SUNJournals gee internasionale blootstelling aan plaaslike vaktydskrifte
“Die lae profiel van navorsers van Afrika kan toegeskryf word aan die gebrek aan toegang tot internasionale navorsing. Daarom is dit belangrik vir die Universiteit Stellenbosch (US) om die voortou te neem om oop toegang te bevorder om ons navorsers hierdie toegang te gee en hulle die geleentheid te bied om hulle navorsing met ander te deel.”

Van link na regs op foto is Dr Francois Very (Assistent-redakteur: Scientia Militaria); Mnr Oswell Khondowe (Redakteur: Zambian Journal of Physiotherapy); Dr Gerrit Brand (Redakteur: Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif); Me Ellen Tise (Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens); Mnr Gabriël Botma (Redakteur: Global Media Journal African Edition); Me Eve Gray (Sentrum vir Opvoedkundige Tegnologie, Universiteit Kaapstad); Dr Willem Botha (Bestuurder: Lexikos); Dr Kate Huddlestone (Redakteur: SPIL and SPILPlus); Prof Johan Thom (Redakteur: Akroterion) en Prof Christa van der Walt (Redakteur: Per Linguam).
Dít was die woorde van prof Arnold van Zyl, Viserektor: Navorsing, tydens die US Biblioteek- en Inligtingsdiens se tweede Oop Toegang Seminaar – ter ondersteuning van Internasionale Ooptoegangsweek (24 – 28 Oktober 2011) om oop toegang te bevorder – wat gistermiddag aangebied is.
ʼn Inisiatief waardeur die US onlangs een van die eerste universiteite in Suid-Afrika en Afrika geword het om ʼn omvattende diens te lewer om oop toegang vaktydskrifte aanlyn te huisves en te publiseer, SUNJournals, is ook tydens dié geleentheid bekend gestel.
Altesaam 11 tydskriftitels – waarvan meer as die helfte deur die Department van Hoër Onderwys en Opleiding geakkrediteer is – maak reeds van dié diens gebruik. Die tydskrifte word met behulp van die Open Journal Systems (OJS) oopbronsagteware gepubliseer en bied gratis toegang via die internet.
Prof Van Zyl het voortgegaan en gesê SUNJournals is “’n bewys van die biblioteek se verbintenis tot die deel van inligting en “laat ’n duidelike wetenskaplike voetspoor in Afrika na”. “Ons het oop toegang aangeneem en is bewus van die uitdagings wat dit inhou, maar ek is oortuig dat oop toegang beduidende voordele inhou vir beide die outeur en die universiteit.”
“Die voorsiening van ʼn ooptoegang vaktydskrifdiens (SUNJournals) en die blote formaat verandering wat daarmee gepaardgaan gee plaaslike tydskrifte internasionale blootstelling,” sê me Ellen Tise, Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens.
“Hierdie vorm van publisering het ook binne twee weke tot versoeke vir samewerking met ander universiteite van sover as Swede meegebring,” sê me Tise verder.
Die US het in 2010 een van talle gesaghebbende universiteite en navorsingsinstansies geword om oop toegang tot navorsingsuitsette te ondersteun met die ondertekening van die Berlyn-verklaring oor Oop Toegang tot Inligting ten opsigte van die Natuur- en Geesteswetenskappe.
Internasionale kenners
Twee internasionale navorsers en kenners op die gebied van oop toegang, prof Stevan Harnad, Kanada Navorsingsleerstoel in Kognitiewe Wetenskappe, Université du Québec à Montrèal en verbonde aan die Skool vir Elektronika en Rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Southampton, en me Eve Gray, Erenavorsingsgenoot, Sentrum vir Opvoedkundige Tegnologie aan die Universiteit van Kaapstad, het ook tydens die geleentheid verskeie aspekte van oop toegang bespreek.
Prof Harnard het in sy aanbieding die US aangeraai om akademiese personeel aan te moedig om hul navorsingsartikels so gou moontlik op die US se navorsingstoorplek, SUNScholar, te laai en op die manier groen oop toegang te bevorder. Groen oop toegang is wanneer ’n navorsers in enige vaktydskrif publiseer, maar dan ook self sy artikel op sy instansie se bewaarplek laai. Goue oop toegang is wanneer die artikel in ’n oop toegang vaktydskrif gepubliseer word.
“Universiteite moet maniere vind om groen oop toegang te bevorder – dan sal goue oop toegang vanself volg, want mense die oop toegang bronne meer gebruik en aanhaal,” het hy gesê.
Dr Gray het gesê ’n oop toegang artikel word ’n bron van kennis en debat omdat mense dit kan aanpas en daarop kommentaar kan lewer, waar ’n artikel in ’n tradisionele vaktydskrif ’n finale, statiese produk is.

October 25, 2011 
Geen kommentaar tot op hede nie...