US ‘tref goud’ met dokument
’n Formele dokument wat die behoeftes en bates van die gemeenskap in Kayamandi in Stellenbosch uiteensit, is Donderdag, 2 Augustus by ’n vergadering van die Praktykgemeenskap van die Afdeling vir Gemeenskapsinteraksie bekendgestel en bespreek.

Mnr Jacob du Plessis, een van die hoofnavorsers betrokke by die samestelling van ’n gemeenskapsprofiel oor Kayamandi, oorhandig die formele dokument aan prof Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel (Foto: Henry Africa)
Die doel van die Kayamandi-gemeenskapsprofiel (Community Needs Assessment and Asset Mapping Profile of Kayamandi), saamgestel deur mnr Jacob du Plessis, prof Lindy Heinecken en mnr David Olivier van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie by die Universiteit Stellenbosch (US), is om ’n naslaanbron vir die Universiteit, ander instellings, gemeenskapsorganisasies en die gemeenskap self te wees en hulle te help om ingeligte besluite te neem oor kwessies wat inwoners van die omgewing raak.
Die Praktykgemeenskap is ’n gespreksforum wat ten doel het om idees en ervaringe te deel, bewustheid van aktiwiteite te verhoog binne die Universiteit, ondersteuning te verleen, samewerking oor die dissiplines te fasiliteer, die US se gemeenskapsinteraksie as geheel te versterk en die skepping van nuwe kennis te fasiliteer.
Mnr Du Plessis het die dokument formeel aan prof Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, oorhandig.
“In Olimpiese terme kan ons sê: Ons tref goud met hierdie dokument,” het prof Smith gesê.
“Die Afdeling vir Gemeenskapsinteraksie is daartoe verbind om profiele saam te stel van gemeenskappe waar die US ’n teenwoordigheid het. Gemeenskapsprofiele van Swellendam (saamgestel deur die US se Departement Sielkunde) en Avian Park in Worcester (saamgestel deur die US se Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie) is reeds beskikbaar. ’n Profiel oor Cloetesville, ’n voorstad van Stellenbosch, volg binnekort,” het hy gesê.
“In die gees van wederkerigheid en openlike toegang sal die profiele beskikbaar gestel word aan al ons vennote in die gemeenskap, insluitend die Stellenbosch Munisipaliteit,” het hy bygevoeg.
Dr Jerome Slamat, Senior Direkteur: Afdeling vir Gemeenskapsinteraksie, het ook die belangrikheid van die dokument beklemtoon.
“Mense vra ons dikwels: ‘Maar wat sê die gemeenskap?’ Hierdie dokument is die gemeenskap se stem. Daar is beperkings, maar dit gee ons ’n aanduiding van die realiteit.”
Mnr Du Plessis, wat een van die hoofnavorsers op die projek was, het verduidelik die inligting is noodsaaklik vir akademici en studente wat oorweeg om navorsing in hierdie gemeenskap te doen, maar nie die rolspelers ken nie, nie weet van die vertroue wat in hulle (die rolspelers) gestel word nie, en nie bewus is van watter organisasies reeds by watter kwessies betrokke is nie.
“Die navorsers wou graag vasstel wie is die leiers in die gemeenskap, watter ekonomiese en besigheidsprojekte bestaan, en wat beskou die inwoners as die grootste uitdagings in hul gemeenskap. Inligting hieroor kan gemeenskapsintervensie-inisiatiewe beïnvloed en steun,” het hy in die verslag gesê.
“Dié verslag bevat die bevindings van FASE 1 van die studie – die gemeenskap se stem oor hul behoeftes en die hulpbronne wat hulle van weet en tot toegang het in die spesifieke gemeenskap. FASE 2 (wat aan die einde van Oktober voltooi sal wees) behels ’n verifikasieproses. Die finale produk sal dus ’n volledige databasis van inligting oor Kayamandi insluit.”
Van die bevindinge sluit in:
- Kerkbywoning en sport is twee van die grootste redes vir sosiale interaksie
- Baie individue in die gemeenskap word as leiers beskou. Hierdie individue kan losweg saamgegroepeer word volgens hul betrokkenheid by sport, politiek en die kerk.
- Die uitdaging in Kayamandi wat as die grootste probleem beskou word, is dienslewering (elektrisiteit, behuising, water en sanitasie). Werkloosheid en armoede, misdaad (inbrake by huise) en middelmisbruik is ook as groot probleme geïdentifiseer.
Die dokument doen ook verslag oor die betrokkenheid van individue, familie en vriende in gemeenskapsgroepe, die identifisering van groepe van vrywilligers, formele instellings wat plaaslike gemeenskappe bystaan, ekonomiese en besigheidsprojekte in die gemeenskap en organisasies en instellings wat behoeftes vervul.

August 6, 2012 
Geluk met ‘n besondere inisiatief. So ‘n databank kan van waarde wees vir gemeenskapsaksies van die S/B Munisipaliteit. As laasgenoemde (in die lig van die US/SM ooreenkoms) gekoordineer kan word, kan die uitkomste van groot omvang wees.