Dinklees-program bied hupstoot vir Afrikaans as wetenskapstaal

‘n Groot hupstoot vir Afrikaans as wetenskapstaal. Dit is die algemene gevoel na die bekendstelling van Dinklees met ʼn plan: ʼn kursus in gevorderde taalvaardighede. Dié program, wat verlede week deur die Taalsentrum van die Universiteit Stellenbosch (US) amptelik bekendgestel is, help studente maar ook ander gebruikers van Afrikaans om met groter begrip te lees.

Dinklees

Prof Magda Fourie-Malherbe, Viserektor: Onderrig; dr Tobie van Dyk, Hoof van die Eenheid vir Afrikaans en Engels; mnr John Blanckenberg, Programmeerder; me Collena Blanckenberg, kursusontwerper en prof Russel Botman, Rektor and Visekanselier.

Die program bestaan uit ʼn handleiding en rekenaarprogrammatuur wat in kombinasie gebruik word. Die handleiding, bestaande uit tekste, hulpnotas, 75 oefeninge en 16 voor- en natoetse is georganiseer binne agt modules op twee vaardigheidsvlakke.

“Die ontwerp en programmering het vyf jaar se intensiewe werk gekos en is gebaseer op onder meer navorsingsresultate van ʼn loodsprojek wat in 2006 met eerstejaarstudente in die Fakulteit Ingenieurswese aan die US uitgevoer is,” het kursusontwerper Collena Blanckenberg verduidelik. Sy het saam met die programmeerder, John Blanckenberg, voorbeelde uit die program by die bekendstelling gedemonstreer.

Dr Tobie van Dyk, Hoof van die Eenheid vir Afrikaans en Engels by die Taalsentrum, het by die geleentheid gesê dat akademiese voorbereidheid van studente internasionaal kommerwekkens is. In Suid-Afrika verlaat 35% die stelsel in die eerstejaar en dat slegs 35% op die ou einde gradueer. By die US is die retensiekoers die afgelope vier jaar 86,4%, maar die Universiteit kan hierop verbeter het dr Van Dyk gesê.

Wat die deurvloeikoers betref is daar verskeie faktore buite beheer van hoëronderwys soos sosio-ekonomiese faktore, die nalatenskap van apartheid en ʼn gebrekkige onderwysstelsel. “Binne beheer van die hoëronderwys is die welstand van studente, hul tydsbestuur en studievaardighede en dan ook hul vlakke van taalvaardigheid. Taalvaardigheid beïnvloed akademiese sukses.”

Aan die US het dr Van Dyk verder verduidelik is daar verskeie inisiatief, heelparty onder die vaandel van die HOOP Projek, wat studentesukses verseker. Die Taalsentrum is veral gemoeid met taalverwerwing en -vaardigheid en ook akademiese geletterdheid. Dis hier waar Dinklees ʼn oplossing kan bied.

Vroeër het dr Van Dyk gesê daar is ʼn “toenemende onvermoë by sprekers van verskillende tale om met nadenke te lees en skryf. Hierdie onvermoë veroorsaak ingrypende studieprobleme by universiteitstudente wat die akademiese diskoers as ‘vreemde taal’ ervaar. Dit geld vir histories-benadeelde studente wat in hul tweede- of derdetaal studeer, maar toenemend ook vir tradisioneel bevoorregte studente wat in hul moedertaal studeer. Die gevolg is dat sommige tou opgooi reeds voor die einde van hul eerste studiejaar of in die loop van hul voorgraadse studie.”

Leesvaardigheid – akademies of nie-akademies – verg veel méér as akkurate kennis van woordeskat en grammatika. “Die program fokus dus op ʼn spektrum van hoërorde-taaldenkvaardighede wat aan die hand van leestegnieke soos oorhoofs lees, analities lees (vir kritiese onderskeidingsvermoë), vluglees en soeklees, ontwikkel word,” sê dr Van Dyk.

Hierby het prof Leon de Stadler, Direkteur van die Taalsentrum, gevoeg dat die sentrum begin het om die probleem pro-aktief die hoof te bied. “Die US-Bestuur maak erns met Afrikaans as wetenskapstaal. Daarom is die leesprogram in Afrikaans ontwerp eerstens vir Stellenbosse Afrikaanse studente en studente wat hul Afrikaanse leesvaardighede wil verbeter.”

By die bekendstelling het prof De Stadler gesê dat taalbeplanning nie net gaan oor die bevordering van taal nie, maar oor mensbevording. “Ten diepste gaan dit oor mense. Via ʼn diversiteit van dienste wil ons mense bemagtig en hul help om taal effektief te benut.”

Prof De Stadler het ook gesê dat die US ʼn spesiale plek gee aan Afrikaans. “Dit is lekker om iets te doen vir Afrikaans.”

In sy verwelkoming by die geleentheid het hy me Louise Combrink van die Vriende van Afrikaans en mnr Jack Louw van die Taalmuseum vir hul bydrae tot die program uitgesonder.

Prof Magda Fourie-Malherbe, Viserektor: Onderrig, het in haar gelukwensingsboodskap gesê dat die program daarin gaan slaag om studente “werklikwaar diep te laat leer” en dat dit “diep denke gaan aanmoedig.” Die program demonstreer weer die baanrebrekers werk wat die US se Taalsentrum doen end dat dit ʼn besondere rol speel om Afrikaans te bevorder. Dit is belegging in Afrikaans, in meertaligheid en in ons toekom het sy bygevoeg. “Ek sien daarna uit om te sien hoe dit taalaanleer gaan verander.”

Dinklees met ʼn plan: ʼn kursus in gevorderde taalvaardighede gaan danksy die generiese aard daarvan wyer bemark word – ook aan ander Afrikaanssprekende studente én volwassenes wat hul dinkleesvaardighede wil opskerp. Ook matriekonderwysers kan veral Vlak 1 van die program gebruik om matriekleerlinge voor te berei op die eise van akademiese studie.

Terugvoer oor die program is reeds baie positief. Die bekende rubriekskrywer en akademikus, prof Wilhelm Jordaan, beskryf dit as “een van die beste uiteensettings oor studielees” wat hy nog gesien het en as “noodsaaklike terapie” om die uitdaging van studente se leesagterstande die hoof te bied.

  • Skakel met me Collena Blanckenberg by tel 021 887 8327 vir meer inligting oor die program.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar