Sosiale bande en innoverende denke help mensdom oorleef
Die mensdom het vir meer as 100 000 jaar oorleef deur sterk sosiale netwerke te vorm en op innoverende wyse nuwe ontdekkings te maak.
Dít was die mening van prof Curtis Marean, mede-direkteur van die Instituut van Menslike Oorsprong in die Skool van Menslike Evolusie en Maatskaplike Verandering aan die Arizona-staatsuniverisiteit in Amerika, op Woensdag (13 Junie). Hy was die spreker tydens vanjaar se derde lesing van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS).
Volgens Marean kan ons unieke vermoë om in groot groepe met individue wat geneties van ons verskil, saam te werk, om sosiale netwerke te vorm, en om innoverend te dink, na ons vroeë moderne voorsate teruggevoer word.
“Vroeë moderne mense was vernuftig. Hulle het sosiale groepe gevorm en nuwe tegnologie ontwikkel om hul getalle te verhoog, hul grondgebied uit te brei en ander lede van die hominied-spesie te verdryf.”
Marean het gesê hulle was in staat om “uit die boks te dink” en assosiasies te maak tussen dinge wat op die oog af niks met mekaar te doen het nie. “Vroeë moderne mense kon vuur beheer om die gehalte en doeltreffendheid van klipwerktuie, veral spiespunte te verbeter.”
Belangrike paleo-antropologiese vondse by die Pinnacle Point-grotte by Mosselbaai dui op die bestaan van ʼn materiële kultuur sowat 110 000 jaar gelede toe vroeë moderne mense seeskulpe versamel het om krale en halssnoere te maak, het Marean gesê.
“Mense wat in hierdie gebied gewoon het, was die eerste om komplekse kognitiewe take te verrig. Hulle was ook die eerste om verskillende seekosse te eet.” Hulle het reeds 160 000 jaar gelede seekos by hul dieet gevoeg, en rondom 120 000 jaar gelede by die kuslewe aangepas, het Marean bygevoeg.
“So ver bekend, is daar geen bewyse vir die aanpassing by die kuslewe elders in die wêreld gedurende hierdie tyd nie.”
Hoewel die aanpassing by die kuslewe gehelp het om groepe te vergroot, het dit beweeglikheid beperk en tot konflik tussen verskillende groepe gelei, het Marean gesê. Hy meen die aanpassing by ʼn lewe by die kus het egter ʼn belangrike rol gespeel in die moderne mens se vermoë om voortdurend aan te pas.

June 15, 2012 

Geen kommentaar tot op hede nie...