Opgewonde eerstejaars skop nes op Stellenbosch

Christiaan du Toit, Eendrag HK-lid, trek aan die eerstejaar Zandré Barnard, terwyl sy ouers, mev Collette en mnr André Barnard hom spottenderwys aan die ander arm huis toe wil trek. (Foto: Anton Jordaan)

Die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) het Woensdag, 25 Januarie, gekrioel van opgewonde eerstejaarstudente wat hul eerste dag op universiteit begin het.

Die grootste deel van die sowat verwagte 4 500 tot 5 000 eerstejaars het Woensdag hul intrek by die verskillende koshuise geneem, terwyl dié wat privaat woon ook by hul onderskeie Privaatstudentorganisasie (PSO) aangemeld het.

By die koshuise het eerstejaars en hul ouers met motors vol gepak van bagasie – van tasse en musiekinstrumente tot yskaste en fietse – aangekom waar hulle deur die koshuise se Huiskomitee-lede (HK) en mentors verwelkom is.

“My dogter is op die beste plek in die wêreld,” het me Marijke van Onselen by Nerina-koshuis gesê waar haar dogter, Magriet, besig was om in te trek.

Kyle Trotter (middel) en sy ma, Beryl, word deur 'n HK-lid van Metanoia gegroet. (Foto: Anton Jordaan)

Magriet, wat vanjaar BRek gaan studeer, het gesê sy “is tegelykertyd opgewonde én senuweeagtig.”

Zandré Barnard het sak en pak met sy kitaar by Eendrag-koshuis saam met sy ouers, mnr André en mev Collette Barnard, aangemeld. Dié eerstejaar van Pongola in KwaZulu-Natal sien uit daarna om sy BCom-studies eersdaags te begin. “Ek is opgewonde, maar ook effens senuagtig, want ek weet nie wat om te verwag nie,” het hy gesê.

By Nerina-koshuis het Jaydene van Huffel, wat vanjaar vir die graad BEd gaan inskryf, ook met arms vol bagasie opgedaag vir haar eerste dag op universiteit. “Opgewonde,” is hoe dié boorling van Ceres haar gevoelens beskryf het.

“Ek het op die US besluit omdat ek gehoor het dit is die beste universiteit. Ek sien werklik daarna uit om hier te studeer,” het sy gesê.

Yolandi Barnard was een van die byna 180 nuwelinge wat gister by Metanoia ingetrek het. Haar pa en ma, mnr Vic en mev Mandi Barnard, het haar met die tasse gehelp.

Groot opgewondenheid heers op kampus. (Foto: Anton Jordaan)

“Ek weet regtig nie hoe ek voel nie, maar ek is opgewonde om my studies te kan begin,” sê Yolandi, wat Wingerd- en Wynboukunde gaan studeer.

Nog ’n inwoner van Metanoia, Kyle Trotter van Athlone, het gesê: “Die US is baie divers, en ek hoop om baie te leer.” Kyle gaan Regte studeer en is veral dankbaar dat die US twee beurse aan hom toegeken het.

Michael Kok van Kaapstad, wat vanjaar sy BRek-studies gaan aangepak, was ewe opgewonde om ’n inwoner van Helshoogte-koshuis te word. “Ek is bly om hier te wees en wil graag baie vriende maak”, het hy gesê.

Die opgewondenheid was duidelik sigbaar toe Danielle Terblanche van Brackenfell haar intrek by Irene geneem het. Sy gaan ’n graad in die Visuele Kunste volg. “Ek is opgewonde, wil vriende maak en ’n lekker tyd hê,” het sy gesê.

Die US se amptelike verwelkomingsprogram vir nuwelingstudente skop op Donderdag 26 Januarie af met ’n byeenkoms vir eerstejaars en hul ouers in die Danie Craven-stadion by Coetzenburg. Die verwelkomingsweek kom op Saterdag 4 Februarie tot ’n einde, waarna die akademiese klasse op Maandag 6 Februarie begin.

Om te verseker dat eerstejaars goed inskakel by hul onderskeie fakulteite, dat hulle die kampus leer ken, en dat hulle vertroud raak met die groot verskeidenheid ondersteuningsdienste wat die US bied, is dit noodsaaklik dat hulle saam met hul ouers Donderdag se verwelkomingsprogram bywoon.