Willem Anker wen grootste beurs vir Afrikaanse skryfwerk
Die romansier en dramaturg, dr Willem Anker, wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands verbonde is, het vandeesweek die grootste beurs vir Afrikaanse skryfwerk losgeslaan.
Dr Anker het Dinsdag, 13 Desember die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skryfbeurs van R350 000 ontvang. Die beurs word deur die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geadministreer, en stel die ontvanger in staat om ’n sabbatsverlof te neem om op sy/haar skryfwerk te fokus en ’n boek te voltooi.
Die beursgeld kom uit ’n bemaking van die Afrikaanse skrywer Jan Rabie en sy Skotse skilder-vrou, Marjorie Wallace. Dit word tweejaarliks toegeken, en dr Anker is die tweede ontvanger daarvan. In 2009 het die bekroonde skrywer André P Brink die beurs ontvang.
Die skrywers Abraham H de Vries en Elias P Nel, asook prof Steward van Wyk, voorsitter van UWK se Departement Afrikaans en Nederlands, het die beurskomitee gevorm.
Dr Anker beplan om ‘n boek te skryf oor die rebel Coenraad de Buys, wat deur sommige as ’n held beskou en deur ander as ’n dief en poligamis afgemaak word. De Buys is in 1761 gebore en het in 1821 in Mosambiek verdwyn. Sy oorskot is nooit gevind nie.
Dr Anker, wat in Citrusdal gebore is en op Wellington gematrikuleer het, het sy debuutroman, Siegfried, in 2007 gepubliseer. Dié boek het in 2008 die Universiteit van Johannesburg se prys vir debuutwerke gewen, en in dieselfde jaar die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende literatuur.
Sy drama Slaghuis het die Sanlam-prys vir Afrikaanse teater gewen, en sy vertaling van die Brit Sarah Kane se Crave as Smag is landwyd op kunstefeeste opgevoer.
Prof Van Wyk het aan Die Burger gesê dr Anker se beoogde boek “sal verruiming bring” in die Afrikaanse letterkunde.

December 20, 2011 

Geen kommentaar tot op hede nie...