Tromslaan dalk volgende fiksheidsgier?

Is ‘n besoek aan jou plaaslike tromslaangroep (“drumming circle”) net ‘n lekker ontspannende uitstappie, of kan jy inderwaarheid fiks word terwyl jy jou frustrasies op jou Afrikatrom uithaal? Dít is die vraag wat fisioloë aan die Universiteit Stellenbosch (US) graag wil beantwoord met straks die heel eerste studie oor die oefeningvoordele van Afrikatromslaan.

Bevil Spencer was een van die proefkonyne. (Foto: Jeandre Viljoen)

Volgens prof Carine Smith, medeprofessor in die Departement Fisiologiese Wetenskappe aan die US, het daar nog nêrens ter wêreld enige navorsing oor die gesondhei- en oefeningvoordele van hierdie aktiwiteit verskyn nie. Toe onlangse navorsingsresultate deursoek is, is daar slegs afgekom op ’n handjie vol studies oor die terapeutiese voordele wat ritmiese sessies vir kinders se konsentrasievermoë op skool inhou.

Die studie maak deel uit van ’n groter navorsingsbeweging in die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe oor die gesondheids- en ontspanningsvoordele van alternatiewe behandelings soos oefening en natuurlike geneesmiddels. Die tromslaanstudie word deur ’n BScHons-student in Fisiologiese Wetenskappe, me Lauren McGeachie, onder leiding van prof Smith en kollega mnr Jeandre Viljoen van die US se Sentrum vir Menslike Prestasiewetenskappe onderneem.

Tot dusver het die navorsers ’n tromslaangroep in Durbanville sowel as ’n jonger groep studente van die US getoets. Hul bloeddruk en melksuurvlakke is voor en ná elke sessie gemeet, en hul hartklop is vir die volle duur van die sessie dopgehou. Deelnemers moes ook ’n vraelys invul om hul veronderstelde stresvlakke voor en ná die oefening te bepaal.

Die navorsers se ‘hoofproefkonyn’ en niefisiologiese medewerker is mnr Bevil Spence, ’n Afrikatrominstrukteur van Somerset-Wes met ’n lewendige belangstelling in die oefeningvoordele wat ’n goeie tromslaansessie vir kinders en volwassenes kan inhou.

“In sekere stadia van die tromslaansessies het sy hartklop tot meer as 80% van die geskatte maksimum tempo versnel, wat gelykstaande is aan ’n strawwe aërobiese sessie wat baie energie verbrand,” sê mnr Viljoen.

“Soos met die meeste sportsoorte, sal die voordeel wat jy uit die oefening trek waarskynlik beïnvloed word deur die intensiteit waarmee jy bereid is om te oefen,” bespiegel hy. “As jy maar net ligweg op die trom slaan, net om te ontspan, sal dit jou nie noodwendig fiks maak nie.”

Die eerste voorlopige resultate sal na verwagting binne die volgende paar weke beskikbaar wees.

Uitgereik deur:

Engela Duvenage, Media: Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch

021 808 2684 science@sun.ac.za

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*