US satellietkomponente sluit aan by die ruimtewedloop
In ’n baanbrekerskuif beoog die Universiteit Stellenbosch (US) om CubeSat-satellietkomponente, wat by die Universiteit se Elektroniesestelsels-laboratorium (ESL) vervaardig word, aan kopers regoor die wêreld beskikbaar te stel vir gebruik in voorpunt-ruimteprogramme. Dit is die eerste keer wat die Universiteit goedere wat dit self vervaardig uitvoer na die buiteland.

CubeSat-komponente
Die betrokke CubeSat-satellietkomponente is ’n oriëntasiesensor-module genaamd CubeSens (ingespan vir die oriëntering van die satelliet met betrekking tot die aarde), ’n aanboordrekenaar bekend as CubeComputer, en Cubetorquer-magneetstange vir oriëntasiebeheer (gebruik in die beheer van die satelliet se oriëntasie). Die produkte is ontwikkel by die ESL onder die wakende oog van professor Herman Steyn, satellietingenieurswese-spesialis en hoof van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese by US.
Die CubeSat-standaard is die eerste keer geformaliseer in 1999 deur professors by Stanford Universiteit en Kalifornië Politegniese Staatsuniversiteit. Steyn het verduidelik dat die idee was om ’n standaard-satellietformaat te formuleer om universiteite wêreldwyd te help om ruimtewetenskap en -ondersoek uit te voer. Volgens Steyn is die dimensies van die standaardkubus 10cm x 10cm x 10cm en weeg die satelliet ongeveer 1kg.
Alhoewel die CubeSat-standaard aanvanklik gestel is vir ontwikkeling deur akademiese instellings, het baie kommersiële maatskappye sedertdien hulle eie CubeSat-satelliete gebou. Hierdie satelliete kan vir ’n magdom van doeleindes gebruik word, insluitende vir die opname van lugfoto’s, opsporing van kosmiese stof en selfs die voorspelling van aardbewings. Tot op hede is meer as 100 van hierdie satelliete in die ruimte lanseer.
Mev Anita Nel, uitvoerende hoof van InnovUS, sê dat hulle baie opgewonde is oor die bemarkingsooreenkoms wat hul gesluit het met Innovative Solutions in Space (ISIS), ’n satellietmaatskappy in Nederland. InnovUS is die volfiliaal tegnologieoordrag- en entrepreneurskap-maatskappy van die Universiteit. Volgens die ooreenkoms sal ISIS die US-vervaardigde satellietkomponente in lande regoor die wêreld bemark. Kliënte sal hul bestellings plaas via CubeSatShop, ‘n ISIS-inisiatief, en komponente sal vervaardig word vir bestelling by die ESL binne ’n tydraamwerk van drie maande.
Volgens Nel was dit ’n taamlike lang proses om die ooreenkoms te finaliseer, weens die implikasies van internasionale handel. Sy voeg egter by dat hul wel in staat was om goedkeuring van die SA Reserwebank te kry in rekordtyd, wat dinge aangehits het. Nel sê dat sy baie opgewonde is oor die moontlikhede van hierdie ooreenkoms, en noudat die aanvoorwerk vir die internasionale uitvoer van goedere gedoen is, sien sy uit na die sluiting van soortgelyke ooreenkomste in die toekoms.
Buiten die drie bestaande CubeSat-komponente deur die ESL vervaardig, is werk aan die gang op ’n vierde komponent – ’n nanomomentum-wiel, wat ook uiteindelik kommersialiseer sal word. Steyn sê die doel van ’n momentumwiel is om te verseker dat die satelliet nie van koers af gegooi word indien dit ’n eksterne steuring teëkom nie.
Die ESL het hom gevestig as ’n leidende teenwoordigheid in die veld van kleinsatelliettegnologie – eerstens as die geboorteplek van SUNSAT-1, Afrika se eerste inheems ontwikkelde mikrosatelliet; en dan deur die vestiging van SunSpace, ’n afwentelmaatskappy wat die fasiliteite by die ESL aanwend om nuwe satelliet-tegnologie na te vors en te ontwikkel. Meer onlangs is projekondersteuning gegee aan SunSpace gedurende die ontwikkeling en ingebruikneming van SumbandilaSat, Suid-Afrika se tweede afstandwaarneming-mikrosatelliet.
Baie hiervan is te danke aan die leierskap van Steyn, wat wyd beskou word as ’n wêreldleier in die veld van beheerstelsels vir klein satelliete. Steyn se ervaring sluit in vier jaar as Hoofingenieur en Spanleier by Surrey Satellite Technology Limited, ’n afwentelmaatskappy by die Universiteit van Surrey in die Verenigde Koninkryk en die grootste vervaardiger van klein satelliete in die wêreld.
Die ESL-CubeSat-komponente, wat nou aan die internasionale satellietmark beskikbaar is, is oorspronklik ontwikkel vir ’n Europees-geborgde FP7-projek bekend as “DeOrbitSail” – ’n drie-eenheid-CubeSat om ’n 5m x 5m sleurseil in ’n lae-aarde-wentelbaan aan te wend en om vinnige de-wenteling van ’n tipiese satelliet wat die einde van sy lewe nader, te demonstreer. Steyn sal ook ’n Nanosatelliet-Simposium bywoon in Oktober vanjaar, waar die ESL-CubeSat-komponente vertoon en bemark sal word vir belangstellendes.
- Vir meer inligting kontak mev Anita Nel, Uitvoerende Hoof: InnovUS Tegnologie Oordrag (Edms) Bpk, by +27(0) 21 808 3079/3826 of ajnel@sun.ac.za.
- Besoek ISIS by www.isispace.nl, die CubeSat-winkel by www.cubesatshp.com, en InnovUS by www.innovus.co.za

June 25, 2012 
Geen kommentaar tot op hede nie...