Stellenbosse sentrum werp lig op Afrika se betrekkinge met China
China is Suid-Afrika se belangrikste handelsvennoot, met uitgebreide ekonomiese, maatskaplike en omgewingsimplikasies. Tog is daar ’n ongelooflike gebrek aan kennis in Afrika oor hierdie ekonomiese reus van die Ooste.

Van links, dr Sven Grimm, Direkteur van die Sentrum vir Chinese Studies, sy eksellensie Tian Xuejun, Chinese ambassadeur in SA, en prof Doug Rawlings, waarnemende vise-rektor: navorsing (Foto: ANTON JORDAAN).
“Daar is soveel potensiaal vir selfs sterker bande tussen Afrika en China, maar die meeste mense se kennis oor China is beperk. Daar is weinig bekend oor die land se politiek, sy omgewingsbeleid en sy ekonomiese en maatskaplike stelsels,” sê dr Sven Grimm, direkteur van die Sentrum vir Chinese Studies (CCS) in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.
Die CCS het in middel-Mei 2012 ’n werkswinkel gehou met die tema “Greening China-Africa relations” met die doel om gedagtewisseling tussen kundiges uit China en Afrika te bevorder. Die werkswinkel is geopen deur sy eksellensie Tian Xuejun, China se nuwe ambassadeur in Suid-Afrika, en prof Doug Rawlings, die waarnemende vise-rektor: navorsing aan die US.
Die betrekkinge tussen China en Afrika is nog ’n oop en onontginde navorsingsveld. Die CCS is die enigste sentrum in Afrika wat hom ten volle toewy aan die studie van betrekkinge tussen China en Afrika.
Die CCS se doelwit is om China se ontwikkelingsrol in Afrika te evalueer, insluitend handel, belegging en buitelandse hulp. Die Sentrum doen ontledings van China-verwante navorsing vir belangegroepe in die regering, sakewêreld, die akademie en nie-regeringsorganisasies.
Inligting word versprei deur middel van die nuusbrief The Weekly China Briefing, die joernaal African East Asian Affairs – The China Monitor asook gereelde beleidsopsommings en besprekingsdokumente.
Dit klink absurd dat ʼn land waar daar vroeër vanjaar ʼn transaksie van R11,08 miljard ($1,3 miljard) beklink is toe die JSE-genoteerde maatskappy Metorex aan die Jinchuan-groep verkoop is, so min kennis van sy handelsvennoot het. ’n Gebrek aan kennis kan ’n ernstige uitwerking hê op ’n land se vermoë om ten beste van geleenthede gebruik te maak.
Kyk byvoorbeeld na die huidige neiging in China om rooiwyn voor te sit en die plaaslike gebrek aan kennis oor hierdie sakegeleentheid. Wyn wat na China uitgevoer word, kom met ’n stewige prysetiket. ’n Bottel wyn wat vir R40 in Suid-Afrika verkoop, kan in China vir R400 van die hand gesit word.

Afgevaardigdes by 'n onlangse werkswinkel deur die Sentrum vir Chinese Studies (Foto: ANTON JORDAAN).
“Wat kwantiteit betref, is China ’n veel groter wynvervaardiger as Suid-Afrika, maar daar is beslis ’n mark vir Suid-Afrikaanse wyn,” het Grimm gesê.
Waar die drink van whisky ’n paar jaar gelede nog ’n statussimbool was, het wyn die afgelope paar jaar meer gewild geraak. Alkohol is ’n belangrike bestanddeel van sake-etes in China en hoe duurder die bottel wyn, hoe groter die indruk wat op die gaste gemaak word.
Een van die wêreld se grootste groothandelverkoopsmarkte is in Jiwoe, digby Sjanghai. Die reuse kompleks beslaan verskeie straatblokke en het ’n nuwe afdeling wat aan Suid-Afrikaanse produkte toegewys is. Besoekers sal ook Suid-Afrikaanse wyne daar aantref, maar meer kan gedoen word om Suid-Afrikaanse produkte daar te bemark.
Om suksesvol in China te bemark, moet daar ’n goeie begrip en oorweging wees van die drywers agter Chinese beleidvorming en maatskaplike verandering. Soos wat die middelklas in China in getalle toeneem sal die vraag na wyn ook groei. Dit is dus duidelik dat daar groot geleenthede bestaan wat deur Suid-Afrikaanse wynmakers ontgin kan word – maar tot dusver is hierdie geleenthede nie ten volle benut nie.
China se betrokkenheid in Afrika groei met rasse skrede, wat gepaard gaan met geleenthede en uitdagings.
“Afrika as kontinent moet op groot skaal belê in kennis,” het Grimm gesê.
“As China nie begryp word nie, is dit onmoontlik om die geleenthede ten volle te benut. ’n Belegging in kennis gaan tot die voordeel strek van regerings, sake, en in die breë gesien, die samelewing in geheel.”
Vra enige Suid-Afrikaner wie ʼn kans staan om die volgende Chinese president en eerste minister te word ná die komende verkiesing, en die kans is goed dat die persoon nie die vaagste benul sal hê nie. Dieselfde persoon sal waarskynlik met min moeite minstens twee kandidate in die huidige wedloop om die presidentskap in die VSA kan noem.
“Die ANC het dit duidelik gemaak dat Suid-Afrika toenemend na die Ooste kyk vir beleggings- en ekonomiese samewerking. Ons moet verstaan hoe ons grootste en vernaamste handelsvennoot funksioneer,” sê mnr Matthew McDonald, ’n ontleder by die CCS.
Grimm roer die kwessie aan van die moontlike uitbuiting van Afrika deur China in sy soeke na die kontinent se natuurlike hulpbronne om sy eie tekort aan grondstowwe aan te vul.
“Dit is ’n geldige rede tot kommer, maar daar behoort ook klem gelê te word op waarom Afrika-leiers Chinese maatskappye toelaat om dit aan hul lande te doen. ’n Mens moet ook vasstel tot watter mate die Chinese beleggers in Afrika in private hande of in staatsbesit is, en hoe nou hul verbintenis met die regering is. Daar is ’n neiging om al die maatskappye saam te gooi asof hulle almal kop in een mus is met die Chinese regering. Dit is eenvoudig nie die geval nie.”
Daar bestaan duidelik mededinging met Chinese produkte in Afrika. China is ’n sterk mededinger enige plek in die wêreld. Grimm en McDonald wys daarop dat daar in Suid-Afrika ’n deurlopende debat was oor die gevare vir die plaaslike tekstielbedryf van aansienlik goedkoper ingevoerde Chinese produkte.
“Na onderhandelings met Suid-Afrika se Departement van Handel en Nywerheid het die Chinese regering uit vrye wil die uitvoer van Chinese tekstiele na Suid-Afrika beperk,” het Grimm gesê.
Deur sy toegewyde navorsing oor die betrekkinge tussen China en Afrika, is die CCS voorwaar in ’n sterk posisie om tydige inligting gegrond op soliede navorsing te verskaf. – STEPHANIE NIEUWOUDT

June 4, 2012 

TrackbacksPingbacks
[...] Continue Reading [...]