Naweek van klawerbordbekoring by die Endler
Ondersteuners van die Endler-konsertreeks met ‘n voorliefde vir klavier- en ander klawerbordmusiek kan gerus die volgende datums aanteken. Op Saterdag 27 Augustus tree die pianis Jan Hugo, onlangse wenner van die 2011 UNISA Nasionale Klavierkompetisie, in die Endlersaal op.
Op Sondag 28 Augustus is Erik Dippenaar aan die beurt met beide orrel en klavesimbel. Maandag 29 Augustus vind die Stellenbosch-beurt van die jaarlikse uitruilkonsert van UCT/Stellenbosch klavierstudente plaas. Sondag se uitvoering begin om 16:30 en die ander twee konserte soos gewoonlik om 20:00.
Jan Hugo is in 1991 in Bloemfontein gebore en behaal al sedert die ouderdom van 11 sukses in internasionale kompetisies. Hy is op 13 jaar genooi om sy studies voort te sit in Italië waar hy steeds woon en sy studie en voordrag uitbou.
Sy program sluit werke in van Schumann, Brahms en Liszt en sluit af met Beethoven se grootse sonate in c-mineur op. 111. Erik Dippenaar, ‘n alumnus van Stellenbosch Universiteit het die Kunstenaarsdiploma van die Royal College of Music (Londen) behaal en is tans gesog as solis en continuo-speler in die VK.
In die gees van die 18de-eeuse Grand Tour het Charles Burney in 1722 ‘n reis deur Duitsland, die Nederlande en die Verenigde Provinsies onderneem om data te versamel vir sy General History of Music. In sy voordrag op 28 Augustus 2011, volg Dippenaar die voetspore van Burney na met uitvoerings van repertoire wat dié musiekkenner op sy reise sou teëgekom het.Dit behels werke van JC, CPE en JS Bach, D Scarlatti, Alberti, Handel, Mattheson, Buxtehude, Graun, Benda, Agricola en Stanley.
Ten slotte tree klavierstudente van beide Stellenbosch Universiteit en UCT gesamentlik op in ‘n Liszt-program op Maandag 29 Augustus ter viering van die 200-jaarherdenking van die komponis se geboorte.
Kaartjies vir Saterdag en Sondag se konserte is beskikbaar by Computicket teen R99 / R75. Dit is ook verkrygbaar by die loket een uur voor die aanvang van die konserte. Kaartjies vir die klavier-uitruilkonsert sal slegs by die loket verkoop word een uur voor aanvang van die konsert teen die spesiale prys van R20 (gratis vir studente en pensionarisse). Kontak Louise by 021 808 2358 / 084 682 1337 vir verdere inligting.

August 17, 2011 
Geen kommentaar tot op hede nie...