Vroue moet hul stem kan laat hoor – Prof Amanda Gouws

Prof Amanda Gouws, lektor in die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) en Kommissaris van die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KGG), was Woensdag, 8 Augustus die gasspreker tydens die Universiteit se Vrouedagvieringe in die US-museum.

Die geleentheid is aangebied deur die Afdeling Gemeenskapsinteraksie (AGI), die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie (BNS) en die Frederik van Zyl Slabbert Instituut (FVZS Instituut) vir Studenteleierskapontwikkeling.

Prof Amanda Gouws was die gasspreker by Universiteit Stellenbosch se Vrouedagvieringe. (Foto: Justin Alberts)

Prof Gouws het gepraat oor die onderwerp: “Is multikulturalisme sleg vir vroue? Die konflik tussen universele menseregte en kultuur/tradisie.”

Dit is ook die titel van ‘n boek deur Susan Moller Okin, wat tot die gevolgtrekking gekom het dat kulturele tradisies wat vroue benadeel, verban behoort te word.

Prof Gouws het gesê die digotomie tussen universele menseregte en kultuur/tradisie kan in ‘n mate oorbrug word wanneer vroue deelneem aan prosesse wat hulle raak en hulle stem kan laat hoor.

Hoewel kulturele tradisie dikwels beskou word as iets wat in die private sfeer afspeel, voer prof. Gouws aan dat dit ook op politieke vlak aandag moet geniet.

“Die staat en die wet bepaal wie erken word en wie kry wat,” het sy gesê.

Sy het melding gemaak van die voorgestelde wetsontwerpe op tradisionele howe en gemeenskaplike grondbesit en gevra hoe hierdie wetsontwerpe wat so seksisties is dit tot in die parlement gemaak het, veral wanneer mens in ag neem dat 45% van die parlementslede vroue is. Sy het veral die wetsontwerp op tradisionele howe as ongrondwetlik beskryf en gesê dit erken tradisionele leiers, maar nie vroue nie, en bevorder ook nie gelyke deelname nie.

Haar afleiding was dat dit ‘n fout is om aan te neem vroue in die parlement sal vrouekwessies op die agenda plaas, terwyl van hulle om politieke oorlewing veg en in politieke alliansies betrokke is.

Sy het tydens vraetyd aangedui hoe belangrik aktivisme is, om te verseker dat vroue se stem gehoor kan word.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*