US bied simposium oor MIV/Vigs aan

Die Universiteit Stellenbosch (US) bied Vrydag, 17 Augustus ʼn simposium oor MIV/Vigs by die Wallenberg Navorsingsentrum op die Stellenbosse kampus aan. Dit vorm deel van die US se tweejaarlikse wetenskap ontmoet die samelewing (oftewel die science-meets-society)- reeks en begin om 08:30.

Die simposium word georganiseer deur die afdelings vir Navorsingsontwikkeling en Gemeenskapsinteraksie aan die US.

By die geleentheid sal US-navorsers op die gebied van MIV/Vigs hul navorsing deel met mense wat werk in gemeenskapsorganisasies soos die ANOVA Gesondheidsinstituut en die Stellenbosch Munisipaliteit.

Die publiek sal die geleentheid kry om oor uitdagings rakende die bestuur van MIV/Vigs te praat en ook terugvoer te gee wat weer vir navorsing gebruik kan word.

“Die simposium skep ʼn platform waar US navorsing en maatskaplike uitdagings ontmoet en mekaar beïnvloed. Dit is ʼn ander manier waarop die US hoop bring vir die samelewing,” sê mnr Mawethu Nyakatya, Koördineerder: Navorsingsvennootskappe en Kommunikasie in die Afdeling Navorsingsontwikkeling aan die US.

Dit is gemik op die uitruil van kennis tussen die Universiteit en gemeenskapsorganisasies rakende die bestuur van MIV/Vigs, voeg hy by.

Onderwerpe wat bespreek sal word sluit in die vroeë behandeling van MIV in kinders en die voorkoming van moeder-na-kind oordrag van MIV; sorg vir mense met MIV-verwante siektes; chroniese MIV-infeksies; en seksuele opvoeding en lewensoriëntering.

Die US-sprekers by die simposium sluit in prof Amanda Gouws en prof Mark Tomlinson van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, prof Mark Cotton van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en prof Rona Newmark van die Fakulteit Opvoedkunde.

  • Kontak Mawethu Nyakatya by 021 808 9185 of e-pos nyakatya@sun.ac.za vir meer inligting.
  • Sien die program hier.

Een kommentaar op “US bied simposium oor MIV/Vigs aan”

  1. Jan du Plessis August 16, 2012 om 10:11

    Die betrokkenheid by die verligting van HIV/MIV persone se tragiek is prysenswaardig.

    Maar, is die term “bestuur van MIV/Vigs” werklik wat bedoel word?

    Moet dit nie eerder woorde wees wat die volgende impliseer nie: “voorkoming van HIV/VIGS en ondersteuning van HIV/VIGS persone” ?

    As mens iets bestuur, is jy dan nie aktief besig om dit ordelik te LAAT gebeur nie ?

Lewer kommentaar

*