Afrika bied groot potensiaal vir mikro-versekering

Mikro-versekering het nou wêreldwyd dramaties uitgebrei van die 78 miljoen lae-inkomste persone wat in 2007 geïdentifiseer is, tot die huidige ramings wat aandui dat dié sektor spoedig die 500 miljoen versekerde lewens-kerf sal bereik.

Hierdie groei is grootliks deur die aktiewe betrokkenheid van regerings gedryf om mense te help om hulself beter teen risiko’s te beskerm, en deur die beskikbaarheid van betaalstelsels wat die invordering van premies van lae-inkomste huishoudings vergemaklik en só ’n heel nuwe groep rolspelers by mikro-versekering betrek het.

Maar, ondanks ‘n globale groei in mikro-versekering en die voortdurende aanwesigheid op die internasionale agenda, skiet mikro-versekeringsdekking op die Afrika kontinent steeds ver te kort met net 25 miljoen lae-inkomste persone wat gedek word. Afrika bied nogtans groot potensiaal vir mikro-versekering.

Om hierdie potensiaal te ontgin, het die ILO se Microinsurance Innovation Facility en die Sentrum vir Finansiële Regulering en Insluiting (Cenfri) kragte met die USB Bestuursontwikkeling (USB-BO), die publieke bestuursontwikkeling en opleidingsmaatskappy verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB), saamgesnoer om ’n program in Sakestrategieë vir Mikro-Versekering in Afrika-markte aan te bied.

Die opleidingsprogram sal die eerste stap in toekomstige samewerkings tussen die Microinsurance Innovation Facility en Cenfri wees. Dié twee liggame het onlangs ʼn vennootskap gesluit om die beskikbaarheid van beter versekeringsprodukte vir ’n groter getal lae-inkomste huishoudings in Afrika uit te brei.

Die program word van 24 tot 27 Julie in Kaapstad aangebied, en sal onder meer onlangse ontwikkelinge in mikro-versekering soos die PACE (Product, Access, Cost, Experience) kliëntewaardestelsel, wat deur die ILO Microinsurance Innovation Facility spanleier, Craig Churchill, aangebied sal word, insluit.

Hierdie stelsel is deur die ILO-fasiliteit ontwikkel om mikro-versekeringspraktisyns te help om hul versekering se waarde-aanbieding aan kliënte te verbeter, deur soortgelyke versekeringsopsies van ander verskaffers te vergelyk.

“Ons kan goeie lesse leer uit die Suid-Afrikaanse ervaring met sy spoedige styging tot 8,2 miljoen lewens wat in 2009 gedek is, sowel as ander lande in Afrika wat stoom optel in die mikro-versekeringsfeer. Dit sluit onder meer Ghana, Zimbabwe en Kenia, in.

“Deur te leer uit die ervarings van praktisyns en reguleerders in hierdie lande, sowel as die insluiting van lesse uit lande buite Afrika, sal help om die reuse onontginde Afrika-mark te bereik,” het Churchill gesê.

Anja Smith, direkteur van Cenfri, glo verspreiding is noodsaaklik om hierdie doel te bereik en benadruk die belangrikheid om ‘n verspreidingslandskap te skep, waar verspreiders ‘n een-stop winkel word.

“Verspreidingsvennote in mikro-versekering behoort nie net polisse te verkoop en kliënte se geld in te vorder nie, maar moet ook hul kliënte toelaat om veranderinge aan hul polisse aan te bring en die betaalpunte word vanwaar eise uitbetaal kan word. Indien ons dit nie doen nie, loop ons die gevaar om kliëntwaarde te verloor waar dit van uiterste belang is,” het sy gesê.

Na raming beskik minder as 30% van volwassenes in die lae-inkomstegroep in Suid-Afrika oor enige vorm van versekering, terwyl soveel as 40% van die volwasse bevolking in die res van Afrika nog geen blootstelling aan mikro-versekering gehad het nie. Afrika se versekeringsmarkte (Suid-Afrika uitgesluit) dra oor die algemeen nie meer as 2% van die BBP by nie en bedien minder as 5% van die bevolking.

Vir maatskappye om in die mikro-versekeringsmark uit te brei, sal die volgende nodig wees:

  • Die ontwikkeling van alternatiewe distribusiekanale wat verder strek as die makelaar, agent en werkverskaffingsnetwerke;
  • Die ontwikkeling van produkte wat pas by die profiel en behoeftes van lae-inkomste kliënte;
  • Suksesvolle navigasie van ʼn toenemend komplekse en onsekere regulatoriese omgewings; en
  • ‘n fundamentele herskepping van versekeringsdienste.

Die program is gemik op professionele persone in die bank- en versekeringsbedrywe, mobiele netwerk-operateurs, kleinhandelaars en tegnologieverskaffers, beleidmakers, konsultante, spesialis-adviseurs en navorsers van mikro-versekering of lae-inkomste finansiële dienste.

  • Vir meer inligting besoek USB-BO se webtuiste of kontak Samantha Abrahams by (021) 918 4210 of samantha.abrahams@usb-ed.com.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*