SUN MeDIA stel Jannie du Toit boek vry

Jannie du Toit

Jannie du Toit, die bekende liedjieskrywer en sanger se boek Onderweg – ‘n musiekstorie van 40 jaar, is op 23 September deur SUN MeDIA vrygestel. Die koffietafelboek handel oor sy uitgebreide loopbaan in musiek en op die verhoog.

Hierdie publikasie is terselfdertyd ook ‘n boekstawing van die ontwikkeling binne ’n bepaalde genre van Afrikaanse musiek en oor Jannie se rol en bydrae hierin. Benewens ander toekennings het Jannie in 2008 ’n erepenning ontvang van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot ligte Afrikaanse musiek.

In hierdie publikasie – geïllustreer deur unieke en outentieke grafika, foto’s, koerantknipsels en briewe – vertel Jannie die verhaal van sy opwindende pad en loopbaan. Sy storie begin toe ligte Afrikaanse musiek veertig jaar gelede nog in sy kinderskoene was tot waar dit vandag ’n beduidende rolspeler in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is.

Jannie du Toit was vasbeslote om ’n “gewone ou” te bly wat musiek maak. Die boek vertel verder van sy ywer om deur middel van sy maatskappy JNS Musiek goeie Afrikaanse musiek by waarderende gehore en op die winkelrakke te kry. Hy het deur sy toewyding die grondslag gelê vir vele ander kunstenaars en het saam met Christa Steyn 25 lande op musiektoere besoek.

Hierdie publikasie is Jannie se storie in woord en beeld en vorm deel van die Onderweg-projek wat verder bestaan uit ’n gelyknamigeverhoogproduksie asook ’n laserskyfstel:

  •       Dubbel-album CD met 40 liedjies: Vroeër en Later
  •       DVD met ’n verskeidenheid beeldmateriaal: Kyk

Die boek word in konteks geplaas deur meer as 20 beeldgrepe wat in Kyk te sien is. Dit begin by die studentegroep Trilogie van die sewentigerjare, beweeg deur die tagtigerjare met Jannie se musiekblyspele vir Tukkies en dan deur die jare daarna saam met sy musiek-, reis- en sielsgenoot, Christa Steyn, met wie hy nou reeds 25 jaar skeppend saamwerk op die verhoog en in die ateljee. Die DVD bied ‘n emosiebelaaide collage van sy loopbaan met onder meer musiekvideo’s van “Gee ons vrede” en “Pie Jesu” saam met Coenie de Villiers en Chris Chameleon, asook optredes saam met talle vriende en kollegas. ‘n Hoogtepunt is ‘n TV-joernaalprogram uit die vroeë tagtigerjare waartydens Koos du Plessis in Jannie se huis in Pretoria, Margaretastraat 28, tydens ’n “liedjie-aand” sy beroemde “Kinders van die Wind” sing.

4 Reaksies op “SUN MeDIA stel Jannie du Toit boek vry”

  1. Your coffee table needs this book!!!

    Oh, and if you can, buy the CD/DVD set too… the DVD has some priceless clips!

  2. Jakkals prys nou wel sy eie stert, maar ek dink die is ‘n PRAG boek wat ek graag uitstal op my koffietafel! Well done Justa & Liezel – ons is trots op julle!

  3. Justa du P Niemand October 17, 2011 om 14:06

    Dankie – ons is self heel ingenome met die eindproduk en bly vir die geleentheid om hierdie spesifiek vir Afrikaans te kon doen. Justa, namens SUN MeDIA Span

  4. Baie geluk Justa en jou mense – ook met die puik eindproduk. Nog elke keer wanneer iemand die boek sien, is hulle eerste opmerking oor die wonderlike kwaliteit daarvan. Jopie

Lewer kommentaar