Meer nodig om leerlinge se leesvaardighede te verbeter, sê kenner

Die gebrek aan ʼn leer- en leeskultuur by sommige skole en leerders se gebrek aan toewyding dra by tot hul swak leesvermoë.

Dít was die mening van me Ydalene Coetsee, dosent en koördineerder in die Eenheid vir Afrikaans en Engels by die Taalsentrum aan die Universiteit Stellenbosch (US) op Maandag (30 Julie).

Sy was die gasspreker by die tweede gespreksessie van die US se   Skolevennootskapprojek. Die reeks van vier gespreksessies, wat deur die US se Afdeling vir Gemeenskapsinteraksie aangebied word, fokus op die deel van ervaringe van onderrig en leer in skole wat die uitdagings en moontlikhede vir nuwe pedagogie na vore bring.

Coetsee het gesê dit is skokkend dat sommige leerders by ʼn plaaslike hoërskool sukkel om te lees. Volgens haar kan dit deels toegeskryf word aan nuwe tegnologie wat lees in skole oorbodig maak. Daarbenewens het hierdie leerders nie enige boeke by die huis om te lees nie, het sy bygevoeg.

Me Ydalene Coetsee (Foto: Joanne Williams)

Baie meer moet gedoen word om leerders se geletterdheidsvlakke te verbeter, het Coetsee aangevoer. “Dit is belangrik dat leerders verstaan wat hulle lees. Beter begrip is die sleutel,” het sy gesê.

Coetzee het daarop gewys dat leerders rap-liedjies kon sing, maar gesukkel het wanneer hulle dieselfde woorde moes lees. Sy meen leerders moet verantwoordelikheid vir hul eie leesvermoë aanvaar.  “Sommige woon nie die sessies wat vir lees opsy gesit is by nie.”

Ongelukkig is die werklading van die meeste onderwysers ook hoog, en is hulle huiwerig om meer te doen, het Coetsee bygevoeg. “Ek vind dit moeilik om onderwysers te motiveer om meer te gee.”

“Mense wat leerders in afgeleë gemeenskappe help om te lees vervul ʼn baie belangrike funksie,” het dr Jerome Slamat, Senior Direkteur: Gemeenskapsinteraksie aan die US, gesê. Hy het bygevoeg dat die Universiteit ʼn verantwoordelikheid het om die skoolsisteem te help verbeter.

  • Die volgende gespreksessie vind plaas op 27 Augustus. Kontak Rolene Liebenberg, Bestuurder: Skolevennootskapprojek, by rolene@sun.ac.za of 021 8089142 vir meer inligting.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*