Eerstejaars raak betrokke by gemeenskap

Studente verf 'n klimraam by Pieter Langeveldt in Cloetesville. (Foto: Anton Jordaan)

Ongeveer 3 000 eerstejaar Maties het Vrydagoggend (3 Februarie) die geleentheid gekry om betrokke te raak by een van die kernfunksies van die Universiteit Stellenbosch (US) – gemeenskapsinteraksie – tydens die MAL² Gemeenskapsinteraksie oggend (video).

Die MAL² Gemeenskapsinteraksie oggend maak deel uit van die MAL² (Maak Ander Lewens Makliker viA Liefdadigheid) bedrywighede. As deel van die Verwelkomingsprogram, neem nuwelingstudente vir die heel eerste keer deel aan MAL², ‘n studente-gedrewe fondsinsamelingspoging wat direk geskakel is met die Studenteraad en studente direkte inspraak gee in die funksionering van die program. Die program sluit verskeie studente-geleenthede in met die einddoel om fondse in te samel vir Maties Gemeenskapsdiens (MGD). Alle fondse deur MAL² ingesamel sal aan MGD oorbetaal word.

Die Gemeenskapsinteraksie oggend het leesprogramme, sport aktiwiteite, verfwerk en tuinwerk ingesluit wat by verskeie skole in die omgewing aangebied is, asook die skoonmaak van die Plankenbrug rivier. Die skoonmaak van die rivier het in samewerking met die Stellenbosch Munisipaliteit plaasgevind.

Baie van Vrydag se inisiatiewe is bestaande, geregistreerde Eenstopdiens-projekte, maar nuwe projekte soos die skoonmaak van die rivier en ‘n sportprogram by Hoërskool Stellenbosch, is egter bygevoeg. Eenstopdiens bied die geleentheid aan studentegroepe om in vennootskap met bestaande diensleweraars betrokke te raak by verdienstelike langtermyn-gemeenskapsprojekte. Die projekte fokus op onderwysondersteuning, lewensvaardighede, sport, kuns en kultuur, asook primêre gesondheidsorg.

Prof Julian Smith, Vise-Rektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, het Vrydagoggend die studente wat oppad was om die Plankenbrugrivier te gaan skoonmaak aangemoedig en gesê dit is wonderlik om hulle ingesteldheid en bereidwilligheid te sien en dat hulle ‘n groot impak op die dorp gaan maak.

“Ons wil julle graag ondersteun. Hier by die US span ons, ons kundigheid in tot diens van die samelewing. Ons as Universiteit wil ‘n blywende impak maak, ons is ewe entoesiasties oor ons dorp, streek en land. Dankie dat julle tyd afstaan en gewillig is om deel te neem,” het prof Smit gesê.

Raadslid Quintin Smit van die Stellenbosch Munisipaliteit het gesê die Plankenbrug en Eersterivier is soos die lewensare van die dorp “en daarom is dit noodsaaklik dat ons dit skoon hou”. “Namens die munisipaliteit en inwoners van Stellenbosch wil ek julle bedank vir julle bereidwilligheid om hierdie belangrike werk te doen – ek hoop dit sal ‘n deurlopende en volhoubare projek wees,” het hy bygevoeg.

Byron Booysen, Studenteraadslid verantwoordelik vir Gemeenskapsinteraksie, het gesê deur die Gemeenskapsinteraksie Oggend wil Maties voortbou op die kultuur van gemeenskapsbetrokkenheid wat by die US bestaan.

Verskeie manskoshuise, waaronder Simonsberg, Olympus, Helderberg en Elsenburg het vanaf 09:00 die Plankenbrugrivier getakel en gewapen met handskoene en toerusting om vullis mee op te tel swartsakke vol rommel van die rivieroewer verwyder.  Joubert van der Merwe, ‘n Huis Komitee-lid (HK) van Elsenburg, het erken dat dit nie die lekkerste ding is wat hy nóg gedoen het nie, “maar ons moet almal ons deel doen vir die gemeenskap en iemand moet die rivier help skoonmaak”.

Huis Marais en Serruria was op hul beurt by Pieter Langeveldt Primêre Skool in Cloetesville besig met sportaktiwiteite, lees-en ook verfwerk. “Dit is lekker om terug te gee aan die gemeenskap en ons gaan beslis weer terugkom,” het Willem Engelbrecht, ‘n HK-lid van Huis Marais gesê. “Dit eindig nie vandag nie want ons doen twee keer ‘n week sportafrigting hier.”

Louis Kritzinger, eerstejaar Meganiese Ingenieurswese student van Johannesburg, het gesê: “Dit is die eerste keer in my lewe wat ek so iets doen en dit is nogal lekker – ek sal graag weer betrokke wil wees by sulke geleenthede.”

By iKaya Primêre Skool in Kayamandi was Venustia en Pieke hard aan die werfskaf met toebroodjies maak, verf en ook tuine nat lei. Peru Liebenberg, ‘n eerstejaar van Namibië wat LLB studeer, het vertel dat hy al van kleins af lief is om ander te help. “Dis vir my ‘n groot voorreg om betrokke te wees hierso.”

Venustia HK-lid, Elsché Eygelaar, het gesê sy is baie trots om te sien hoe opgewonde en entoesiasties die eerstejaars almal ingespring en hulle deel gedoen het.

  • Die Universiteit se Verwelkomingsweek kom Saterdag, 4 Februarie tot ‘n einde met die  March for MADness optog en die Gemeenskapsfees. Tydens die March for MADness sal studente in oorspronklike kostuums deur die strate van Stellenbosch paradeer. Die optog begin om 10:30, terwyl die Gemeenskapsfees vanaf 12:00 by die Van der Stel sportgronde plaasvind.

4 Reaksies op “Eerstejaars raak betrokke by gemeenskap”

  1. Tinkie Nortmann February 9, 2012 om 22:27

    Great. Dink net dat dit baie meer bemarking moet geniet.

  2. Wonderlik!

  3. Well done Maties. Vandag se kinders beïndruk my elke dag meer en meer

  4. keep up the good work

Lewer kommentaar