Volgehoue ondersteuning transformeer onderpresterende skole
Met die regte soort ondersteuning op ʼn gereelde basis kan onderspresterende skole hulself regruk en beduidende veranderinge teweegbring.
Só het mnr David Langhan, navorsingsdirekteur van Maskew Millar Longman Education Trust, Woensdag (26 Oktober) tydens die vyfde gespreksessie van die Universiteit Stellenbosch (US) se Skolevennootskapprojek gesê.
Die reeks van ses gespreksessies kyk na hoe samewerking tussen verskillende fakulteite die US se interaksie met skole kan verbeter.
Langhan het verwys na ʼn Skoleontwikkeling en ondersteuningsprojek van sy Stigting wat 16 onderpresterende skole in afgeleë gebiede in vier provinsies (Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Wes-Kaap) help om beter te vaar.
Hy het gesê by die skole word die leerplan nie ten volle gedek nie, en daar is ʼn gebrek aan handboeke en leergeleenthede.
“Dit is egter verbasend dat, ten spyte van die swak infrastruktuur, die skole nie geld soek nie, maar eerder as vennote behandel en gerespekteer wil word.”
Langhan het genoem dat onderwysers moedig in haglike omstandighede werk om die situasie by hul skole te verander.
“Volgehoue ondersteuning het onderwysers gehelp om onderrigmateriaal reg te gebruik, en te verstaan wat hul rol is. Leerders skryf meer gereeld, en hul geletterheid-en syfervaardighede het drasties verbeter.”
Onderwysers laat leerders ook toe om aan lesse deel te neem, het Langhan gesê.
Die organisering by die skole het ook verbeter en bestaande fasiliteite is opgeknap om weer gebruik te word, het hy bygevoeg.
Langhan meen dit is belangrik om in spanverband met skole saam te werk, en onderwysers op te lei en van raad te voorsien. Dit kan onderpresterende skole help om meer suksesvol te wees.
- Die volgende gespreksessie vind plaas in November. Kontak Rolene Liebenberg, Bestuurder: Skolevennootskapprojek, by rolene@sun.ac.za of 021 808 9142 vir meer inligting.

October 28, 2011 

Interesting article indeed. Is there any detail on what you mean by mentoring and coaching at this level. Who is to be mentored and coached. Should it be more currriculum content or management and leadership ?