Nuweling Maties beleef MAL tyd op kampus

Eerstejaarstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) beleef hierdie week ‘n MAL tyd op kampus. As deel van die Verwelkomingsprogram, neem nuwelingstudente vir die heel eerste keer deel MAD² (Making A Decision 2 Make A Difference), oftewel MAL² (Maak Ander Lewens Makliker viA Liefdadigheid).

MAL² is ʼn studente-gedrewe fondsinsamelingspoging wat direk geskakel is met die Studenteraad en studente direkte inspraak gee in die funksionering van die program. Die program sluit verskeie studente-geleenthede in met die einddoel om fondse in te samel vir Maties Gemeenskapsdiens (MGD). Alle fondse deur MAL² ingesamel sal aan MGD oorbetaal word.

Die geleenthede (sien info onder) is onder meer Bondelsport (Ma 30 Jan 18:00 by Coetzenburg), Vensterversierings (Do 2 Februarie vanaf 19:00), die Gemeenskapsdag (Vr 3 Februarie), March for MADness, (Sa 4 Februarie vanaf 10:30 deur die strate van Stellenbosch) en die Gemeenskapsfees (Sa 4 Februarie vanaf 12:00 by die Van der Stel sportgronde).

“Dit mag voorkom of die geleenthede dieselfde is as dié wat deur die Maties JOOLkomitee in die verlede aangebied is, maar die geleenthede soos georganiseer deur Maties MAL² word sakpas aangebied om aan te sluit by die Universiteit se Verwelkomingsprogram,” se me Angelique Mills, Hoofkoördineerder van MAL² en Studenteraadslid.

“Maties MAL² wil elke student die geleentheid bied om pret te hê, maar ook om terug te gee aan die gemeenskap. Dit word bereik deur minder geld te spandeer aan die geleenthede, deur minder tyd eisende geleenthede aan te bied en deur geleenthede te hê wat minder tyd verg wat voorbereiding betref.”

  • Kliek hier vir ‘n video oor die Bondelsport wat gehou is op Maandag 30 Januarie.

MEER INLIGTING OOR DIE VERSKILLENDE GELEENTHEDE

Bondelsport – 30 Januarie
Hierdie geleentheid vind plaas op die Coetzenburg-velde om 18:00. Dit bestaan ​​uit boeresports gehou in kompetisie tussen nuweling-studente, wat namens hul koshuise deelneem. Dit is ‘n prettige geleentheid, wat klem lê op elke huis se gees en entoesiasme.

Vensterversierings Straatteater – 2 Februarie

Vensters is een van die kleurvolste aande wat ’n mens op Stellenbosch se kampus kan beleef en lok elke jaar meer toeskouers as enige ander geleentheid. Die verwelkomingspare het die uitdaging om toeskouers en beoordelaars te beïndruk met interessante storielyne en danspassies – alles binne 10 minute! Die produksies word die hele aand herhaal sodat die publiek verskeie verwelkomingspare se vertonings kan bywoon.
Die vertonings begin om 19h00 en eindig om 23h00. ‘n Toegangsarmband kos R10, en is beskikbaar die week voor Vensters in die Neelsie, en op die aand by die onderskeie ingange. Jou armband is jou toelating tot al 22 produksies!

Gemeenskapsdag – 3 Februarie

As jy gewonder het waar al die geld heen gaan wat tydens die verwelkomingsweek ingesamel word, is hierdie die plek waar jy moet wees. Inisiatiewe van die Eenstop Diens projekte asook Matie Gemeenskapsdiens projekte (studentgedrewe gemeenskapsprojekte) word op hierdie dag uitgevoer. Die gemeenskapsdag bied nuweling Matie studente die geleentheid om betrokke te raak by die gemeenskap.

March for MADness – 4 Februarie
Die March for MADness is ‘n opwindende gebeurtenis wat die hele Stellenbosch gemeenskap bymekaar bring! Verwelkomingspare kry die geleentheid om oorspronklike kostuums te skep om hul verwelkomingsweek ten toon te stel, en deur die strate van Stellenbosch te paradeer. Ander vermaak sal ook plaasvind gedurende die March for MADness.

Hierdie dag bied ‘n gulde geleentheid om ‘n bydrae te lewer tot die MAD²poging, deur enige los geld in blikkies te gooi wat deur studente in die optog geskud word! Die optog sal om 10:30 begin.

Carling Black Label Gemeenskapsfees – 4 Februarie
Op Saterdag 4 Februarie vind die Gemeenskapsfees plaas. Hierdie daglange fees sluit in kos en speletjie stalletjies, sowel as musikale vermaak wat die hele gesin sal kan geniet. Die fees lok duisende mense van regoor die Kaap. Kom en geniet hierdie opwindende dag met goeie musiek en vriende. Die fees begin om 12:00. Kaartjies kos R25 en is beskikbaar by die ingange.

Boekhoek (tweedehandse boekverkope)– open op 6 Februarie eindig 2 Maart

Boekhoek is ’n tweedehandse boekwinkel met ’n verskil. Dit gee studente die kans om hul ou handboeke te verkoop en tweedehandse boeke vir ’n appel en ’n ei aan te koop. Verder word boeke wat nie verkoop of opgeëis nie, aan verskillende gevangenisse geskenk vir hul leerprogramme. Die Boekhoek is oop vanaf 6 Februarie tot 2 Maart elke dag tussen 12h00 en 14h00 en is geleë op die boonste verdieping van die Neelsie.

Coca-Cola Big Bleed – 6-10 Februarie

Die Coca-Cola Big Bleed gee aan studente die geleentheid om bloed te skenk en terselfdertyd SMOEG-punte te verdien. Hierdie jaar vind Big Bleed in Februarie in die Vroue Vereniging Saal, op die derde verdieping van die Neelsie plaas. Kom maak ’n verskil en red ’n lewe deur bloed te skenk tussen 10h00 en 15h30.

3 Reaksies op “Nuweling Maties beleef MAL tyd op kampus”

  1. Die optog begin by die Neelsie se parkeerterrein, af in Victoriastraat tot in Ryneveldstraat, links tot by Kerkstraat, regs af tot in Birdstraat waar dit later eindig.

  2. Ja, ek wil ook graag weet watter strate gesluit gaan word. Kan die inligting asb beskikbaar gestel word?

  3. Watter straatroete word tydens die march for MADness gevolg? Dieselfde as gedurende 2011 se jool?

Lewer kommentaar