US goed verteenwoordig op Internasionale Vigskonferensie in Washington DC

Die Universiteit Stellenbosch (US) word vandeesweek goed verteenwoordig by die Internasionale Vigskonferensie in Washington DC wat van 22 tot 29 Julie plaasvind. Verteenwoordigers van die Universiteit se Desmond Tutu TB-sentrum sal hulle by internasionale rolspelers op die gebied van MIV/vigs by die konferensie in die Amerikaanse hoofstad aansluit.

Kinderpret met die opvoedkundige sokkerballe tydens die Kick TB bewusmakingsveldtog. Foto deur: Kim Cloete

Die Internasionale Vigskonferensie “is die vernaamste byeenkoms vir mense wat op die gebied van MIV werk, sowel as vir beleidmakers, mense wat met MIV saamleef en ander individue wat daartoe verbind is om die pandemie uit te wis”, luidens die konferensie se webblad.

Wetenskaplike ontwikkelinge in die gebied sal voorgelê word, en ander kwessies rakende MIV/vigs sal gedebatteer word. Ander gebeure, soos uitstallings en satellietvergaderings, is ook op die program vir die week.

Die konferensie lok ook leiers op die gebiede van wetenskap, diplomasie, politiek, filantropie en vermaak as sprekers. Onder vanjaar se sprekers is die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton en sy vrou, die Amerikaanse minister van buitelandse sake Hillary Rodham Clinton, UNAIDS se uitvoerende direkteur Michel Sidibé, filantroop en Microsoft-medestigter Bill Gates, filantroop en sanger Elton John, asook die aktrise Whoopi Goldberg.

Dr Aaron Motsoaledi, die Suid-Afrikaanse Minister van Gesondheid, het die KICK TB-uitstalling by die konferensie in Washington DC besoek.  Saam met hom is me Wena Moelich van die Desmond Tutu TB-sentrum.

Tydens die konferensie sal die span van die Desmond Tutu TB-sentrum hul werk in die Global Village ten toon stel, waar hulle die huidige status van hul veldtog, Kick TB & HIV, sal vertoon, sowel as hul toekomstige planne vir die uitbreiding van hierdie inisiatief. Die span sal insigte op grond van hierdie veldtog by die konferensie deel en koppelings vir implementering in ander lande ondersoek.

Met tuberkulose as een van die grootste oorsake van sterftes in Suid-Afrika, veral onder mense wat lewe met MIV, poog die US se Desmond Tutu TB-sentrum om die gesondheid van vatbare groepe te verbeter deur die opvoeding van gesondheidswerkers en lede van die gemeenskap.

Die Kick TB-veldtog, wat nasionaal in Maart 2012 afgeskop het, is ’n gesamentlike inisiatief tussen die Desmond Tutu TB-sentrum en die Suid-Afrikaanse Nasionale Departement van Gesondheid. Hierdie veldtog gebruik sokkerballe met TB-boodskappe en ’n lewendige opvoedkundige program om laerskoolleerders oor die feite, tekens en simptome van tuberkulose op te voed.

Tot op hede het die Kick TB-veldtog 66 731 leerders dwarsoor Suid-Afrika bereik; personeel in al nege provinsiale Departemente van Gesondheid in Suid-Afrika opgelei in voorspraak, kommunikasie en sosiale mobilisering (ACSM – Advocacy, Communication, and Social Mobilisation); opleiding gedoen in die Filippyne en Zambië; deel geword van die Nasionale TB-program in Ghana; en is dit deur die Stop TB-vennootskap van die Wêreldgesondheidsorganisasie uitgewys. Dit geniet ook die beskerming van dr Aaron Motsoaledi, SA Minister van Gesondheid, en Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu, ’n Nobel-vredespryswenner.

Die veldtog is ook aangepas om jeugdige oortreders in korrektiewe fasiliteite te bereik, en ’n proeflopie is voltooi. Dit mik ook om 160 000 myners in ongeveer 90 goudmyne in die prioriteitsdistrikte van Suid-Afrika teen die einde van Februarie 2013 te bereik, insluitend sifting en toetsing vir TB en MIV.

Die Desmond Tutu TB-sentrum vorm deel van die US se HOOP Projek, ’n kampuswye inisiatief waardeur die US sy kennis en navorsing gebruik om volhoubare oplossings te vind vir sommige van Suid-Afrika en Afrika se mees dreigende uitdagings.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*