Onderhoud met aangewese Dekaan van Lettere en Sosiale Wetenskappe

Prof Johan Hattingh is pas deur die Universiteitsraad aangewys as opvolger vir prof Hennie Kotzé. Hy het met Stephanie Nieuwoudt oor sy nuwe pos gesels.

Prof Johan Hattingh

Wat is die grootste professionele en persoonlike uitdagings in jou nuwe pos?

Vir die Fakulteit, meen ek, is die grootste uitdaging van ons tyd om te midde van al die krisisse wat die wêreld, ons kontinent, en ons land besig om te beleef, te help artikuleer hoe dit alles ons menslikheid en medemenslikheid ondermyn, uithol en beperk. Ons moet met voorstelle vorendag kom om seker te maak dat ons ons waardigheid bly handhaaf en as mense kan bly floreer in samesyn met mekaar.

Ek dink in hierdie verband aan die wêreldwye finansiële krisis, en die besparingskrisis en die sekuriteitskrisis wat daarmee saamgaan; ek dink aan die ontwikkelingskrisis en die oorlewingskrisis van Afrika; die diensleweringskrisis en die demokratiseringskrisis van ons land.

Vir my persoonlik sal die grootste uitdaging wees om die ruimte vir selfstandige en kritiese ondersoek, onderrig en dienslewering, wat die drie kernfunksies van die universiteit as instelling is, só oop te hou en uit te bou dat die akademiese personeel van die fakulteit hulle werk behoorlik en ongehinderd en met verbeelding en inspirasie kan doen.

Tot watter mate is die omgewing en die sosiale wetenskappe afhanklik van mekaar?

Ons is aangewese op die natuurlike omgewing vir nie net ons oorlewing nie, maar ook vir ons lewensgehalte en ons welsyn. Dit raak die onderlinge verhoudinge tussen individue, groepe, samelewings en nasies, en selfs ook ons vryheid, en die keuses wat ons uitoefen om onsself te verwesenlik.

Die bewaring van die natuurlike omgewing is ‘n menslike noodsaaklikheid, afgesien daarvan dat die natuurlike omgewing ook ‘n intrinsieke waarde het, onafhanklik van al die gebruike wat die mens daarvan kan maak. Om dit alles te probeer verstaan en die betekenis daarvan uit te lê, daarby is die humaniora en die mens- en sosiale wetenskappe per definisie betrokke.

Hoe sien jy die plek, rol en funksie van die Fakulteit, teen die agtergrond van hoe jy die globale Universiteit en meer spesifiek die US sien?

Die wêreld raak al hoe meer die slagoffer van ‘n instrumentalistiese rasionaliteitsmodel. Alles wat ons doen, word in diens gestel van die ideaal om so vinnig as moontlik so ryk as moontlik te word, en vir so lank as moontlik ryk te bly.

In so ‘n wêreld word kennis ‘n kommoditeit – iets wat soos ‘n verbruikersartikel aan die hoogste bieër in die mark verkoop kan word. Die universiteit kan maklik verkorporatiseer – op ‘n harde manier soos ‘n besigheid bedryf word waarin al die aandag val op die produkte wat gelewer word, die doeltreffendheid van die prosesse waarmee dit gedoen word, en die winste wat dit oplewer. In so ‘n universiteit verloor ons uit die oog wat van die mense word wat daar werk, en wat die uiteindelike doel is waarvoor hulle daar werk.

Vir my is een van die primêre funksies van ‘n Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe om in die modus van skerp kritiese bevraagtekening die beperkinge en selfs gevare uit te wys van ‘n instrumentalistiese rasionaliteitsmodel.

Met die vakgebiede wat in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe saamgegroepeer is, word die beeld gevorm van ‘n universiteit as ‘n instelling wat eerder in die diens behoort te staan van menslike waardigheid en medemenslikheid.

Ons Fakulteit het ‘n sentrale rol te speel om die universiteit en die samelewing in die diens van ‘n waarderasionaliteit te stel. Dit behels ‘n oop en onafgehandelde agenda. Ons moet onderling in gesprek tree met mekaar, en mekaar bly help om die waardes wat ons stel vir die verwesenliking van ons menslikheid nie te verhef tot absolute waarhede wat presies die teenoorgestelde bereik as wat ons voorgee dit voor staan nie.

Wat is jou boodskap aan die Fakulteit se mense?

Die “Fakulteit se mense” bestaan uit akademiese, administratiewe en onderhoudspersoneel, en bowenal ons sowat 5 000 voor- en nagraadse studente. Elke individu uit hierdie groeperings vorm gesamentlik een groot span wat die raamwerk uitmaak wat die funksies en rol van die Fakulteit moontlik maak.

Ek sal graag die Fakulteit wil sien as ‘n ruimte waarin elkeen van hierdie Fakulteitslede as mense hul voortreflikheid en ideale kan verwesenlik, hul volle potensiaal kan verwesenlik as individue wat uitstyg bo die platform van die kollektief.

Daarom wil ek die Fakulteit ook sien as ‘n ruimte van transformasie en diversiteit, waarin alle Suid-Afrikaners gemaklik en tuis voel, en ons mekaar kan verryk en opskerp vanuit ‘n verskeidenheid van idees en belewenisse.

Soos iemand dit nou die dag vir my uitgewys het, moet ons weet dat goed soos inligting en beplanning en feite en subsidie en syfers en statistiek en gehalte alles hoogsbelangrike dimensies is van ons werk, maar ons moet ook weet dat ons besig is om kennis te ontsluit wat noodsaaklik is vir die welsyn van die samelewing.

Ek is besonder trots daarop dat ons reeds uitstekend presteer, en dat dit vir my ‘n voorreg en plesier sal wees om te kan help om hierop voort te bou.

Jy het jou MA oor tegnologie en metafisika gedoen. Sedertdien het tegnologie met rasse skrede toegeneem. Hoe bly ons mens midde-in dié ontploffing?

In 1980 toe ek hierdie MA voltooi het, het ek nog weinig verstaan van nanotegnologie en stamselmanipulasie. Vandag pluk ons die vrugte hiervan, onder meer in die teesakkie-waterfilter wat hier op Stellenbosch ontwikkel is en ‘n rewolusionêre impak op die gesondheid gaan hê van mense wat nie toegang tot skoon water het nie, en in die veloorplanting wat onlangs gedoen kon word op klein Pippie Kruger.

Maar tegnologie is nie net ‘n instrument in ons hande om ons behoeftes te bevredig nie. Dit verander ook die manier waarop ons dink oor dit wat menslik moontlik is, en die maniere waarop ons onsself kan verwesenlik. Ons het fundamenteel ander mense geword as honderd of vyftig jaar gelede.

Hoe bly ons “menslik” onder sulke omstandighede? Dit kan ons nie vooraf bepaal, en met ‘n resep, ‘n logaritme, ‘n besluitnemingsmatriks of ‘n tegniek verseker nie. Ons sal alleen menslik bly as ons steeds kan bly praat en vrae stel oor dit wat ons met ons tegnologie wil bereik. Tegnologie is ‘n menslike onderneming wat altyd menslike dimensies en dryfvere en waardes vertoon.

Wat is die uitdagings vir die akademie op ons vasteland? En hoe kan strukture soos PANGeA hiermee help?

‘n Maand gelede het ek met ‘n dekaan van ‘n fakulteit lettere aan ‘n gesiene universiteit in Afrika gesels, en hy was oor verskeie goed moedeloos: dat die begroting waarmee hy moet werk heeltemal onvoldoende is; dat die infrastruktuur tot sy beskikking heeltemal ontoereikend is; en dat die meeste van sy tyd opgeneem word deur die eindelose stroom van klagtes, frustrasies en spannings van studente en dosente. Relatief tot hierdie omstandighede is Stellenbosch en ons Fakulteit besonder goed geplaas, hoewel ons begroting en infrastruktuur tog op sekere plekke knyp.

In hierdie konteks is die PANGeA-program ‘n merkwaardige en vooruitdenkende inisiatief. Dit maak goeie infrastruktuur, uitstekende akademiese leierskap en ‘n relatief goed-befondsde begroting beskikbaar vir 10 tot 15 PhD-studente per jaar uit Afrika noord van ons. Met hierdie begin hoop ons om ‘n verskil te begin maak wat in die jare en dekades wat voorlê sal uitkring tot iets heel groots.

Een kommentaar op “Onderhoud met aangewese Dekaan van Lettere en Sosiale Wetenskappe”

  1. Professor baie geluk. Groot woorde in u “intreerede” met mooi beloftes, maar bitter min wat werklik onbekend is, met respek? Ek wonder net of u “posbenaming”(en ek bedoel nie u persoonlik nie wat ek glo uiters bekwaam is) met respek nog werkik nodig is en watter verskil u via u nuwe “amp” werklik gaan maak, want u kry n “geoliede masjien”, volgens sekeres, wat eintlik deur die onderskeie departementshoofde gediens, bestuur en gedryf word en u amp maar eintlik net n geleibuis geword het waarna niemand meer luister nie of die “beleid” toepas soos hulle wil en via hulle eie verwysingsraamwerk en “agendas”? Dalk kan u werklik standpunt byvoorbeeld inneem teen of vir Afrikaans(hoop dit is vir laasgenoemde)sodat daar geen meer onsekerhede is rakende die taal nie en daarvoor onthou word vir u aandeel daarin om die taal werklik te probeer vry te maak van politiek en dit in harmonie bring met ons ander tale sodat Afrikaans werklik aanvaar word.U voorganger het klaaglik daarin misluk en was daar soveel onsekerhede op talle gebiede en te veel om te noem. Veder is ek seker dat u kommunikasievermoe om n regverdige “beleid” op grondvlak te ontplooi veel beter gaan wees as u voorganger, ons hoop. Sterkte.

Lewer kommentaar

*