Leksikograaf Rufus Gouws deur SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer

Hy voel maar klein as hy kyk na wie in die verlede al bekroon is met die CJ Langenhoven prys, wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken word.

Prof Rufus Gouws. (Foto: Stephanie Nieuwoudt)

“Mense soos proff Fritz Ponelis, Johan Combrink, Francois Odendal en Rudie Botha het al in die verlede die prys ontvang. Ek kan nie anders as om klein te voel nie. Maar ek is ook dankbaar,” sê prof Rufus Gouws, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands en een van die voorste woordeboekmakers en teoretiese leksikograwe in die land. Hy het die prys ontvang vir die voortreflike werk wat hy op die gebied van die taalkunde en veral die teoretiese leksikografie doen.

Hy is onder meer hoofredakteur van die HAT en een van die redakteurs van die Fachwörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung, ’n internasionale vakwoordeboek vir leksikografie maar is veral nasionaal en internasionaal bekend as metaleksikograaf.

“Dit was vir my ʼn groot verrassing toe aangekondig word ek kry die prys,” sê Gouws. “Ek het nie eers geweet ek is genomineer nie. As ek kyk na wie al voorheen die prys gewen het, voel ek maar klein. Maar ek is ook baie dankbaar. Die prys word net een keer aan ʼn individu toegeken en ʼn mens voel dankbaar as jy dit wel ontvang.”

Dan voeg hy skertsend by: “Die prys is in die verlede ook al toegeken aan mense wat op die punt was om af te tree, of reeds afgetree het. Ek sien dit egter nie as die punt aan die einde van my loopbaan nie, maar eerder as aansporing om verder te gaan.”

Gouws het sedert hy in 1980 by die Universiteit Stellenbosch begin klasgee het, die dissipline leksikografie as ’n fokuspunt van die Departement Afrikaans en Nederlands se onderrig en navorsing gevestig.

Hy verduidelik: “Leksikografie bestaan uit twee bene. Teoretiese leksikografie is wanneer die leksikograaf teorieë ontwikkel en daarvolgens modelle uitwerk vir die skep van woordeboeke wat op spesifieke gebruikers en gebruiksituasies gerig is. Praktiese leksikografie is die maak van die woordeboek. Die praktiese leksikograaf maak seker die woordeboek lyk soos die modelle wat die teoretiese leksikograaf opgestel het.”

Woordeboeke, sê hy, is vir die gewone lid van die publiek die belangrikste houer van veral taalkundige inligting. Wat in ʼn woordeboek geskryf is, word beskou as die waarheid. Dit is die vertoonvenster van die Taalkunde.

Maar een woordeboek is gewis nie gelyk aan ʼn ander woordeboek nie. “Geen enkele woordeboek kan aan almal se behoeftes voldoen nie,” sê Gouws, “Elke woordeboek is gerig op die gebruiker se bepaalde behoeftes en vaardighede. Baie mense besef nie daar is verskillende woordeboeke vir verskillende gebruikers en behoeftes nie.”

So sal ʼn algemene woordeboek wat gerig is op normale huishoudelike gebruik waar die gesinslede elke nou en dan ʼn woord se betekenis wil naslaan, heeltemal anders lyk as vakwoordeboeke wat spesifiek gemik is op mense in bepaalde spesialisvelde soos onder meer dokters, ingenieurs en leksikograwe. ʼn Grondslagfase-woordeboek sal, wat sy inhoud en aanbieding betref, verskil van woordeboeke vir ander fases in skoolonderrig.

Daar is ook opwindende dinge aan die gebeur wat betref die ontwerp van modelle vir die skep van aanlynwoordeboeke.

“Die internet gee vir die leksikograaf ʼn heel ander greep op woordeboeke,” sê Gouws. “As ʼn mens die inhoud van ʼn gedrukte woordeboek net so op die internet gaan plaas, gaan dit nie veel waarde toevoeg nie. Aanlynwoordeboeke stel die gebruiker in staat om dit volgens sy eie profiel en behoeftes te gebruik. Die gebruiker kan aandui watter soort inligting hy/sy op watter kundigheids- en taalvlak wil hê en daardie spesifieke inligting aan een gemeenskaplike databasis onttrek. So is daar byvoorbeeld mense wat net die betekenis van ʼn woord wil opsoek, ander wil ook grammatiese en etimologiese inligting hê of weet hoe om die woord in bepaalde situasies te gebruik. Vanuit een databasis kan elke gebruiker inligting onttrek wat uitsluitlik op sy/haar behoeftes gerig is.”

Sal die elektroniese woordeboek die gedrukte woordeboek vervang?

“Mense sal al minder van die gedrukte woordeboek gebruik maak, maar daar sal altyd ʼn behoefte aan die soort woordeboek wees – veral in gebruiksituasies waar toegang tot elektroniese woordeboeke nie moontlik is nie.” – STEPHANIE NIEUWOUDT