Ons het ‘n nasie van werknemers geword, nie werkskeppers nie – prof Mohammad Karaan
As studente gevra word wat hul gaan doen nadat hulle gegradueer het, is die meeste geneig om te sê dat hulle van plan is om ʼn “werk te kry”. Dit is een van die primêre probleme wat Suid-Afrika in die gesig staar. “Ons het ʼn nasie van werknemers geword, nie werkskeppers.”
Dit is volgens prof Mohammad Karaan, Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe en ʼn lid van die Nasionale Beplanningskommissie. Karaan het die hoofrede gelewer by ʼn openbare seminaar van die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling (FVZS Instituut) wat Woensdag (25 Julie 2012) by die nuwe AmaMaties Hub gehou is.
Die FVZS Instituut is ʼn inisiatief van die US se HOOP Projek en die seminaar het deel gevorm van die Maties vir Mandela-week.
Karaan het dit benadruk dat die “leierskap nie van die top politikus in die land kom nie, maar dat leierskap [eerder behoort te] kom van almal wat verantwoordelikheid neem”. Dit is egter iets wat hy glo ons land verloor het.
Tydens sy bespreking van sekere aspekte van die Nasionale Ontwikkelingsplan – Visie vir 2030 het Karaan ter illustrasie die korrupsie wat so deurdringend in die Suid-Afrikaanse samelewing geword het, belig. “Die leierskapsuitdaging is nie net die vermindering nie, maar die totale uitwissing van korrupsie. Die vlakke van korrupsie dwarsdeur die samelewing het heeltemal te hoog geword, nie net in die regering nie, maar ook in die privaatsektor,” het hy gesê. “Ons het ʼn samelewing van mense geskep wie se hele bestaan gefokus is op ‘hoe veel kan ek gryp, en hoe vinnig!’”.
Die huidige generasie blyk daarop uit te wees om die voordele van Mandela se nalatenskap te maai, maar is nie bereid om deel te neem aan die skep van positiewe verandering nie, sê Karaan. “Nasiebou en sosiale kohesie is die belangrikste komponente waarop ons toekoms gebou sal word … as jy ’n toekoms wil hê, moet jy bereid wees om dit te deel, en deel begin met mededeelsaamheid en om mededeelsaam wees,” het hy bygevoeg.
Karaan het afgesluit met bemoedigende woorde vir die Maties wat die geleentheid bygewoon het en gesê dat Suid-Afrika se ontwikkeling “lê in die hande van dié wat daardie toekoms aanvoer”.
Nóg ’n spreker by die geleentheid, dr Leslie van Rooi, Hoof van die FVZS Instituut, het gesê dat die idee van ‘studentesukses’ handel oor die lewering van “gegradueerdes wat vaardig is in terme van wat hulle kan doen – nie net as individue nie – maar ook in terme van wat hulle in die samelewing kan belê.” Hy glo graduandi-vaardighede moet aan die samelewing oordraagbaar wees, aangesien hierdie idee goed inpas by die ideaal van diens en dienslewering aan die Suid-Afrikaanse samelewing.
Van Rooi het verduidelik dat die idee agter die skenk van 67 minute van jou tyd tydens Maties vir Mandela-weekkernbelangrik is, omdat “dit ons herinner aan die rol wat ons in die samelewing kan speel”. Hy het afgesluit deur te sê dat dit dui op goed afgeronde akademiese en sosiale sukses wat Matie studente kan behaal.

Aan die einde van die seminaarformaliteite het Anina Botha, SR-voorsitter (regs), met besoekende studente van die Universiteit van Namibië gesels (Photo: Adrian Baillie-Stewart)
Studentesukses is die sentrale gemeenskaplike doelwit van die HOOP Projek en die FVZS Instituut.
Anina Botha, Voorsitter van die Studenteraad, het die aanwesiges aan Nelson Mandela se woorde herinner, naamlik dat “onderwys die magtigste wapen is wat ons kan gebruik om die wêreld te verander”. Sy glo dat opvoeding die sleutel is tot die oplossing van [baie] van die huidige ontwikkelingsbehoeftes in Suid-Afrika. Sy het bygevoeg dat Maties eienaarskap moet neem van sommige van die Suid-Afrikaanse uitdagings deur die toepassing van die beginsels van mentorskap, burgerskap en leierskap. Sy het haar toespraak gesluit met die woorde: “dis nie oor die ‘oorlewing van die fiksste nie’, maar om almal ewe fiks te maak”.
- ADRIAN BAILLIE-STEWART

July 26, 2012 


TrackbacksPingbacks
[...] the body’s 26 commissioners is Prof Mohammad Karaan, Dean of SU’s Faculty of AgriSciences. He spoke about the NDP at a public seminar of the Frederik Van Zyl Slabbert Institute for Student Leadership Development held at the new [...]