Oproep tot aksie by Nuwe Hoop Beraad 2012
Aktiewe burgerskap is noodsaaklik vir die jeug van vandag, veral in die lig van wesentlike veranderinge wat reg oor die wêreld plaasvind.
Dít was die strekking van dr Mamphela Ramphele, voormalige visekanselier van die Universiteit van Kaapstad (UK), se boodskap aan afgevaardigdes by die onlangse Nuwe Hoop Beraad.
Dié jaarlikse geleentheid, nou is sy derde jaar, is tydens die eerste naweek van Augustus by die UK aangebied. Deelname is vir die eerste keer uitgebrei om nie net die Universiteit Stellenbosch (US), UK en die Universiteit van Wes-Kaapland in te sluit nie, maar ook Boland Kollege, die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie en Valsbaai Kollege.
Studente-afgevaardigdes het deelgeneem aan dialoë oor belangrike kwessies wat verband hou met hoër onderwys, met die doel om met praktiese voorstelle na die regering te gaan en om te help om van die probleme op te los waarmee die stelsel tans sukkel.
Daar is vanjaar verskeie kommissies gevorm, wat die studente toegelaat het om te praat oor probleme soos werkloosheid, toegang en sukses, befondsing, transformasie en sosiale kohesie. Die debatte was lewendig, en daar is ʼn behoefte uitgespreek dat die gesprekke ná die beraad moet voortduur.
Studenteleiers is aangemoedig om nie net aan hul eie organisasies se agenda aandag te gee nie, maar om voorbrand te maak vir kwessies wat alle studente raak.
Afgevaardigdes is uitgedaag om “van hoop na aksie” te beweeg. Gabriela Carolus, ʼn afgevaardigde van die US, het gesê: “Die boodskap van hoop is nie ʼn betrokke instelling se boodskap nie, maar die boodskap van ʼn nasie en van studente wat kernkwessies in die hoër onderwys bespreek.”
US-afgevaardigdes het in April vir die beraad voorberei by ʼn werksessie wat deur die Studenteraad en die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling aangebied is. Die Instituut is ʼn inisiatief van die US se HOOP Projek, ʼn stel ontwikkelingsdoelwitte waardeur die Universiteit volhoubare oplossings soek vir Suid-Afrika en Afrika se grootste uitdagings.
Afgevaardigdes by die Nuwe Hoop Beraad 2012 het ooreengekom om ʼn dokument saam te stel met terugvoer op die Groenskrif vir Naskoolse Onderwys en Opleiding wat in Januarie vir kommentaar uitgereik is deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. – WAYDE GROEP

August 28, 2012 


Geen kommentaar tot op hede nie...