Maties weer gasheer vir Nasionale Klubkampioenskappe

Die Universiteit Stellenbosch (US) speel weer vanjaar gasheer vir SA Rugby se Nasionale Klubkampioenskappe.  Die toernooi word van 17-23 September 2011 in die Danie Cravenstadion en omliggende velde gespeel.  Sestien spanne, bestaan uit die veertien kampioenspanne van SA Rugby se provinsies en twee genooide spanne, neem aan die toernooi deel.

Die spanne wat reeds vir die toernooi gekwalifiseer het, is College Rovers (KZN en verdedigende kampioen), Park (OP), Progress (SWD), Springs (Valke), Welkom Rovers (Griffons), Universiteit van Johannesburg (Leeus), Shimlas (Vrystaat), Roses United (Boland), NWU-Pukke (Luiperds), Winter Rose (Grens), Kimberley Polisie (Griekwas), Middelburg (Pumas) en Maties (WP).  In Pretoria meet die Tukkies en Polisie op Saterdag 10 September in die finaal kragte om te bepaal watter span die Blou Bulle sal verteenwoordig.  Met Tukkies wat onoorwonne in die Bulle se liga is, behoort Tukkies die titel te verower en vir die klubkampioenskap te kwalifiseer.  Die twee genooide spanne is Noordelikes (Limpopo) en SK Walmers (WP).

Vanjaar se toernooi is die laaste keer dat universiteite aan die Nasionale Klubkampioenskappe sal deelneem, aangesien SA Rugby reeds besluit het dat hierdie toernooi in die toekoms net vir nie-universitêre spanne sal wees.  Die top agt universiteite neem reeds aan die hoogs suksesvolle Varsity Cup deel.  Die moontlikheid dat die top spanne in die Varsity Cup en die Nasionale Klubkampioenskap teen mekaar kan speel om ʼn oorhoofse kampioen te bepaal, word tans oorweeg.

“Van die top spanne het College Rovers, die Universiteit van Johannesburg (UJ) en NWU-Pukke gunstige lotings en al drie behoort maklik tot die semi-finale te vorder,” meen mnr Belius Potgieter, Rugbybestuurder aan die US.  “College Rovers speel in die eerste rondte teen SK Walmers en behoort nie veel moeite te ondervind nie.  In die tweede rondte speel hulle teen die wenner van Winter Rose en Shimlas.  Ook hier behoort geen probleem te wees nie.  UJ speel in die eerste rondte teen Limpopo en die tweede rondte teen die wenner van Springs en Welkom Rovers om vir die semi-finaal te kwalifiseer.  Gewis ʼn maklike paadjie.  Die Pukke speel in die eerste rondte teen Kimberley Polisie en in die tweede rondte teen die wenner van Park of Progress.”

Die Maties se pad is nie so maklik nie, sê Potgieter. “Die eerste rondte teen Middelburg behoort nie ʼn probleem te wees nie. In die tweede rondte egter wag die magtige Tukkies, wat nie in die eerste rondte te veel moeite met Roses United te hê nie.  Klop die Maties die Tukkies, staan die Pukke breed in die Maties se pad vir ʼn moontlike finaal. In die ander semi-finaal behoort die verdedigende kampioen College Rovers en UJ sake vir ʼn plek in die finaal uit te speel.

Te oordeel na huidige vorm, behoort UJ en Tukkies sake om glorie in die finaal uit te spook. Die Maties, wat ʼn wisselvallige seisoen beleef, beskik egter oor die vermoë om enige span op ʼn gegewe dag te klop en skuld op hierdie stadium sy ondersteuners ʼn uithalervertoning.  Hopelik is die laaste Klubkampioenskap waaraan die Maties kan deelneem die gepaste geleentheid om die maroenvaandel hoog te dra.”

Vir die bepalings vir die eerste rondte is die spanne geranglys volgens die vertoning van die betrokke provinsie se verteenwoordiger by verlede jaar se toernooi.  Die program vir die eerste rondte op Saterdag 17 September 2011 is soos volg:

10:00        F-veld            Park vs Progress.

11:45        F-veld            Springs vs Welkom Rovers.

10:00        B-veld            FNB UJ vs Noordelikes.

11:45        B-veld            FNB Shimlas vs Winter Rose.

11:45        Stadion          FNB NWU-Pukke vs Kimberley Polisie.

13:30        Stadion          Roses United vs FNB Tukkies/Polisie.

15:15        Stadion          FNB Maties vs Middelburg.

17:15        Stadion          College Rovers vs SK Walmers.

Toegang is R20 vir die stadion waar al die nodige verversings beskikbaar sal wees.

Al die spanne speel weer Maandag wanneer die verloorders teen verloorders en wenners teen wenners sal speel.  Woensdag is semi-finale en Vrydag die finaal.

3 Reaksies op “Maties weer gasheer vir Nasionale Klubkampioenskappe”

  1. the tournament was simply superb and crowd was like anything. the place, the tournament took place is close to many guest houses and restaurants at stone throw distance. one that I can recollect is http://www.22dielaanguesthouse.co.za/.. we stayed at http://www.majekahouse.co.za/

  2. Wonderlik! So lekker om hier by Coetzenburg te wees om al die lekker rugby te kan sien. Ons gastehuis is letterlik oorkant Coetzenburg – 22 Die Laan Guest House http://bit.ly/mqaXAY

    Indien iemand nog akkommodasie soek, kontak ons gerus op 021 – 886 8753 of 082-598-2493

TrackbacksPingbacks

  1. Maties advance to semi-finals of Club Championships | News - September 19, 2011

    [...] Read the original article here.  [...]

Lewer kommentaar

*