Eerstejaars stel nuwe wêreldrekord op
1500 menslike dominoes, aërobiese rekspronge en dans op die maat van Dancing Queen van Abba, rondspartel soos visse op droë grond en lepellê. Dit was van die interessante items waarmee eerstejaarstudente van die Universiteit Stellenbosch (US) se Validus-kluster meen hulle het ʼn nuwe wêreldrekord opgestel vir die grootste groep mense wat dié items gelyktydig binne ʼn uur gedoen het.

Menslike dominoes! Eerstejaars van die Academia-koshuis neem deel aan 'n poging om 'n nuwe wêreldrekord op te stel
Die poging deur die kluster bestaande uit die koshuise Goldfields, Academia, Huis Marais, Huis Visser, Simonsberg, ISA en die privaatstudentewyk Olympus is gedoen in die naam van kameraderie en die bou van spangees. Dit geleentheid is op Vrydag 27 Januarie by die Lentelus-sportterrein gehou.
“Ek was mal daaroor. Ek het baie nuwe kontakte gemaak en voel nou baie meer gemaklik daaroor om op 6 Februarie te beging klasbywoon,” was ʼn Simonsberg eerstejaar se reaksie. En volgens mnr Brian van Vuuren, Simonsberg HK-lid vir die Kluster was dit fantasties om die eerstejaars met mekaar te sien skakel en vriende buite hul eie gemaksone te maak. “Hierdie bande sal verseker groei soos die jaar aangaan. Die wêreldrekordpoging was ʼn spesiale geleentheid. Die eenheid wat bereik is in daardie paar minute toe die rekord opgestel is, is onvergelykbaar met enigiets anders. En die eerstejaars het duidelik ʼn fantastiese tyd gehad.”
Mnr Noel Bekkers, koördineerder van die Validus-kluster, het vroeër gesê dat die geleentheid is sodat eerstejaars kon vriende maak en verhoudings met mentors kon opbou wat hulle in hul studies kan bystaan.
“So leer hulle mekaar op sosiale wyse ken voordat die akademiese jaar afskop. Ons wil hulle ook blootstel aan ander studente in die kluster wat dieselfde of ander kursusse studeer en om gesonde vriendskappe en aktiwiteite in die kluster te bevorder. Validus wil ook sy studente as kampioene en baanbrekers bekendstel wat eendag buitengewone dinge gaan vermag as leiers in die gemeenskap,” sê Bekkers.
Hierby voeg mnr Chris Delport, Sameroeper van die Validus Kluster, dat die geleentheid nie net ʼn ervaring vir die eerstejaars is wat hulle vir ʼn baie lang tyd sal onthou nie, maar ook ʼn “lewende voorbeeld van hoe vriendelik, gasvry en menswaardig die verwelkomingsprogram aan die Universiteit en sy koshuise werklik is.”
ʼn Aansoekproses is aan die gang gesit en die nodige bewyse van die rekord word na ʼn liggaam vir wêreldrekords gestuur vir opname.
Vir meer besonderhede, skakel Noel Bekkers by 079 492 9501.

January 30, 2012 

Geen kommentaar tot op hede nie...