Top plaaslike kunstenaars by Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees

Vanjaar kan die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees wat op 6 Julie afskop spog met ‘n indrukwekkende aantal internasionale kunstenaars. Altesaam 26 kunstenaars neem aan die fees deel en 16 is inderdaad soliste, kamermusici en onderwysers uit Europa, Brittanje en die VSA. Die ander 10 kunstenaars tel egter onder Suid-Afrika se voorste musici.

“Ons behoort trots te wees op die feit dat ons Suid-Afrikaanse musici is. Alhoewel dit soms frustrerend is om aan die suidpunt van Afrika, ver van die wêreld se opwindende musiekfeeste te wees, is daar tog baie wat hier gedoen kan word. Hierdie Kamermusiekfees hou ons op ons tone! Ons moet optimaal funksioneer wanneer ons die verhoog met musici van oorsee deel, en dit veroorsaak dat ons ons allerbeste moet gee,” sê Feesdirekteur Peter Martens, ‘n gerespekteerde plaaslike tjellis wat ook aan die fees deelneem.

Die hele klavierafdeling van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Musiek neem aan vanjaar se Kamermusiekfees deel. Nina Schumann, artistieke direkteur van die fees, is nie net ‘n gesoute konsertpianis nie, maar ook een helfte van die duo TwoPianists, met Portugees-gebore konsertpianis Luis Magalhaes. Kollegas Pieter Grobler en Bennie van Eeden is albei ervare onderwysers en hoog in aanvraag as plaaslike konsertpianiste. Suzanne Martens, ‘n ou bekende by die Kamermusiekfees, is gas konsertmeester van die Kaapse Filharmonie en viooldosent aan die US. Sy het onlangs drie eerste uitvoerings van Suid-Afrikaanse vioolkonserte gegee.

Patrick Goodwin, mede-konsertmeester van die Kaapse Filharmonie, maak hierdie jaar sy eerste buiging op die fees se verhoog. Emile de Roubaix (altviool), het onlangs na Suid-Afrika teruggekeer na etlike jare van oorsese studie en ad-hoc-werk met sommige van Europa se top orkeste. Emile is vanjaar vir die eerste keer deel van die Kamermusiekfees personeel. Pamela Kierman (Franse horing) en Suzette Brits (slagwerk) is gereelde bydraers tot die Kamermusiekfees en is albei hoogs-gerespekteerde dosente aan die US. Alhoewel Gareth Lubbe, multi talentvolle botoonsanger en hoof altviolis van die Leipzig Gewandhaus-orkes, as een van die internasionale kunstenaars gereken word, moet ons nie vergeet dat hy eintlik in Suid-Afrika gebore is en grootgeword het nie.

Kaartjies is by Computicket beskikbaar teen R100/R75 vir die Kamermusiekkonserte vanaf 6 tot 12 Julie, en R110/R85 vir die orkeskonserte vanaf 13 tot 15 Julie. Feespasse, wat toegang tot alle feesaktiwiteite insluit, is teen R750/R600 beskikbaar.

Verwante Berig:

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*