Gebruik gapingsjaar om entrepreneur te word

Die idee van ‘n gapingsjaar, tipies om los werk in Londen, Europa of elders te doen, het veral onder skoolverlaters posgevat omdat baie nog onseker is oor wat hulle in die lewe wil doen en bereik.  Selfs ná só ‘n gapingsjaar weet baie nog steeds nie eintlik wat hul wil doen nie.  Die rede hiervoor is dat daar nie altyd struktuur of leiding met so ‘n jaar gepaard gaan nie.

Om dit die hoof te bied, het die publieke bestuursontwikkeling en opleidingsmaatskappy van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool, USB Bestuursontwikkeling (USB-BO), ʼn entrepreneursprogram saamgestel om juis ʼn gapingsjaar so produktief as moontlik te maak.

Die program word vanjaar op Stellenbosch vanaf 6 Februarie en Lynwood, Pretoria vanaf 20 Februarie aangebied.

Die program is nie net vir skoolverlaters nie, maar ook vir studente wat hul studies gestaak het, asook jong gegradueerdes wat vir hulself werksgeleenthede wil skep.

Volgens DeWet Schoeman, die gapingsjaar-programleier by USB-BO, is die idee om entrepreneursdenke by deelnemers aan die program aan te wakker en toe te lig.  Dit sal hulle leer hoe om self geleenthede te identifiseer en te skep vir ʼn moontlike toekomstige loopbaan.

“Die gedagte is nie dat deelnemers noodwendig regstreeks ná die program ʼn onderneming op die been moet bring nie.  Die fokus is eerder om entrepreneursdenke aan te wakker en om ʼn persoon te help om sy voete te vind, agter te kom wie en wat hy of sy is en watter rigting in die lewe ingeslaan wil word,” het Schoeman gesê.

Die program, wat oor tien maande aangebied sal word, bestaan uit twee fases.

Die eerste fase, wat meer teoreties van aard is en waartydens drie oggende per week klas geloop sal word, dek drie ontwikkelingsareas.  Die eerste area handel hoofsaaklik oor selfontdekking en wat ʼn persoon uit die lewe verlang.  Die tweede handel oor die ontwikkeling van entrepreneursdenke en hoe om geleenthede te identifiseer en daarop te kapitaliseer om sodoende vir jouself en ook ander welvaart te skep.  Derdens behels dit die basiese beginsels van hoe om ʼn klein- tot middelslag-onderneming te vestig en te bestuur.

Hiermee saam word die leerproses versterk deur middel van ʼn proses van lewensafrigting waar leerders gehelp word om hulself en ander te verstaan en te aanvaar, struikelblokke te oorkom en persoonlike uitdagings te aanvaar.

Die tweede fase is meer prakties van aard en bied die geleentheid aan deelnemers om dit wat hulle in die eerste fase geleer en ontdek het, in die praktyk toe te pas.

Terwyl daar wel ondersteuning gegee sal word om ʼn werkgeleentheid of ander ontwikkelingsgeleentheid te identifiseer, sal deelnemers primêr verantwoordelik wees om self te sorg dat hulle blootstelling aan die werksomgewing en sakewêreld kry in die areas wat hul vir hulself identifiseer.

Tydens hierdie fase word ook van leerders verwag om ʼn persoonlike lewensplan saam te stel, asook ʼn sakeplan vir ʼn sake-idee van hul eie keuse.  Hierdie plan moet vir finale evaluering aan ʼn paneel voorgedra word.  Tydens hierdie fase sal van deelnemers verwag word om gereeld terug te rapporteer oor hul ervarings en ontwikkeling.

Dit is wel moontlik om in die tweede fase in Londen of elders te gaan werk, met terug-rapportering wat dan oor die internet gedoen kan word.

Die “avontuur” om oorsee te gaan word dus nie ontmoedig nie.  Deur dit egter met ʼn beter kennis van jouself, vermoëns en entrepreneursvaardighede te doen, sal ʼn persoon soveel beter daarvoor toegerus wees en baie meer waarde daaruit put vir sy of haar se toekoms.

Teen die einde van die program sal van deelnemers vereis word om ʼn besigheidsplan voor te lê ten einde ʼn sertifikaat in entrepreneurskap en sakebestuur te verwerf.

“‘n Gapingsjaar hoef nie ʼn oorlewingsjaar te wees nie, maar eerder ʼn gestruktureerde ontdekkingsjaar,” het Schoeman gesê.

3 Reaksies op “Gebruik gapingsjaar om entrepreneur te word”

  1. Please send me more informaiton.

    Sincere,thanks.

  2. Hello Ogunranti David Babajide. Please send an email to info@usb-ed.com and we’ll get in touch with you.

  3. OGUNRANTI DAVID BABAJIDE January 29, 2012 om 19:56

    presently having some academic challenges at OBAFEMI AWOLOWO UNIVERSITY. ILE-IFE. NIGERIA. I WILL LOVE TO TAKE PART IN THE PROGRAM

Lewer kommentaar