Eeu-oue verbintenis bekragtig deur vernoeming van Carnegie Navorsingsruimte
Die verbintenis tussen die Universiteit Stellenbosch en die Carnegie Korporasie van New York wat meer as ’n eeu gelede gevestig is, is Vrydag bevestig toe die Navorsingsruimte in die JS Gericke Biblioteek vernoem is na die stigter van die korporasie, Andrew Carnegie.

Prof Tade Akin Aina van die Carnegie Korporasie van New York en prof Arnold van Zyl, Viserektor: Navorsing van die US met die onthulling van die nuwe naam van die Carnegie Navorsingsruimte (Foto: Justin Alberts)
Die verbintenis tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en die Carnegie-korporasie (Carnegie Corporation of New York) wat oor meer as ʼn eeu strek, is Vrydag bekragtig toe die Navorsingsruimte in die JS Gericke-biblioteek na die korporasie se stigter, Andrew Carnegie, vernoem is.
Op grond van die lang verbintenis tussen die Carnegie-korporasie en die spesiale bydrae van die korporasie tot onderrig en navorsing aan die US, het die Universiteit besluit om die nuwe Navorsingsruimte in die ondergrondse JS Gericke-biblioteek die Carnegie Navorsingsruimte te noem.
Dr Vartan Gregorian, President van die Carnegie Corporation of New York, het in sy boodskap wat namens hom gelewer is deur prof Tade Akin Aina, gesê: “Biblioteke is ʼn noodsaaklike deel van die padkaart wat lei na die toekoms van elke burger van hierdie land en is die sleutel tot die vooruitgang van enige nasie wat waarde heg aan kennis.
“Dit is ʼn plek van vryheid – waar enige iemand oor enige onderwerp kan leer. Dit is ʼn plek waar die verlede oopmaak vir elke man, vrou en kind en waar ʼn mens kan begin om gestalte te gee aan die toekoms.”
Prof Arnold van Zyl, Viserektor: Navorsing aan die US het ʼn oorsig gegee van die lang geskiedenis tussen die Carnegie-korporasie en die Universiteit. Hy het daarop gewys dat die US, deur die HOOP Projek, hom verbind het om die samelewing in sy geheel te dien.
“Ons uitdaging is om sterk kennisnetwerke te vestig en om ons uitnemendheid in onderrig en navorsing te versterk, en om dit oor dissiplines heen reg te kry: om verskillende soorte grense oor te steek dwarsoor lande, streke en kontinente.
“Dit is hoekom die Carnegie-korporasie vir ons so ʼn strategiese vennoot is. Ons deel die oortuiging dat kennis die sleutel is om mense se potensiaal te ontsluit. Dit is ʼn goue draad wat die verbintenis tussen Carnegie en Stellenbosch kenmerk. En nou dra dit vrugte binne ʼn getransformeerde konteks op ʼn wyse wat mees gepas is vir ons kontemporêre uitdagings.
“Die kringloop word in die Navorsingsruimte voltooi, want die fasiliteit wat gedeeltelik deur die Carnegie Corporation of New York befonds is, is ʼn instaatsteller van die US se HOOP Projek. Dit is ʼn plek waar ons wetenskaplikes, in samewerking met ons vennote dwarsoor die kontinent, kan ontwikkel om die volgende generasie akademici uit Afrika te vorm.

Prof Magda Fourie-Malherbe, Viserektor: Onderrig, prof Tade Akin Aina en me Rookaya Bawa, beide van die Carnegie Korporasie van New York, me Ellin Tise, Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens en prof Arnold van Zyl, Viserektor: Navorsing aan die US by die onthulling van die nuwe naam.
“Dit bekragtig ons verbintenis – ʼn vennootskap met ʼn lang geskiedenis, en ʼn blink toekoms – tot die voordeel van die mense van ons land en die kontinent.”
Me Ellen Tise, Senior Direkteur van die Biblioteek en Inligtingsdiens, het die Carnegie Corporation of New York bedank vir hulle ondersteuning: “Ons is uiters bevoorreg om met ʼn filantropiese instansie soos Carnegie geassosieer te word.”
Die Universiteit en die Biblioteek- en Inligtingsdiens het onlangs ʼn skenking ten bedrae van $2.5 miljoen van die Carnegie-korporasie ontvang vir die implementering van die tweede fase van ʼn projek in Suid-Afrika. ʼn Nuwe model vir navorsingsondersteuning deur biblioteke aan hul onderskeie akademiese gemeenskappe sal gevestig word.
Die projek sluit drie verwante komponente in: die skep van ʼn navorsingsruimte (research commons) vir die gebruik deur nagraadse studente, akademici en navorsers; die vestiging van ʼn navorsingsportaal met ʼn suite van soekhulpmiddels wat toeganklik is vir nagraadse studente, akademici en navorsers; en die ontwikkeling van ʼn personeelkorps wat uiteindelik ʼn nuwe kader van vaardige en kundige navorsingsbibliotekarisse sal lei wat toegerus is om nou met akademici saam te werk en ʼn nuwe standaard diens te kan lewer.
Die Navorsingsruimte in die JS Gericke-biblioteek wat in Mei vanjaar amptelik oopgestel is, maak deel uit van die Biblioteek- en Inligtingsdiens se HOOP Projek-inisiatief. Dit is daarop gemik om navorsing aan die US te bevorder en is ʼn konkrete bewys van die finansiële bydrae wat die Carnegie-korporasie weer eens tot groot voordeel van die universiteitsgemeenskap in Stellenbosch gemaak het.
- Lees prof Arnold van Zyl se toespraak hier.

November 18, 2011 
Geen kommentaar tot op hede nie...