Maties word aangespoor om aan die stuur van eie sukses te wees – OAKS bekendstelling
“Ons beleef opwindende tye hier by die Universiteit – hier is dinge aan die gebeur.” Met dié woorde het die Studentedekaan van die Universiteit Stellenbosch (US), dr Llewellyn MacMaster, die eerste byeenkoms van die nuut-gestigte Ons Alumni Kring Stellenbosch, ook bekend as OAKS, van stapel gestuur.

Die OAKS-komitee saam met die spreker vir die aand, me Marian Hester (regs voor). (Foto: Justin Alberts, Kommunikasie & Skakeling)
OAKS, die breinkind van die US se Alumni-verhoudinge afdeling, is ʼn vrywilligersprogram wat die US se graduandi van die laaste tien jaar ʼn geleentheid gee om by die missie en werk van die universiteitsgemeenskap betrokke te raak en hierdeur lewenslange alumni-betrokkenheid te verseker.
Alumni en finalejaarstudente het die winterkoue trotseer en in die Sanlamsaal in die Neelsiestudentsentrum bymekaargekom om nie net die bekendstelling van OAKS te vier nie, maar ook om hul professionele netwerke uit te brei. Me Marian Hester, ʼn alumnus van die US se Regsfakulteit en Hoof van Absa Capital se Regsafdeling: Markte, was die geleentheidspreker en het in haar aanbieding wenke met die gehoor gedeel oor hoe om passievol en kreatief in hul onderskeie werke te wees. Haar aanbieding, met die titel The Ownership Attitude: passion and creativity at work, het benadruk dat die “sleutel tot sukses in jou ingesteldheid opgesluit lê.” Sy het verduidelik hoe die konsep van ‘werk’ oor die jare verander het en dat mense nie meer vir een werkgewer vir jare aaneen werk nie. Sy het statistiek aangehaal waar mense in hul professionele lewens ten minste vier keer van werk sal verwissel en ten minste vir ses verskillende werkgewers sal werk.
Sy het die gehoor uitgedaag om doelbewus ʼn verandering te maak in die manier hoe hulle dinge doen en gesê indien mense meer kreatief wil word, moet hulle iets doen wat nie “eie aan hulle is nie”. Sy het die gehoor aangemoedig om vorendag te kom met die antwoorde tot probleme, verantwoordelikheid vir hul eie sukses te neem en om ten volle van beskikbare hulpbronne te maak. Sy het ook benadruk dat mense voortdurend hul talent moet ontwikkel en verbeter. “Dit maak nie saak waar jy op die kontinuum lê nie, talentvolle mense sal altyd gesog wees.
Me Ilse Matthys en dr Trunette Josephs, beide lede van die OAKS-komitee, het aan die gehoor verduidelik hoekom hulle besluit het om deel van die OAKS-inisiatief te word. Me Matthys het die “jong alumni” aangemoedig om deel te word van hul alma mater omdat dit hulle ʼn kans bied om verhoudinge met die Universiteit te versterk en hul netwerke – met die universiteit en die breë gemeenskap daar buite, uit te brei.
Dr Josephs het gesê die grootste rede hoekom sy by OAKS betrokke geraak het is omdat sy glo in die konsep van “waar jy kan, maak ʼn verskil.”
In antwoord op ʼn vraag of sy altyd geweet het hoe haar professionele lewe sou wees, het me Hester gesê sy het baie vroeg geweet watter tipe werk sy wil doen. “Ek het geen idee gehad ek sou by beleggingsbestuur beland nie, maar ek het ‘n duidelike idee gehad hoe ek oor my werk wil voel. Ek het probeer om iets te doen waaroor ek opgewonde is.”
Vir foto’s van die geleentheid: http://www.flickr.com/photos/stellenboschuniversity/sets/72157627407574238/
Vir die YouTube-video: http://youtu.be/aO9ICdTAsdA

August 15, 2011 

Geen kommentaar tot op hede nie...