Sáám keer ons geweld teen vroue, sê sprekers by konferensie

Ons moet almal saamstaan om geweld teen vroue te bekamp.

Dít was die boodskap van sprekers by ʼn konferensie van die Circle of Concerned African Women Theologians wat Vrydag (4 Mei) by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) gehou is. Die konferensie met die tema Gender and Education het deel gevorm van die fakulteit se HOOP Projek-inisiatief Fokus op die Bevordering van Menswaardigheid.

Me Elizabeth Petersen van die South African Faith and Family Institute het gesê kerkleiers, geloofgemeenskappe en nie-regeringsorganisasies moet saamwerk om geweld teen vroue te keer.

Me Elizabeth Petersen aan die woord by die konferensie. (Foto: Alec Basson)

Samewerking tussen die groepe kan ‘n ruimte help skep waarbinne vroue met vrymoedigheid oor geweld teen hulle kan praat, het sy bygevoeg.

Prof Julie Claassens van die US se Fakulteit Teologie het die manier waarop mans en vroue in die media uitgebeeld word gekritiseer en gesê dit versterk die siening dat manlikheid dominansie en geweld veronderstel.

“Daar moet eerder gefokus word op alternatiewe vorme van manlikheid wat deernis en medelye vir ander mense insluit.”

Dr Gerrit Brand by die konferensie. (Foto: Alec Basson)

Volgens dr Gerrit Brand, ook van die Fakulteit Teologie, dra heersende sieninge van manlikheid by tot geweld teen vroue.

Die bemagtiging van vroue in veral die werkplek is een van die maniere om sulke beskouinge uit te daag, het hy gesê.

“Ons het ʼn fantastiese Grondwet en goeie wetgewing, maar min word gedoen om geweld teen vroue hok te slaan,” het me Ilse Ahrends van die Saartjie Baartman Sentrum vir Vroue en Kinders gesê.

Sy meen mans wat geweld teen vroue pleeg wil mag en beheer uitoefen en hul eie onsekerhede verbloem.

Dr Charlene van der Walt, verbonde aan die Nederduits-Gereformeerde Kerk in Maitland, het gesê die idee dat geweld konflik oplos, dra daartoe by dat sommige mans hul vroue slaan.

  • Die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, onder wie se vaandel die konferensie gehou is, bied einde November ʼn konferensie aan met die tema Towards histories of South African intellectual traditions  – the histories and life trajectories of coloured / ‘coloured’/  intellectuals.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*