Reeks Slypskole oor Digkuns vir Jeug in die Gemeenskap

Die Departement Engels aan die Universiteit Stellenbosch (US) het, deur middel van sy literêre projek (SLiP) en in samewerking met die US se Afdeling Gemeenskapsinteraksie, in Augustus ’n reeks bekendstellingslypskole oor digkuns geloods waarby naskoolse jongmense, leerders en onderwysers van drie hoërskole in Stellenbosch betrokke was. Die skole is twee hoërskole (Makupula en Kayamandi) en Luckhoff Senior Sekondêre Skool. Die slypskole word een maal per maand aangebied, tot Desember 2011.

Hale Tsehlana van die Departement Engels en die bestuurder van gemeenskapsbetrokkenheid by SLiP is die fasiliteerder van hierdie slypskole wat ten doel het om naskoolse jongmense, leerders en onderwysers aan die kuns van gedigte skryf bekend te stel, en hulle sodoende aan te spoor om verder in kreatiewe skryfkuns en letterkunde te studeer en onderwysers betrokke te kry by kreatiewe maniere om leerders aan die digkuns bloot te stel. Deelnemers aan hierdie slypskole sal dan voorrang geniet om hulle digwerk by die maandelikse SLiP-voorlesings voor te dra of uit te voer, en hopelik ’n groter liefde en waardering vir gedigte aanleer. SLiP hoop om aan die einde van die vyf digkuns-slypskole ’n bloemlesing van publiseerbare digwerk saam te stel sodat deelnemers toegang tot ’n breër lesersgehoor kan verkry asook tot literêre feeste soos dié in Franschhoek en die Kaapstadse Boekeskou in 2012.

Mev Sesanti, ’n Engels-onderwyser aan die Makupula-hoërskool, het die slypskole in Augustus en September bygewoon en vertel dat sy “geboei was en soveel geleer het”. “Ek kon nie vir meer gevra het nie.” Mev Borain, ’n Engels-onderwyser by Luckhoff Senior Sekondêre Skool, sê: “Dit was vir my baie interessant toe sy leerders gevra het om hulle eie gedigte te skryf en dit te bespreek – dit is iets wat ek met my eie leerders wil probeer om hulle skryfwerk te ontleed.”

Bulelwa Ntlayi, ’n graad 10-leerder aan die Makupula-hoërskool wat die slypskole bygewoon het en ’n wenner in die Stellenbosch Jeugdag 2011 se digkuns-en-fotografiekompetisie is, sê: “Die slypskole help my nie net om meer kreatief te dig nie, maar help verbeter ook my Engels. Ek wil ander jongmense aanmoedig om hierdie slypskole by te woon as hulle die kans kry.”

Rolene Liebenberg van die Afdeling Gemeenskapsinteraksie vertel dat digkuns as uitdrukkingsvorm ’n deel van alle toekomstige Jeugdagbyeenkomste sal word en dat sy hoop die samewerking met SLiP in hierdie verband sal ook daartoe lei dat die jongmense se digwerk in druk verskyn.

Volgens SLiP behoort meer skole en gemeenskappe in die Stellenbosch-omgewing by sulke intervensies te baat, en daar word verwag dat die program in 2012 uitgebrei sal word. Die deelname van onderwysers aan hierdie program is deurslaggewend vir die volhoubaarheid van die inisiatief en dit is baie bemoedigend dat sommige onderwysers ook aan hierdie slypskole deelneem.

Besoek gerus www.slipnet.co.za vir meer inligting.

 

2 Reaksies op “Reeks Slypskole oor Digkuns vir Jeug in die Gemeenskap”

  1. Dankie vir die uitwys! Die spelfout is nou reggemaak.

  2. Spot die spelfout in die hoofopskrif!

Lewer kommentaar

*