MEDIAFRIKA voldoen aan vereistes van digitale era

Ná 15 maande van werk en klasgee in die nuwe MEDIAFRIKA-gebou, sê prof Lizette Rabe, voormalige voorsitter van die Departement Joernalistiek, die gebou voldoen aan die eise wat die digitale era aan ʼn joernalistiekskool stel.

Sy het vandat sy in 2001 by die Departement aangestel is, elke jaar ʼn strategiese plan vir ʼn nuwe gebou voorgelê, en uiteindelik is dit in 2008 deur die rektor, prof Russel Botman, goedgekeur as deel van die HOOP Projek.

Studente aan die werk in die goed-toegeruste MEDIAFRIKA-gebou. (Foto: STEPHANIE NIEUWOUDT)

Die nuwe gebou met sy baie glas en metaal is as ʼn verlenging van die Edwardiaanse huis waarin die Departement vir jare gehuisves en waarin personeel se kantore steeds geleë is. Die huis in Crozierstraat is ʼn nasionale gedenkwaardigheid.

“Die ou huis het eenvoudig nie die vermoë gehad om te voldoen aan die eise van ʼn multimedia-omgewing nie,” sê Rabe.

“Wanneer ons nuwe kragpunte moes aanlê, was ek elke keer vreesbevange dat die gebou, met sy rou baksteenmure, ineen sou stort.”

Die MEDIAFRIKA-gebou beskik oor ’n multifunksionele lesingsaal op grondvlak, en die boonste verdieping is toegerus met ’n multimedia-nuuskantoor, asook oudio-en-videoredigeerateljees.

Op die onderste verdieping is daar ook ʼn ontspanningsruimte vir studente waar hulle kan koffie maak – soos enige mediamens weet, ʼn onontbeerlike deel van die joernalis se toerusting – en op ʼn graffitimuur kan teken en skryf. Gemaklike, moderne banke rond die prentjie in die ruimte goed af.

In haar strategiese plan, het Rabe onder meer ook verwys na UNESCO se Spitsberaad oor die Inligtingsamelewing waar die noodsaaklike rol wat die media vervul in die ontwikkeling van kennisgemeenskappe uitgelig is. Daar is ook beklemtoon die “vrye vloei van inligting deur woord en beeld is ʼn voorvereiste vir sosiale en ekonomiese ontwikkeling, en pogings om mediavryheid te ondersteun moet aangevul word deur inisiatiewe wat kapasiteit bou om professionele standaarde te verdiep en om kruisdissiplinêre kennis onder professionele mense in die media te ontwikkel”.

Volgens die strategiese plan sou die Departement as akademiese instelling en gerespekteerde kennisvennoot vir veral die Suid-Afrikaanse media met MEDIAFRIKA uitgebou kon word, en sou die gebou boonop ʼn ruimte skep waar kollegas van veral Afrika-instellings maar ook van elders aan navorsingsprojekte kon saamwerk. Dié visie is bewaarheid toe R7 miljoen vir die nuwe gebou bewillig is.

Die ruimte met sy groot vensters is vir Rabe simbolies van die ideaal van deursigtigheid wat die media moet nastreef. In dié geval het die argitek so goed gehoor gegee aan die doelwit dat daar soms te veel sonlig ingelaat word. Blindings help egter om die lesinglokaal meer funksioneel te maak.

Baniere in die MEDIAFRIKA-gebou met wyse woorde oor die joernalistiek. (Foto: STEPHANIE NIEUWOUDT)

“Die gebou moes ook inspirerende boodskappe oor die rol van die joernalistiek uitdra – vandaar die installasiekunsbaniere met aanhalings oor die joernalistiek,” sê Rabe.

Van die boodskappe sluit in dié woorde van wyle prof Piet Cillié, ʼn voormalige koerantredakteur en eerste hoof van die Departement en: “’n Koerant moet nie net ’n spieël van die lewe probeer wees nie, maar ook X-strale wat onthul wat onder die oppervlak aan die gang is.”

’n Paar maande nadat MEDIAFRIKA geopen is, het ʼn brand in die Wilcocks-gebou die Departement Geskiedenis in puin gelê. Die Departement Joernalistiek het ʼn tydelike tuiste aan Geskiedenis se personeel gebied. Dít sou nie moontlik gewees het sonder die bykomende ruimte wat danksy MEDIAFRIKA geskep is nie.

“Dit was heel gepas om die mense van Geskiedenis te help. Joernalistiek is immers geskiedskrywing op ʼn galop,” sê Rabe.

Vanjaar is daar 25 ingeskrewe honneursstudente, 45 meestersgraadstudente, en ʼn handvol doktorale studente by dié Departement, wat onder die top 12 joernalistiekskole in Afrika gereken word.

“Ons sou graag ʼn boetiekstyl-joernalistiekskool wou bly,” sê Rabe.

“Deur redelik klein te bly, kan ons meer doeltreffend fokus op ons nagraadse programme en terselfdertyd voldoen aan die eise wat die 21 ste eeu se kennis- en tegnologierevolusie aan ons stel. Nie net moet ons ʼn stem gee aan die mense wat tot dusver tradisioneel stemloos was nie, maar ons het ook ʼn plig om op verantwoordelike wyse verslag te doen oor die diere en plante van ons planeet wat toenemend bedreig word.” – STEPHANIE NIEUWOUDT

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*