Kom ons praat gesondheid in isiXhosa
Kom ons praat gesondheid in isiXhosa is ‘n gratis, inleidende isiXhosa-taalverwerwingskursus wat doelgemaak is vir professionele mediese en gesondheidswerkers.
Die kursus word onderskryf en aangebied deur die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum en sy Eenheid vir isiXhosa.
ALGEMENE INLIGTING
MASINCOKOLE NGEMPILO NGESIXHOSA/Kom ons praat gesondheid in isiXhosa/Let’s chat health in isiXhosa is ʼn kursus van nege weke (met twee 1-uur-periodes ʼn week) wat vir die Universiteit se personeel en studente in verskeie mediese velde aangebied word.
VOORVEREISTE
Geen voorafkennis van isiXhosa word benodig nie, slegs entoesiasme en ʼn begeerte om met eentalige isiXhosa-pasiënte te kommunikeer.
ONDERRIGMETODE
Die eenheid vir isiXhosa volg ʼn kommunikatiewe, interaktiewe, taak- en behoeftegerigte metodologie wat op die beginsels van suggesto-pedagogiese taalverwerwing (leer in ʼn outentieke omgewing) gebaseer is. Die metode sluit verbale take op ʼn laerbeginnersvlak, groepwerk, asook individuele en groepinteraksie met die dosent(e) in. Die kommunikatiewe benadering verseker nie net dat isiXhosa-vaardighede op ʼn aangename en opwindende wyse aangeleer word nie, maar dat die toepassing daarvan op ʼn spesifieke taal en kultuur deurgaans aandag geniet.
EVALUERINGSMETODE
Studente word deurgaans volgens kursusbywoning, klasdeelname en ʼn basiese, informele mondelinge toets geëvalueer.
Opwindende, professioneel-ontwerpte, werkspesifieke studiemateriaal word op die eerste dag van klasbywoning verskaf. Die kursusmateriaal en DVD word gratis aan studente beskikbaar gestel. Ander belangstellendes kan die kursusmateriaal en DVD by boekwinkels oral in die land aankoop. Alhoewel die materiaal gratis aan studente beskikbaar gestel word, moet hulle in gedagte hou dat taalverwerwing heelwat tyd en moeite verg.
DOELWITTE
Die hoofdoelwitte van die kursus is soos volg:
- Om as vennoot op te tree om gestalte aan die Universiteit Stellenbosch se Pedagogiek van Hoop te gee deur studente in die mediese veld ʼn groter begrip vir pasiënte uit ʼn ander taal- en kultuurgroep te probeer gee
- Om kursusgangers te sensitiseer vir interkulturele kommunikasieverskille in die veld van mediese behandeling en bystand
- Om kursusgangers te voorsien van die kennis en vaardighede om meer effektief in wisselwerking te tree met eentalige isiXhosa-pasiënte, semi-tweetalige isiXhosa- mediese assistente of -gesondheidswerkers, asook gewone mense uit die amaXhosa-taal- en -kultuurgroep wat kursusgangers in die uitvoer van hulle professionele pligte raakloop
- Om professionele isiXhosa- mediese of gesondheidswerkers by te staan om korrekte frases in Afrikaans of Engels vir spesifieke isiXhosa-frases of ‑idees te vind.
INHOUD
Klasse fokus op die volgende temas vir kommunikasiedoeleindes:
- AmaXhosa en isiXhosa: Algemene aspekte van die mense en hul taal, met spesifieke klem op mediese inhoud
- Groet-protokol teen die agtergrond van ʼn mediese konsultasie
- Eerste kennismaking en bekendstelling deur die persoon van hom-/haarself teen die agtergrond van ʼn mediese konsultasie
- Insameling en aantekening van biografiese data oor ʼn spesifieke pasiënt
- Gerusstelling van die pasiënt
- Gesprekvoering met ʼn diverse groep pasiënte (bv. kinders, mans en vroue) wat ʼn algemene mediese of gesondheidsprobleem het
- Onderhoudvoering, voorligting en wisselwerking met pasiënte om eenvoudige, dog duidelike antwoorde te bekom ten einde met die diagnosering van ongemak, kwale of siekte te kan help
- Voorligting aan of ondervraging van pasiënte op só ʼn wyse dat hulle korrek en toepaslik reageer ten einde met die diagnosering van ongemak, kwale of siekte te kan help
- Daarstelling van ʼn mediese profiel of geskiedenis van vorige en huidige kwale en siektes vir ʼn spesifieke pasiënt, asook van familiekwale en -siektes
- Beskrywing van basiese liggaamsdele in isiXhosa
- Gesprekvoering met pasiënte wat ʼn tandheelkundige probleem het
- Gesprekvoering met pasiënte wat ʼn oogheelkundige probleem het
- Gesprekvoering oor MIV/Vigs in isiXhosa.
UITKOMSTE
Aan die einde van hierdie kursus van nege weke behoort studente oor ʼn basiese isiXhosa-woordeskat vir ʼn verskeidenheid gesondheidsverwante gebruiksituasies te beskik. Studente behoort die volgende vaardighede op ʼn laerbeginnersvlak te kan demonstreer:
(a) Luistervaardighede: Vermoë om die basiese klanke van isiXhosa, eenvoudige beskrywings en opdragte in isiXhosa, asook basiese vrae in isiXhosa, te kan uitken en verstaan, insluitende die identifisering en beskrywing van pasiënt- en gesondheidsverwante sake, bv. voorskrifte en medikasie
(b) Mondelinge interaksie: Vermoë om die basiese klanke van isiXhosa te kan uitspreek, eenvoudige beskrywings en opdragte in isiXhosa te kan gee, basiese vrae in isiXhosa te kan stel, asook ʼn verbale beskrywing van pasiëntverwante aspekte en gesondheidsverwante kwessies te kan gee, bv. voorskrifte en medikasie
(c) Lees: Vermoë om die basiese klanke van isiXhosa, eenvoudige beskrywings en opdragte in isiXhosa, asook basiese vrae in isiXhosa te kan lees en te verstaan, insluitende verwysings na pasiënte en gesondheidsverwante sake, bv. voorskrifte en medikasie
DATUMS, PLEK EN TYE VAN KLASSE (Mondays and Wednesdays only)
| Datum | Plek | Tyd |
| 06 August – 03 October 2012 | Tygerberg Kampus | 12:45 – 13:45 |
REGISTRASIE
Klasse word klein gehou om individuele aandag te verseker en leer optimaal te laat plaasvind. Registreer asseblief so gou doenlik om teleurstelling te voorkom.
Registreer hier: Personeelportaal
- Skakel gerus vir Luvuyo Martins by tel: 021 808 9097, of e-pos hom by lsmartins@sun.ac.za, as u enige navrae het.

June 12, 2012 
Geen kommentaar tot op hede nie...