Groen kwessies gee ekstra woema aan US Woordfees
Die vele besprekings rondom groen kwessies gee vandeesweek ekstra woema aan die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees wat reeds vanjaar rekordverkope toon wat kaartjies betref.

Leeg groen! Elsabe Brits (Die Burger), Dave Pepler, omgewingsaktivis, Lynette Francis, RSG en Heidi Prozesky, US (Foto: Justin Alberts)
Gister (5 Maart 2012) was die tema van die Diskoers-reeks Hoe lewe ʼn mens ‘groen’? Dié vraag het Elsabé Brits van Die Burger, Dave Pepler, bekende omgewingsaktivis en dosent aan die US en Heidi Prozesky, verbonde aan die US se Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie Maandagoggend (5 Maart) tydens ʼn gespreksessie by die Plataan-kafee probeer beantwoord. Die program is lewendig uitgesaai op die program Praat Saam aangebied deur Lynette Francis.
Brits het gesê dit is klein goedjies soos om kraanwater in plaas van gebottelde water te drink en ligte afskakel wanneer ons ʼn vertrek verlaat wat ʼn verskil kan maak. Pepler meen ons moet self die inisiatief neem om ‘groen’ te leef en nie op die regering wag om besluite namens ons te neem nie.
“Dit is moeilik om mense se waardes te verander, en nie almal word oornag ‘groen’ nie,” het Prozesky gesê. Almal moet saam werk om ʼn verskil te maak, het sy bygevoeg. Al drie was dit eens dat ons almal op ʼn individuele vlak tot ʼn volhoubare samelewing kan bydra.
Ook soldate wat normaalweg vir oorlogvoering en vredesoperasies opgelei word, kan help om die omgewing te bewaar, het Kommandeur Hennie Smit van die Militêre Akademie in Saldanha die middag tydens ʼn US Gespreksforum vir Geestes- en Sosiale Wetenskappe by die Plataan-kafee gesê.

Groen militêre omgewings. Prof Olivier Ruppel (Fakulteit Regsgeleerdheid) en Kommandeur Hennie Smit (Fakulteit Krygskunde) - (Foto: Justin Alberts)
“Aangesien dit vir die weermag belangrik is om opleidingsgebiede te beskerm, bied ons kursusse in omgewingsbewaring en -bestuur vir soldate aan ten einde ʼn sensitiwiteit vir die omgewing te kweek.” Oliver Ruppel van die US se Departement Handelsreg het gesê transformasie in Suid-Afrika en nuwe wetgewing vra van weermaglede om ʼn ‘groener’ rigting in te slaan. “Soldate moet nie net reageer op eksterne bedreigings nie, maar ook as omgewingsbewaarders optree,” het hy gesê. Ruppel meen die Reg en die Weermag moet saamwerk om die omgewing te beskerm en te bestuur.
The eerste RSG uitsending gister-oggend ingelui deur prof Dorothea van Zyl, Direkteur van die Woordfees, wat ‘nvoëlvlug gebied het op alles wat vanjaar by die Woordfees beleef kan word, terwyl prof Russel Botman, US-Rektor en Visekanselier, gesê het dat hy graag in sy tweede termyn wil fokus op die Universiteit se volhoubaarheid. Hy het spesiale melding gemaak van die US se fietsry-projek as deel van die instelling se mobiliteitsplan.
Op die kunsfront het die immergroen Jak de Priester (hy vier immers vanjaar sy tiende jaar in die musiekbedryf) sy slag kom wys in die Japie Krige-saal by die Paul Roos Gimnasium. Ou en nuwe treffers is met passie gesing – afgewissel met interessante vertellings oor sy wedervaringe op toer. Groen mamba en Stellenbosch Love Song was groot treffers van die aand terwyl een van sy groot treffers, Sally Williams Nougat, as spesiale toegif gesing is.
- Kaartjies is nog beskikbaar vir slegs enkele vertonings waaronder N is vir Neurose (7 Maart om 20:30 en 11 Maart om 12:30 in die Klein Libertasteater – ouderdomsbeperking van toepassing) en Next customer please… (8 Maart om 20:30 en 10 Maart om 10:00 in die Klein Libertasteater). Kaartjies is ook nog beskikbaar is van die musiekuitvoerings. Sien www.woordfees.co.za vir meer inligting.

March 6, 2012 
Geen kommentaar tot op hede nie...