USB-direkteur verduidelik hoe om entrepreneurs te ontwikkel

Dink aan ʼn suurlemoen. Waarvoor kan jy ʼn suurlemoen alles gebruik?

Prof John Powell 1

Prof John Powell, Direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB).

Dít was die ongewone vraag wat professor John Powell, Direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB), aan die gehoor gestel het by die onlangse simposium oor entrepreneurskap vir menslike ontwikkeling wat deur die Universiteit onder die vaandel van sy HOOP Projek aangebied is. Dié geleentheid by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) het meer as 200 mense gelok, van wie baie entrepreneurs is.

Die doel met prof Powell se vraag het vinnig duidelik geword toe hy begin toon hoe ingeperk sommige volwassenes se denke kan wees.

Die hoofoogmerk was om die kenmerke van entrepreneursdenke te omskryf – nie net vir diegene wat hul eie ondernemings begin nie, maar ook wat ‘intra-preneurskap’ (dit wil sê entrepreneurskap in groot maatskappye) betref.

“Entrepreneurskap is deels kennisgegrond – dit gaan daaroor om die regte kennis én die regte houding te hê. Maar van watter soort kennis praat ons? En hoe spoor ons dit aan?” wou Powell weet.

Volgens hom handel die meeste akademiese literatuur oor die ‘behoefte aan outonomie’ of die vryheid om te handel. Tog, sê hy, is dit ook belangrik om ʼn innoverende gees te hê. Daarbenewens is entrepreneurs ook noodwendig bereid om ʼn risiko te loop.

“Entrepreneurs is ook mededingend aggressief, maar dit hang natuurlik af van jou motivering vir sodanige mededingende aggressie – indien jy ander wil inloop, sal jy nie ver kom nie. Daar is ʼn medewerkende komponent aan mededinging, waar die koek self sowel as jou eie sny daarvan groter word.”

Die oorsprong van entrepreneurskap

Waar kom hierdie entrepreneurskap egter vandaan? Hoe ontstaan dit?

“Dit ontstaan uit wisselwerking met die omgewing; dit ontstaan uit spanwerk – baie soos die bemanning van ʼn seiljag. Hoekom gebruik ek hierdie beeld? Want ʼn kalm see maak nie ʼn knap seevaarder nie – ʼn onstuimige see lewer beter seevaarders op,” sê Powell.

“Dan is daar vindingrykheid. Jean Piaget was ʼn sielkundige wat kinders bestudeer het. Hy het ʼn interessante waarneming gemaak oor hoe kinders dink, oor hoe vindingryk hulle is – en dít is ook waarom ek julle oor die suurlemoen gevra het. Aan hoeveel gebruike vir die suurlemoen kon julle toe dink?” het hy die gehoor gevra.

Die meeste lede van die gehoor kon met tussen vyf en tien gebruike vorendag kom. Totdat iemand geantwoord het: “Onbeperk.”

“Dit is ʼn uitstekende antwoord,” het Powell gereageer. “Die interessante van Piaget se bevindinge was dat indien jy ʼn kind van om en by tweejarige ouderdom sou vra, hy waarskynlik nie heeltemal seker sal wees nie, maar dalk al sy ma sien limonade maak het, so dan antwoord hy ‘limonade’. As jy iemand van 14 of 15 vra, sal hy met ongeveer tien antwoorde vorendag kom.

‘Sit die suurlemoen in die yskas’

“Ek het my seun dié vraag gevra toe hy sowat ses jaar oud was, wat ook die ouderdom is waarop Piaget die meeste antwoorde gekry het. My seun het geantwoord: ‘Jy kan die suurlemoen in die vrieskas sit. Dan sal dit lekker hard word, en dan kan ons dorp toe gaan en dit deur die juweliersvenster gooi en al die diamante vat en dit gaan verkoop. Dan kan ons ʼn duikboot koop en goud op die bodem van die see gaan haal’. Ek reken dit is ʼn heel billike antwoord.”

Wat gebeur, verduidelik Powell, is dat ons, as volwassenes, ons laat inperk deur die verwagtinge oor wat die antwoord behoort te wees, wat die regte antwoord is.

Al ís boekkennis belangrik, sê Powell, is inherente, ongedokumenteerde kennis ewe noodsaaklik.

“So, die vraag is hoe ons daardie inherente kennis van die een entrepreneur na die ander oordra? Tradisioneel het mense allerhande geskrewe handleidings oor ‘hoe om ʼn entrepreneur te word’, maar dis nie heeltemal hoe dit werk nie. Die punt is om maniere te kry om die kennis van een persoon na ʼn ander oor te dra; soos om te leer seil – jy moet doodeenvoudig die see aandurf. Jy leer hoe om ʼn entrepreneur te word deur ʼn entrepreneur te wees.”

Hy wys daarop dat finansiers dikwels lugtig is om waagkapitaal vir eerste sakevoorstelle voor te skiet. “Dit is omdat daardie entrepreneurs nog nie misluk het nie. Onthou, ʼn kalm see maak nie ʼn knap seevaarder nie.”

Volgens Powell kan hierdie inherente kennis oorgedra word deur leerlingskappe, mentors, die voorsiening van kommunikasiestrukture soos werksessies, en die skep van laboratoria as ‘veilige mislukkingsruimtes’.