US vier Volhoubaarheidsdag; fietsry-aflos ‘n hoogtepunt
GaanGroen – vir ‘n groengenerasie! Dit is die tema van die Universiteit Stellenbosch (US) se volhoubaarheidsdag wat Donderdag (15 Maart) gevier word.
ʼn Hoogtepunt is ʼn fietsaflos om 17:30 op die Rooiplein met die US se nuwe MATIE FIETSE. Nagenoeg 20 spanne, bestaande uit personeel en studente, neem aan die pretrit op die Stellenbosch-kampus deel. Die wedren begin by die JS Gericke Biblioteek en volg dan ‘n roete rondom die Wilcocksgebou, op in Victoriastraat tot in Bosmanstraat, deur die parkeerarea by die Neelsie en af tot by die Rooiplein (kliek hier vir die roetekaart).
Pryse is op die spel vir die beste personeel-span, die beste koshuis- of PSO-span en die algehele wenner. ‘n Gelukstrekking word ook aan die einde van die aflos gehou, met ʼn fiets geborg deur Flandria wat gewen kan word sowel as die gratis gebruik van een van die Universiteit se fietse vir ‘n jaar. Daar is ook ʼn groot aantal pryse wat volhoubaarheid aanmoedig.
Personeel en studente word uitgenooi om die trappers te kom ondersteun.
Die aflos is ook die amptelike bekendstelling van die US se fietsry-projek as deel van die instelling se Mobiliteitsplan om motorverkeer op die kampus en in die res van Stellenbosch te verminder en so ’n bydrae tot volhoubaarheid te lewer. Altesaam 400 spesiale pendelfietse wat uit Nederland ingevoer is, is vir dié projek bekom. Om bewustheid vir dié fietsry-projek te skep het ʼn MATIE FIETS-span Sondag suksesvol aan die Cape Argus Pick ‘n Pay Fietstoer met dié enkelspoed-pendelfietse deelgeneem (skakel en video).
Die Volhoubaarheidsdag sluit ook talle opwindende en interaktiewe GaanGroen-uitstallings deur ʼn verskeidenheid studenteliggame, Universiteitsafdelings en -departemente en eksterne organisasies in. Die uitstallings kan in die Neelsie Studentesentrum besoek word. Onder meer word ʼn fiets wat energie opwek gedemonstreer, daar is ʼn organiesewynproe en ʼn uitstalling van die MATIE FIETSE.
Die bekende groen man, mnr Dave Pepler, aanbieder van Groen op KykNET en ʼn dosent aan die US, lewer ʼn praatjie om 13:00 in die Vrouevereniging-saal van die Neelsie Studentesentrum.
Dr Barbara Pool, Bestuurder: Projekte aan die US en organiseerder van die Volhoubaarheidsdag, sê daar is reeds talle volhoubaarheidsinisiatiewe op kampus aan die gang. “Met dié dag toon die Universiteit nie net sy verbintenis tot die bevordering van ʼn volhoubare toekoms nie, ons skep ook ʼn spesiale bewustheid vir volhoubaarheids-inisiatiewe wat ons elkeen kan toepas. Met dié dag sê ons volhoubaarheid is nie ʼn teoretiese konsep nie, maar iets wat prakties toegepas kan word.”
Die Volhoubaarheidsdag vorm deel van die US se HOOP Projek, ʼn universiteitswye inisiatief om via die wetenskap oplossings te vind vir van Suid-Afrika en die kontinent se grootste uitdagings.
Personeel wat hul motors voor geboue parkeer wat op die roete is, word vriendelik versoek om hul motors elders te parkeer en die wedren te kom ondersteun! Deelnemers moet asb onthou dat hulle ‘n valhelm moet dra om te kan deelneem.
- Besoek www.sun.ac.za/volhoubaarheid vir meer inligting oor die US se volhoubaarheidsinisiatiewe of kontak dr Barbara Pool by 021 808 3080 bpo@sun.ac.za

March 13, 2012 
Hi Marius
Die Bicycling Empowerment Network. Hul webblad is:
http://www.benbikes.org.za/
Hulle is genoem in ten minste twee stories oor die MATIE FIETS in hierdie blogs. Hier is ‘n skakel na een:
http://blogs.sun.ac.za/news/af/2012/03/12/argus-success-for-matie-bike/
Desmond
Boy those are some ugly looking bikes. I will not be caught dead riding on such an ugly looking bike.
“A total of 400 commuter bikes have been imported from the Netherlands for this purpose.”
I hope we didn’t pay for these bikes and that they were donated for free. Otherwise this would be a scandal, buying bikes from Europe when we make bikes here in SA.
Kan enige iemand vir my sê, wat die maatskappy se naam is by die fietse aangekoop is? Ek soek al lank vir die naam! Enige hulp?