Universiteit Stellenbosch ingesluit in drie toonaangewende Europese beursprogramme
Die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs ingesluit in drie vername Europese beursprogramme: ema2sa, EUROSA en EU SATURN. Dié 3 programme vorm deel van die Erasmus Mundus Aksie 2-programme wat toegeken is vir die nuwe ronde van aansoeke.
Die US vorm al deel van die Erasmus Mundus Aksie 2-programme sedert die eerste program vir Suid-Afrika in 2010 toegeken is. Insluiting in hierdie programme is belangrik om mobiliteit van studente en personeel te bevorder en bied ook ‘n reeks geleenthede vir akademiese ontwikkeling. Oor die afgelope drie jaar het die universiteit 54 studente en personeel oorsee gestuur deur hierdie Erasmus Mundus-beurse – dit is bo en behalwe die bestaande uitruilooreenkomstes met vennootuniversiteite wêreldwyd.
Die US is in 2010 by die volgende Erasmus Mundus-beursprogramme ingesluit: SAPIENT, EUROSA en ema2sa. In 2011 is die aansoeke weer ingestuur, die insluiting hernu, maar slegs twee beursprogramme is toegeken: ema2sa II en EUROSA III. Die 2012 insluiting gaan voort met die EUROSA en ema2sa programme, maar sluit ook nou ‘n derde program in: EU SATURN.
Daar word veral uitgesien na die geleenthede wat die EU SATURN-program inhou. Laasgenoemde konsortium sluit nie net huidige vennote soos die Universiteit Ghent (België), Georg August Universiteit Göttingen (Duitsland) en Uppsala Universiteit (Swede) in nie, maar bied ook die geleentheid om bande te bou met nuwe vennote, insluitende die koördinerende instansie (Universiteit Groningen, in Nederland), die Universiteit van Valencia in Spanje en die Universiteit van Newcastle upon Tyne, in die VK.
Huba Boshoff, Koördineerder: Uitruilprogramme by die Nagraadse en Internasionale Kantoor (NGIK) verduidelik dat die insluiting van ‘n aantal Suid-Afrikaanse instansies in hierdie Erasmus Mundus-konsortia ook die geleentheid skep vir nasionale samewerking.
Alhoewel die aansoekproses vir die EU SATURN- en ema2sa-beurse nog nie oop is nie, kan Meesters en PhD-studente, sowel as akademiese personeel, reeds aanlyn aansoek doen vir die EUROSA-beurs (voor 14 September 2012), by hierdie webtuiste: http://www.ua.ac.be/main.aspx?c=.EUROSA.
- Meer inligting is beskikbaar by me Huba Boshoff by die NGIK : 021 808 2606 | huba@sun.ac.za
- Die webwerf vir die EU SATURN-beursprogram sal teen middel-September bekendgestel word.
- Ema2sa en EU SATURN beurse sal geadverteer word wanneer hulle oopgestel is vir aansoeke.
Deur Christopher Muller.

August 8, 2012 
The University of Stellenbosch continues to inspire confidence among students and scholars through such opportunities, which in turn widens study opportunities. This is truly a great achievement, and the Vice-Chancellor and the entire Management Team deserve our commendation. God bless you all! God bless the University of Stellenbosch!