SA ekonomie ‘nie volhoubaar’ – prof Mark Swilling
Suid-Afrika se oorafhanklikheid van natuurlike hulpbronne en goedkoop energie voorspel probleme vir die volhoubaarheid van die ekonomie. Só het professor Mark Swilling van die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Publieke Leierskap (SPL) Woensdag (22 Februarie 2012) gesê in ʼn toespraak by die eerste Stellenbosch Forum van die jaar.
Die Stellenbosch Forum is ‘n lesingreeks wat navorsing meer toeganklik wil maak. Prof Swilling se bydrae was gegrond op ’n nuwe boek, Just Transitions – Explorations of Sustainability in an Unfair World, wat hy en me Eve Annecke, ‘n buitengewone dosent by die SPL, saam geskryf het.
Terwyl die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, reggemaak het om die jaarlikse begrotingstoespraak Woensdag te lewer, het Swilling die regering se ekonomiese beleid gekritiseer. Hy het aspekte van president Jacob Zuma se onlangse openingsrede in die Parlement uitgesonder.
“Sprake van infrastruktuurbeleggings om dit doeltreffender te maak om ons grondstowwe na die BRIC-lande (Brasilië, Rusland, Indië en China) te verskeep teen pryse wat staatsubsidies sal vereis, het ons ergste vrese bevestig,” het Swilling gesê.
“Dit wil voorkom of ons tot daardie klub toegelaat is op voorwaarde dat ons ons minerale teen verlaagde pryse aan die hulpbron-honger BRIC-lede verkoop. Dit ondergrawe ons vermoë om te groei op maniere wat meer werk skep en gelykheid bewerkstellig.”
Sedert 2010, toe Suid-Afrika as lid van die BRIC-groep van die voorste ontluikende ekonomieë ingelyf is, is die struktuur as BRICS bekend. In hul boek hou Swilling en Annecke vol dat Suid-Afrika se rol in BRICS weinig meer is as die van ‘n ”verskaffer van primêre hulpbronne”.
In sy lesing gister sê Swilling: “Ons ontleding doen aan die hand dat hulpbron-nasionalisasie eintlik ‘n veel beter idee is as hulpbron-prostitusie.”
Hy is ewe krities oor die regering se klem op goedkoop energie. Die elektrisiteitsmaatskappy en semistaatsinstelling Eskom stel tans drie ou steenkoolkragstasies weer in diens, en bou nog twee groot nuwe aanlegte. Syfers van die Verenigde Nasies toon dat Suid-Afrika reeds die 12de grootste vrysteller van koolstofdioksied ter wêreld is.
Swilling voer aan dat “hoër eerder as laer energiepryse die aansporing sal wees vir die beleggings in energiedoeltreffendheid en hernubare energie wat ons eintlik nodig het”.
Swilling en Annecke waarsku dat steenkoolreserwes waarskynlik vroeër sal opraak as wat almal verwag. Hulle wys daarop dat onlangse portuurbeoordeelde navorsing die oorblywende voorraad van dié fossielbrandstof in Suider-Afrika op 10 miljard ton skat – nie die 28 miljard ton wat amptelik geraam is nie.
“Namate baie van die wêreld se grootste maatskappye vir die volgende industriële revolusie voorberei, verstewig Suid-Afrikaners eerder hul pogings om aan 20ste-eeuse tegnologieë en ekonomiese stelsels vas te klou,” meen Swilling.
“Ons reken Suid-Afrika se ontwikkelingsdoelwitte en demokratiese instellings is in gevaar weens ons versuim om ons afhanklikheid van die mineraalenergie-kompleks te verbreek.”
Swilling en Annecke voer aan dat, soos die res van die wêreld, Suid-Afrika hom midde-in ʼn ontsaglike oorgang bevind namate die krisis van die huidige industriële siklus verdiep. Hoewel ‘n “nuwe wêreldwye groen ekonomie” wink, is “‘n meer ekologies lewensvatbare en laerkoolstof-wêreld” allermins gewaarborg. Slim beleidsbesluite is nodig om ekonomiese groei en ontwikkeling van toenemende hulpbrongebruik te “ontkoppel”.
“Die alternatief is ‘n resep vir trae groei deur hewiger hulpbronontginning en skuldgefinansierde verbruik wat dalk vir die elite werk, maar nie daarin slaag om die nodige werksgeleenthede en materiële grondslag vir die uitwissing van armoede te skep nie,” betoog hulle.
Annecke is die stigtersdirekteur van die Volhoubaarheidsinstituut by die Lynedoch-ekodorp, wat sy en Swilling in 1999 tot stand gebring het. Dié dorp langs die R310 buite Stellenbosch word as “die eerste doelbewus ekologies ontwerpte, sosiaal vermengde gemeenskap in Suid-Afrika” bestempel.
Annecke het gister gesê haar “geleefde ervaring” hiér het haar insigte oor volhoubaarheid help rig. Die dorp het ʼn toenemende aantal huise met “groen” kenmerke soos sonwaterverhitters, en ‘n kleuter- en laerskool vir die kinders van die inwoners sowel as plaaswerkers van die omgewing.
Dít is ook waar Swilling en Annecke hulle magisterprogram aanbied wat studente die geleentheid bied om persoonlike ervaring in volhoubare ontwikkeling op te doen.
“Ons studente het al in 2004 vir ons begin sê: ‘Almal weet die planeet is in die moeilikheid. Ons wil leer wat ons daaraan kan doen.’ So, dít is waarop ons konsentreer,” sê Annecke.
Buiten sy rol in die SPL, is Swilling ook projekleier van die US se TsamaHub, synde die Sentrum vir Kruisdissiplinariteit, Volhoubaarheid, Beoordeling, Modellering en Ontleding. Die TsamaHub maak deel uit van die Universiteit se HOOP Projek, wat ontwikkelingsuitdagings in die samelewing die hoof bied. Swilling is boonop lid van die hoëvlak- internasionale hulpbronpaneel van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP).
- Just Transitions is bekombaar teen R385. E-pos orders@onthedot.co.za of bel +27 21 918 8500 vir bestellings.

February 22, 2012 

http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/736
http://www.thoughtleader.co.za/ismaillagardien/2011/12/30/theres-something-odious-about-academic-publishing/