‘High Science”-geleentheid inspireer leerders om antwoorde vir lewensvrae te vind
Hoërskoolleerders moet volhard met vakke soos wiskunde en wetenskap sodat hulle antwoorde kan vind op belangrike vrae wat in die toekoms kan ontstaan. Hierdie feit is Woensdag, 1 Augustus weer beklemtoon tydens die mees onlangse ontmoeting van die Universiteit Stellenbosch (US) se High Science meets High School Learners (oftewel die Hoëvlak Wetenskap ontmoet Hoërskoolleerders)-inisiatief.
Die geleentheid is deur die Afdelings Navorsingsontwikkeling en Gemeenskapsinteraksie aangebied. Navorsers word uitgedaag om tydens dié sessies hul navorsing op ’n maklik verstaanbare manier aan hoërskoolleerders aan te bied en hulle só te inspireer om loopbane in navorsing en die wetenskap te oorweeg.
Prof Daniel Franken van Universiteit Stellenbosch se Departement Verloskunde en Ginekologie het tydens die mees onlangse ontmoeting ’n praatjie aangebied oor “Menslike bevrugting in die 3de Millennium”.
Prof Franken het gepraat oor die menslike bevrugtingsproses, geassisteerde voortplantingstegnologie en kloning. Hy was besig om te verduidelik dat dit hipoteties gesproke moontlik is om ’n mens te kopieer toe ’n leerder vra: “As die DNS van ’n gekloonde persoon presies ooreenstem met die persoon wie se genetiese materiaal gebruik is, wat is die impak dan op forensiese verslae?”
Mnr Mawethu Nyakatya, Koördineerder: Navorsingsvennootskappe en Kommunikasie in die Afdeling Navorsingsontwikkeling aan die US, het aan die leerders gesê dit sal eendag hulle verantwoordelikheid wees om oplossings vir kwessies van hierdie aard te vind.
“Dit is julle toekoms. Jou vraag oor forensiese verslae, dit sal eendag jou vraag wees om te antwoord,” het Nyakatya gesê.
Prof Franken het melding gemaak van die verskillende opsies vir onvrugbare paartjies en het gepraat oor die negatiewe impak wat stres, ongesonde eetgewoontes, selfone, alkohol, dwelms, nikotien, ens., op mans se vrugbaarheid het. Hy het ook geraak aan die moontlikheid om babas te maak deur iets anders as spermselle te gebruik (soos met kloning) en het skertsend afgesluit: “Vergeet van die renoster, red die spermsel!”
- Daar is ’n DVD van die geleentheid gemaak wat aan plaaslike skole beskikbaar gestel sal word.

August 3, 2012 

Geen kommentaar tot op hede nie...