Maak ‘n verskil, hoor jeug by US se Jeugdag viering

Kyk na die wêreld om jou, staan ​​saam en begin om jou wêreld ʼn beter plek te maak. Dit was die algemene strekking van die boodskappe van sprekers by die Universiteit Stellenbosch (US) se nasionale Jeugdag-byeenkoms wat op Vrydag (15 Junie) by die Universiteit Museum / Sasol Kunsmuseum gehou is. Die tema vir vanjaar se vieringe was “Verander jou Wêreld”.

Wayde Groep,

“Kom ons wees agente van verandering sodat ons die wêreld ‘n beter plek kan maak,” het dr Llewellyn McMaster, Studentedekaan aan die US, in sy verwelkoming gesê.

Een van die sprekers, Brad Brockman, Hoof van Jeug en Gemeenskap by Equal Education, ʼn organisasie wat daarop gemik is om die gehalte van onderwys in Suid-Afrika te verbeter, het aan die gehoor gesê daar is nog steeds groot ongelykhede in Suid-Afrika se onderwysstelsel en die gemeenskap.

Brockman het die jeug uitgedaag om hulle vir ​​gelyke en gehalte-onderwys vir almal te beywer, en  vir verandering te veg. “Identifiseer ʼn probleem in jou skool waarmee jy ontevrede is, byvoorbeeld laatkommers, en begin dan ʼn ​​veldtog om dit te verander.

“Ons benodig ‘n onderwysstelsel wat ons nie verder uitmekaar dryf nie, maar wat ons nader aanmekaar sal bring. Dit is jong mense wat hierdie verandering sal lei. Julle sal moet hande vat en oorgaan tot aksie,” het Brockman gesê.

Wayde Groep, ‘n US student en Rachel’s Angels mentor, het gepraat oor die jeug van 1976 en die belangrike ontdekking wat hulle gemaak het – hulle het hul eie potensiaal ontdek. “Ons moet besef dat die stelsel nie ons potensiaal ten volle ontgin nie,” het hy gesê.

Groep het ook gesê dat ons baie kan leer uit die geskiedenis en dat dit gebruik moet word om ons te lei. “Jy moet jou plek inneem en jou ruimte verander, word wakker en maak die verskil wat jy bestem is om te maak.”

Vrydag se program het musiek, gedigte en ‘n kunsuitstalling ingesluit. Leerders van verskeie skole het hulle gedigte voorgelees, en die gehoor meer vertel van die kunswerke wat hulle by werkswinkels gemaak het. n Talentvolle groep van 15 laerskoolleerders en 15 hoërskoolleerders het onlangs aan tweedag–kunswerkswinkels by die museum deelgeneem ter voorbereiding vir die US se jaarlikse Jeugdagviering. Die gehoor was ook vermaak deur onder andere, die Gig-orkes van die US Departement Musiek se Sertifikaatprogram.

Rolene Liebenberg, die US se Bestuurder: Skolevennootskappe en koördineerder van die geleentheid,  het gesê Vrydag se program is ‘n bewys van die potensiaal van ons jeug. “Ons jeug het die potensiaal en ek is vol vertroue dat met ons hulp daar vir hulle ‘n goeie toekoms voorlê.”

Jeugdag is een van die vier nasionale openbare vakansiedae wat by die US gevier word. Die ander is Menseregtedag, Vrouedag en Erfenisdag. Prof Julian Smith, Vise Rektor: Gemeenskapsinteraksie & Personeel, het die raamwerk vir die viering van nasionale openbare vakansiedae in 2006 ontwikkel om toe te sien dat hierdie dae gevier word met geleenthede wat nasiebou en wisselwerking tussen mense van verskillende agtergronde aanmoedig.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*