/2011 beklee Suid-Afrika die 130ste plek uit 139 lande wat die kwaliteit van ons onderwysstelsel aanbetref en het soveel as 78% van die skole in ons land nie biblioteke nie. Ironies genoeg is onderwys en
kennis van die beste maniere om vroue te bemagtig.”

Ander faktore wat ook vroue se gelykheid kniehalter is swak mediese sorg tydens swangerskap en na geboorte wat lei tot hoe sterftes onder moeders en babas, buitengewoon hoe voorkoms van geweld teen vroue en armoede.

Dr Kadalie het egter ook enkele punte uitgelig wat in haar mening “’n einde sal maak aan die tweedeklas-status van vroue”: “Die afskaffing van die gender-gebaseerde verdeling van arbeid; mans moet gelyke verantwoordelikheid neem vir die versorging van kinders; gelyke
verantwoordelikheid vir algemene huistake en die uitwissing van alle vorme van geweld teen vroue.”

Op ‘n opmerking uit die gehoor dat vroue dikwels hul eie vyand is en nie hul potensiaal raaksien of ontwikkel nie, het dr Kadalie gereageer: “Ons as vroue moet slim wees, planne maak, koukus met mekaar, ingelig en betrokke wees – dit is hoe ons ‘n verskil sal maak.”

Prof  Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, het die gaste bedank vir die goeie opkoms en beklemtoon dat dit belangrik is vir die Universiteit om nasionale dae te vier.

Die bekende jazz, R&B en hiphop sanger, aktivis en digter, Blaq Pearl, het gaste getrakteer op haar gedigte en musiek.

3 Reaksies op “Vroue moet opstaan vir hul regte – dr Rhoda Kadalie”

  1. Can the presentation please be posted on the web so that we can access it.

  2. Thats correct women need to fight agaist these inequalities.

  3. Monanana Mama Mminele August 11, 2011 om 11:27

    Thanks for this information BUT please let us have the English version as soon as its possible. It has more to do with my Chapter 3!

Lewer kommentaar

*