US, VN-ooreenkoms versterk pogings om Millennium Ontwikkelingsdoelwitte in Afrika te bereik
Dit is die Universiteit Stellenbosch (US) se goeie reputasie in die akademie, navorsing, sy fokus op die uitreik na gemeenskappe en die uitstekende werk wat gedoen word deur die Universiteit se Afrika-sentrum vir MIV- en Vigsbestuur wat gelei het tot ‘n ooreenkoms met die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds.

Hier is mnr Bunmi Makinwa, Direkteur: Afrika-streekkantoor van die Verenigde Nasies Bevolkingsfonds (UNFPA) en prof Botman, US Rektor en Visekanselier, tydens die ondertekeningsgeleentheid. (Foto: Justin Alberts)
Dit is volgens mnr Bunmi Makinwa, Direkteur: Afrika-streekkantoor van die Verenigde Nasies Bevolkingsfonds (UNFPA), op Vrydag, 8 Junie by die ondertekening van die ooreenkoms waar die US die eerste Universiteit in Afrika geword het om ʼn ooreenkoms met ʼn organisasie van die Verenigde Nasies (VN) te sluit.
Volgens die ooreenkoms stel die VN deur die US ʼn begroting beskikbaar vir ontwikkelingswerk in 46 lande in Afrika. Die Afrika-sentrum vir MIV- en Vigsbestuur, ‘n inisiatief van die US se HOOP Projek, sal dié taak dryf.
UNFPA is ‘n internasionale ontwikkelingsagentskap wat omsien na die regte van elke vrou, man en kind om ’n gesonde lewe met gelyke geleenthede te geniet. Dít geskied binne die raamwerk van die Millennium Ontwikkelingsdoelwitte se agt teikens om armoede teen 2015 te verminder.
“Hierdie universiteit het ’n transformerende agenda wat simbolies is van ’n Suid-Afrika van dekades wat volg,” het mnr Makinwa gesê. “Ons identifiseer te nouste met die HOOP Projek,” het hy bygevoeg.
Volgens mnr Makinwa is een van hul prioriteite om moeders se gesondheid te verbeter. “Afrika het die hoogste moeder sterftesyfer in die wêreld – gemiddeld meer as 500 per 100 000 lewende geboortes, in vergelyking met 50-70 in ander streke, soos Asië.
“Vir die afgelope drie jaar het ons ‘n gefokusde program geïmplementeer, en ons kan ‘n verlaging sien, maar dit is steeds te hoog. In lande soos Suid-Soedan, Sierra Leone en Niger, is die syfer meer as 1 000 per 100 000. Ons wil dit graag verlaag tot die syfer in Mauritius, wat twee is, of Cape Verde, waar die syfer ses is. Hierdie ooreenkoms met die Universiteit Stellenbosch sal help om ons in daardie rigting te stuur,” het hy gesê.
Tydens die ondertekening, het prof Russel Botman, US Rektor en Visekanselier, verwys na die Universiteit se fokus op die Millennium Ontwikkelingsdoelwitte deur die HOOP Projek. “Ons het die agt Millennium Ontwikkelingsdoelwitte gevat en vyf ontwikkelingstemas geskep naamlik: die uitwissing van armoede en verwante toestande; die bevordering van menswaardigheid en gesondheid; die bevordering van demokrasie en menseregte; die bevordering van vrede en veiligheid en die bevordering van ’n volhoubare omgewing en ’n kompeterende nywerheid.” (Klik hier vir sy toespraak.)
Hy het gesê dat hierdie temas nagestreef word in elk van die Universiteit se kernbedrywighede van onderrig en leer, navorsing en gemeenskapsinteraksie. Prof Botman het ook bygevoeg dat die fokus nou op 2015 is, maar dat gesprekke reeds begin het oor wat na 2015 gaan gebeur.
Prof Botman het mnr Makinwa bedank vir die vertroue wat hulle toon in die Universiteit asook die Afrika-Sentrum vir hulle bydraes. Dié Sentrum is die grootste program van sy soort in die wêreld en sedert sy ontstaan in 2003 het dit meer as 3 000 graduandi uit 48 lande opgelewer en meer as 250 000 mense bereik met sy verhoogproduksies.
“Hierdie ooreenkoms verhoog die verwagtinge en verseker dat ons effektief is en ‘n verskil maak. Hy het gesê dit gaan nie oor hoe ons voel as die taak afgehandel is nie, maar hoe die volgende generasie ons pogings gaan oordeel.
Die ontwikkelingswerk wat in die ooreenkoms in die vooruitsig gestel word, sal fokus op bevolking en ontwikkeling, reproduktiewe gesondheid, asook regte en gender as hoofkomponente. Die US sal professionele dienste bied, waaronder kapasiteitsassessering en beleidsvoorspraak. Programbestuur en -benaderings wat geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue bevorder, sal gevolg word.
Prioriteit sal verleen word aan:
- verbeterde toegang tot en gebruik van goeie dienste om seksueel oordraagbare infeksies te voorkom, veral vir jongmense en adolessente;
- verbeterde toegang tot reproduktiewe gesondheidsdienste en seksonderrig vir jongmense en adolessente;
- die bevordering van geslagsgelykheid en reproduktiewe regte, veral deur middel van wetgewing en beleid;
- groter toegang tot en gebruik van goeie gesinsbeplanningsdienste vir individue en paartjies; en
- verbeterde toegang tot en gebruik van goeie gesondheidsdienste rakende moeder- en pasgeborenesorg.

June 8, 2012 

Geen kommentaar tot op hede nie...