Internasionale Manshokkie op Coetzenburg

Die Suid-Afrikaanse Manshokkiespan sal eersdaags in twee toetswedstryde teen die span van Groot-Brittanje op Coetzenburg meeding. Die wedstryde sal onderskeidelik op Dinsdag, 7 Februarie en Saterdag, 11 Februarie plaasvind. Beide toetswedstryde sal om 19:00 begin.

Die kragmetings vorm deel van ‘n drie-toets reeks waarvan die eerste toets op Hartleyvale in die Kaap gespeel gaan word (Vrydag, 3 Februarie). Die reeks dien as voorbereiding vir beide spanne se internasionale seisoene – Groot Brittanje sal by die Olimpiese Spele in Londen deelneem, en Suid-Afrika sal poog om ook vir hierdie internasionale skouspel te kwalifiseer wanneer hulle aan ‘n kwalifiserende toernooi in Japan gedurende April deelneem.

“Coetzenburg is ‘n gesogte bestemming vir internasionale hokkie, en in die verlede het dit al reeds verskeie internasionale vrouespanne – onder andere dié van Duitsland, Nederland en Australië – gehuisves,” sê me Jackie Wiese, Direkteur van Maties Sport. “Hierdie is egter die eerste internasionale manswedstryde wat by die hokkiekompleks sal plaasvind, en ons sien verseker uit na opwindende wedstryde van die hoogste gehalte.”

Toegangsfooie vir die wedstryde sal onderskeidelik R30 vir volwassenes en R10 vir skoliere wees. Vir verdure inligting, besoek gerus die Maties Hokkieklub se webwerf by www.sun.ac.za/hockey

Addisionele bron: www.sahockey.co.za

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar